Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 61

Hulle het geweier om neer te buig

Hulle het geweier om neer te buig

’n Ruk nadat koning Nebukadnesar die vreemde droom gehad het, het hy ’n groot beeld van goud laat maak. Hy het dit op die vlakte van Dura laat sit, en die belangrikste mense in die land, insluitende Sadrag, Mesag en Abednego, voor die beeld bymekaar laat kom. Die koning het toe beveel: ‘Sodra julle die geluid van fluite, harpe en doedelsakke hoor, moet julle voor die beeld neerbuig! Enigeen wat weier om neer te buig, sal in ’n brandende vuuroond gegooi word.’ Sou die drie Hebreërs voor die beeld neerbuig, of sou hulle net Jehovah aanbid?

Toe het die koning beveel dat die musiek moet begin. Almal het neergebuig en die beeld aanbid, behalwe Sadrag, Mesag en Abednego. Party van die manne het dit raakgesien en het vir die koning gesê: ‘Daardie drie Hebreërs het geweier om u beeld te aanbid.’ Nebukadnesar het hulle laat haal en gesê: ‘Ek gaan julle nog ’n kans gee om die beeld te aanbid. As julle dit nie doen nie, sal ek julle in die vuuroond laat gooi. Daar is geen god wat julle sal kan red nie.’ Hulle het geantwoord: ‘Ons het nie nog ’n kans nodig nie. Ons God kan ons red. Maar selfs al doen hy dit nie, o koning, sal ons die beeld nie aanbid nie.’

Nebukadnesar het baie kwaad geword. Hy het vir sy soldate gesê: ‘Maak die vuuroond sewe keer warmer as gewoonlik!’ Toe het hy hulle beveel: ‘Maak hierdie mans vas en gooi hulle in!’ Die oond was so warm dat die soldate onmiddellik gesterf het toe hulle naby die oond gekom het. Die drie Hebreërs het in die vuuroond geval. Maar toe Nebukadnesar kyk, het hy gesien dat daar vier mans in plaas van drie binne-in die oond rondloop. Hy het bang geword en sy soldate gevra: ‘Het ons nie drie mans in die vuur gegooi nie? Ek sien vier, en een van hulle lyk soos ’n engel!’

Nebukadnesar het nader aan die vuuroond gegaan en uitgeroep: ‘Kom uit, julle knegte van die Allerhoogste God!’ Almal was verbaas om te sien dat Sadrag, Mesag en Abednego uit die vuur kom. Hulle vel, hulle hare en hulle klere het nie gebrand nie en hulle het nie eens na vuur geruik nie.

Nebukadnesar het gesê: ‘Die God van Sadrag, Mesag en Abednego is magtig. Hy het sy engel gestuur en hulle gered. Daar is geen god soos hulle s’n nie.’

Is jy ook vasbeslote om, soos die drie Hebreërs, lojaal aan Jehovah te bly maak nie saak wat gebeur nie?

“Jy moet Jehovah jou God aanbid en hom alleen dien.”—Matteus 4:10