Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 72

Die jong Jesus

Die jong Jesus

Josef en Maria het in Nasaret gewoon saam met Jesus en hulle ander seuns en dogters. Josef het vir sy gesin gesorg deur houtwerk te doen, en hy het hulle oor Jehovah en sy Wet geleer. Die gesin het gereeld na die sinagoge toe gegaan om te aanbid. Hulle het ook elke jaar na Jerusalem toe gegaan vir die Pasga.

Toe Jesus 12 jaar oud was, het sy gesin soos gewoonlik die lang pad na Jerusalem toe aangepak. Die stad was vol mense wat gekom het om die Pasga te vier. Ná die tyd het Josef en Maria weer in die pad geval huis toe en hulle het gedink dat Jesus tussen die groep mense is wat saam met hulle reis. Maar toe hulle hom tussen hulle familielede soek, kon hulle hom nie kry nie.

Hulle het weer teruggegaan na Jerusalem toe en drie dae lank na hulle seun gesoek. Uiteindelik het hulle na die tempel toe gegaan. Hulle het Jesus daar gekry. Hy het in die middel van die groep onderrigters gesit, mooi na hulle geluister en goeie vrae gevra. Die onderrigters was so beïndruk met Jesus dat hulle hom vrae begin vra het. En hulle was verbaas oor sy antwoorde. Hulle kon sien dat hy Jehovah se Wet verstaan het.

Josef en Maria was baie bekommerd. Maria het gesê: ‘Kind, ons het oral na jou gesoek! Waar was jy?’ Jesus het gesê: ‘Het julle nie geweet dat ek hier in my Vader se huis moet wees nie?’

Jesus het toe saam met sy ouers na hulle huis in Nasaret gegaan. Josef het Jesus geleer om houtwerk te doen. Watter soort mens dink jy was Jesus toe hy ’n jong man was? Terwyl Jesus grootgeword het, het hy al hoe meer geleer en verstandig opgetree. God en mense het ook al hoe liewer vir hom geword.

“Dit is vir my ’n vreugde, o my God, om u wil te doen, en u wet is diep binne-in my.”—Psalm 40:8