Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 71

Jehovah het Jesus beskerm

Jehovah het Jesus beskerm

In ’n land oos van Israel was daar mense wat geglo het dat die sterre hulle kan lei. Een aand het ’n paar manne uit die Ooste iets in die hemel sien beweeg wat soos ’n helder ster gelyk het, en hulle het die ster toe gevolg. Die “ster” het hulle na Jerusalem gelei. Die manne het mense begin vra: ‘Waar is die kind wat koning van die Jode sal wees? Ons het gekom om voor hom neer te buig.’

Toe Herodes, die koning van Jerusalem, van ’n nuwe koning hoor, was hy baie bekommerd. Hy het die hoofpriesters gevra: ‘Waar sal hierdie koning gebore word?’ Hulle het vir hom gesê: ‘Die profete het gesê dat hy in Betlehem gebore sal word.’ Herodes het toe die manne uit die Ooste geroep en vir hulle gesê: ‘Gaan na Betlehem en vind uit waar hierdie kind is. Kom dan terug en sê vir my waar hy is. Ek wil ook voor hom gaan neerbuig.’ Maar hy het gelieg.

Die “ster” het weer begin beweeg. Die manne het dit na Betlehem toe gevolg. Die “ster” het bokant ’n huis gaan stilstaan, en die manne het ingegaan. Daar het hulle Jesus en sy ma, Maria, gekry. Hulle het voor die kind neergebuig en vir hom geskenke van goud, wierook en mirre gegee. Het Jehovah regtig hierdie manne gestuur om Jesus te vind? Nee.

Daardie nag het Jehovah vir Josef in ’n droom gesê: ‘Herodes wil Jesus doodmaak. Neem jou vrou en jou seun en vlug na Egipte toe. Bly daar totdat ek vir jou sê dat dit veilig is om terug te kom.’ Josef en sy gesin het dadelik na Egipte toe gegaan.

Jehovah het vir die manne uit die Ooste gesê dat hulle nie na Herodes toe moet teruggaan nie. Toe Herodes besef dat hulle nie gaan terugkom nie, was hy baie kwaad. Omdat hy Jesus nie kon kry nie, het hy beveel dat al die seuntjies in Betlehem wat so oud soos Jesus was, doodgemaak moet word. Maar Jesus was veilig, ver weg in Egipte.

’n Paar jaar later het Herodes gesterf. Jehovah het vir Josef gesê: ‘Dit is nou veilig vir julle om terug te gaan.’ Josef, Maria en Jesus het toe teruggegaan na Israel en in die stad Nasaret gaan bly.

“So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan . . . en dit sal beslis die doel bereik waarvoor ek dit gestuur het.”—Jesaja 55:11