Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 64

Daniël in die leeukuil

Daniël in die leeukuil

’n Ander koning van Babilon was Darius die Meder. Darius het gesien dat Daniël spesiaal is. Hy het Daniël aangestel oor die belangrikste manne in die land. Hierdie manne was jaloers op Daniël en wou van hom ontslae raak. Hulle het geweet dat Daniël drie keer elke dag tot Jehovah gebid het. Hulle het toe vir Darius gesê: ‘O koning, daar behoort ’n wet te wees wat sê dat almal net tot u moet bid. Enigiemand wat ongehoorsaam is aan hierdie wet, moet in die leeukuil gegooi word.’ Darius het van hierdie idee gehou en hy het die wet onderteken.

Toe Daniël van hierdie nuwe wet uitvind, het hy dadelik na sy huis toe gegaan. Hy het voor ’n oop venster op sy knieë gegaan en tot Jehovah gebid. Die jaloerse manne het by sy huis ingestorm en hom betrap waar hy besig was om te bid. Hulle het na Darius toe gehardloop en gesê: ‘Daniël is ongehoorsaam aan u. Hy bid drie keer elke dag tot sy God.’ Darius het van Daniël gehou en wou nie hê dat hy moes doodgaan nie. Hy het die hele dag lank probeer dink aan ’n manier om Daniël te red. Maar selfs die koning kon nie ’n wet verander as hy dit klaar onderteken het nie. Hy moes vir sy manne sê om Daniël in die kuil vol gevaarlike leeus te gooi.

Daardie nag was Darius so bekommerd oor Daniël dat hy nie kon slaap nie. Die volgende oggend het hy na die kuil toe gehardloop en na Daniël geroep: ‘Het jou God jou gered?’

Darius het ’n stem gehoor. Dit was Daniël! Hy het na Darius geroep: ‘Jehovah se engel het die leeus se bekke toegemaak. Hulle het my glad nie seergemaak nie.’ Darius was baie bly! Hy het beveel dat Daniël uit die kuil gehaal moet word. Daar was nie eens ’n skrapie aan Daniël nie. Toe het die koning beveel: ‘Vat die manne wat vir Daniël beskuldig het, en gooi hulle in die kuil.’ Toe hierdie manne in die kuil gegooi is, het die leeus hulle heeltemal opgevreet.

Darius het toe die volgende bevel aan sy volk gegee: ‘Almal moet Daniël se God vrees. Hy het Daniël van die leeus gered.’

Bid jy elke dag tot Jehovah, net soos Daniël?

“Jehovah weet . . . hoe om mense wat aan hom toegewyd is, uit moeilike omstandighede te red.”—2 Petrus 2:9