Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 68

Elisabet kry ’n baba

Elisabet kry ’n baba

Meer as 400 jaar nadat die mure van Jerusalem weer gebou is, het ’n priester met die naam Sagaria en sy vrou, Elisabet, naby die stad gebly. Hulle was al lank getroud, maar hulle het nie kinders gehad nie. Eendag, terwyl Sagaria besig was om reukwerk in die heiligdom van die tempel te offer, het die engel Gabriël aan hom verskyn. Sagaria was bang, maar Gabriël het gesê: ‘Moenie bang wees nie. Ek bring vir jou goeie nuus van Jehovah af. Jou vrou, Elisabet, sal ’n seun hê, en sy naam sal Johannes wees. Jehovah het Johannes gekies om ’n spesiale werk te doen.’ Sagaria het gevra: ‘Hoe kan ek jou glo? Ek en my vrou is te oud om ’n kind te hê.’ Gabriël het gesê: ‘God het my gestuur om hierdie boodskap vir jou te gee. Maar omdat jy my nie geglo het nie, sal jy nie kan praat totdat die baba gebore is nie.’

Sagaria het langer as gewoonlik in die heiligdom gebly. Toe hy uiteindelik uitkom, wou die mense wat buite was, weet wat gebeur het. Sagaria kon nie praat nie. Hy kon net gebare met sy hande maak. Toe het die mense besef dat Sagaria ’n boodskap van God af gekry het.

’n Ruk later het Elisabet swanger geword en geboorte gegee aan ’n babaseuntjie, net soos die engel gesê het. Haar vriende en familie het na die baba kom kyk. Hulle was baie bly vir haar. Elisabet het gesê: ‘Sy naam sal Johannes wees.’ Hulle het gesê: ‘Daar is niemand in jou familie met die naam Johannes nie. Gee hom sy pa se naam, Sagaria.’ Maar Sagaria het die volgende woorde neergeskryf: ‘Sy naam is Johannes.’ Op daardie oomblik kon Sagaria weer praat! Die nuus oor die baba het oor die hele Judea versprei, en mense het gewonder: ‘Wat gaan die kind word wanneer hy groot is?’

Toe is Sagaria met heilige gees vervul. Hy het voorspel: ‘Laat Jehovah geloof word. Jehovah het Abraham belowe dat Hy ’n redder, die Messias, sou stuur om ons te red. Johannes sal ’n profeet wees en hy sal die weg vir die Messias voorberei.’

Iets spesiaals het ook met Elisabet se familielid Maria gebeur. Kom ons vind meer hieroor uit in die volgende hoofstuk.

“Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”—Matteus 19:26