Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 62

’n Koninkryk soos ’n groot boom

’n Koninkryk soos ’n groot boom

Een nag het Nebukadnesar ’n droom gehad wat hom bang gemaak het. Hy het sy wyse manne geroep om vir hom te kom sê wat dit beteken. Maar niemand kon sy droom verduidelik nie. Uiteindelik het die koning met Daniël gepraat.

Nebukadnesar het vir Daniël gesê: ‘In my droom het ek ’n boom gesien. Dit het tot by die hemel gegroei. Dit kon van enige plek op die aarde gesien word. Dit het mooi blare en baie vrugte gehad. Diere het in die boom se skaduwee gerus, en voëls het nesgemaak in die takke. Toe het ’n engel uit die hemel gekom. Hy het uitgeroep: “Kap die boom af en kap sy takke af. Maar los sy wortelstomp in die aarde, en sit ’n band van yster en ’n band van koper daarom. Die hart van die boom sal verander van dié van ’n mens na dié van ’n wilde dier, en sewe tye sal verbygaan. Alle mense sal leer dat God die Heerser is en dat hy ’n koninkryk kan gee aan wie hy ook al wil.”’

Jehovah het vir Daniël gewys wat die droom beteken. Toe Daniël die droom verstaan, het hy bang geword. Hy het gesê: ‘O koning, ek wens dat hierdie droom oor jou vyande was, maar dis oor jou. Die groot boom wat afgekap is, is jy. Jy sal jou koninkryk verloor en jy sal gras in die veld eet soos ’n wilde dier. Maar omdat die engel gesê het dat die wortelstomp in die grond moet bly, sal jy weer koning word.’

’n Jaar later het Nebukadnesar op die plat dak van sy paleis geloop en Babilon bewonder. Hy het gesê: ‘Kyk na hierdie groot stad wat ek gebou het. Kyk hoe magtig is ek!’ Terwyl hy gepraat het, het ’n stem uit die hemel gesê: ‘Nebukadnesar! Nou het jy jou koninkryk verloor.’

Op daardie oomblik het Nebukadnesar mal geword, en hy was soos ’n wilde dier. Hy is gedwing om sy paleis te verlaat en om saam met die wilde diere in die veld te gaan bly. Nebukadnesar se hare het so lank soos ’n arend se vere geword, en sy naels was soos ’n voël se kloue.

Ná sewe jaar het Nebukadnesar weer normaal geword, en Jehovah het hom koning van Babilon gemaak. Toe het Nebukadnesar gesê: ‘Ek loof Jehovah, die Koning van die hemele. Nou weet ek dat Jehovah die Heerser is. Hy verneder trotse mense, en hy kan ’n koninkryk gee aan wie hy ook al wil.’

“Trots kom voor die ondergang, en hoogmoedigheid kom voor die val.”—Spreuke 16:18