Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 59

Vier seuns wat aan Jehovah gehoorsaam was

Vier seuns wat aan Jehovah gehoorsaam was

Toe Nebukadnesar die prinse van Juda na Babilon geneem het, het hy ’n hofbeampte met die naam Aspenas oor hulle aangestel. Nebukadnesar het vir Aspenas gesê om die gesondste en slimste jong seuns onder hulle uit te soek. Hierdie jong seuns sou drie jaar lank opgelei word. Die opleiding sou hulle voorberei om belangrike manne in Babilon te word. Die seuns moes Akkadies, een van Babilon se tale, leer lees, skryf en praat. Hulle moes ook dieselfde soort kos eet wat die koning en die mense in sy paleis geëet het. Vier van hierdie seuns was Daniël, Hananja, Misael en Asarja. Aspenas het hulle nuwe Babiloniese name gegee: Beltsasar, Sadrag, Mesag en Abednego. Sou hierdie opleiding veroorsaak dat hulle ophou om Jehovah te dien?

Hierdie vier seuns was vasbeslote om gehoorsaam te wees aan Jehovah. Hulle het geweet dat hulle nie die koning se kos moes eet nie omdat Jehovah se Wet gesê het dat party van hierdie kosse onrein was. Daarom het hulle vir Aspenas gesê: ‘Moet ons asseblief nie dwing om die koning se kos te eet nie.’ Aspenas het vir hulle gesê: ‘As julle nie eet nie, en die koning sien dat julle siek lyk, sal hy my doodmaak!’

Daniël het ’n idee gehad. Hy het vir hulle oppasser gesê: ‘Gee ons asseblief tien dae lank net groente en water. Vergelyk ons dan met die seuns wat die koning se kos eet.’ Die oppasser het ingestem.

Toe die tien dae verby is, het Daniël en sy drie vriende beter as al die ander seuns gelyk. Jehovah was bly dat hulle aan hom gehoorsaam was. Hy het Daniël selfs die wysheid gegee om visioene en drome te verstaan.

Toe die opleiding klaar is, het Aspenas die seuns na Nebukadnesar toe gebring. Die koning het met Daniël, Hananja, Misael en Asarja gepraat en gesien dat hulle slimmer was en dinge vinniger verstaan het as al die ander seuns. Hy het hulle vier gekies om in sy paleis te werk. Die koning het hulle dikwels vir raad gevra oor belangrike sake. Jehovah het hulle slimmer as al die koning se slimste manne en towenaars gemaak.

Al was hulle in ’n vreemde land, het Daniël, Hananja, Misael en Asarja nie vergeet dat hulle Jehovah dien nie. Sal jy ook altyd aan Jehovah dink, selfs wanneer jou ouers nie by jou is nie?

“Laat niemand ooit op jou jonkheid neersien nie. Word eerder ’n voorbeeld vir die getroues in woord, in gedrag, in liefde, in geloof, in sedelike reinheid.”—1 Timoteus 4:12