Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 63

Die skrif teen die muur

Die skrif teen die muur

Ná ’n ruk het Belsasar die koning van Babilon geword. Een aand het hy ’n duisend van die belangrikste mense in die land na ’n fees genooi. Hy het sy diensknegte beveel om die goue bekers te bring wat Nebukadnesar uit Jehovah se tempel gevat het. Belsasar en die mense wat daar was, het uit hierdie bekers gedrink en hulle gode aanbid. Skielik het ’n man se hand verskyn en vreemde woorde op die eetsaal se muur begin skryf.

Belsasar was baie bang. Hy het sy towenaars ingeroep en hulle belowe: ‘As enigiemand kan verduidelik wat hierdie woorde beteken, sal ek hom die derde magtigste man in Babilon maak.’ Hulle het probeer, maar nie een van hulle kon die woorde verduidelik nie. Die koningin het toe ingekom en gesê: ‘Daar is ’n man met die naam Daniël wat voorheen dinge aan Nebukadnesar verduidelik het. Hy kan hierdie woorde aan jou verduidelik.’

Daniël het na die koning toe gekom. Belsasar het vir hom gesê: ‘As jy hierdie woorde kan lees en dit kan verduidelik, sal ek vir jou ’n goue ketting gee en jou die derde magtigste man in Babilon maak.’ Daniël het gesê: ‘Ek wil nie jou geskenke hê nie, maar ek sal vir jou sê wat hierdie woorde beteken. Jou pa Nebukadnesar was trots, en Jehovah het hom verneder. Jy weet van alles wat met hom gebeur het, maar jy het nie respek vir Jehovah gehad nie omdat jy wyn gedrink het uit die goue bekers wat uit Sy tempel gekom het. Daarom het God die volgende woorde geskryf: Mene, Mene, Tekel en Parsin. Hierdie woorde beteken dat die Mede en die Perse Babilon sal oorneem, en jy sal nie meer koning wees nie.’

Dit het gelyk asof niemand Babilon kon oorwin nie. Dik mure en ’n diep rivier het die stad beskerm. Maar daardie selfde aand, het die Mede en die Perse die stad aangeval. Die Persiese koning Kores het die water van die rivier weggelei sodat sy soldate tot by die hekke van die stad kon kom. Toe hulle daar aankom, was die hekke oop! Die soldate het by die stad ingestorm, dit oorgeneem en die koning doodgemaak. Toe het Kores die koning van Babilon geword.

Binne ’n jaar het Kores aangekondig: ‘Jehovah het vir my gesê om sy tempel in Jerusalem te herbou. Enigeen van sy volk wat wil help, is vry om te gaan.’ Daarom het baie Jode 70 jaar ná die vernietiging van Jerusalem teruggegaan na daardie stad toe, net soos Jehovah belowe het. Kores het die goue en silwer bekers en die ander dinge wat Nebukadnesar uit die tempel gevat het, teruggestuur. Kan jy sien hoe Jehovah Kores gebruik het om Sy volk te help?

“Sy het geval! Babilon die Grote het geval, en sy het ’n woonplek van demone geword.”—Openbaring 18:2