Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 73

Johannes berei die weg voor

Johannes berei die weg voor

Johannes, die seun van Sagaria en Elisabet, het ’n profeet geword toe hy groot is. Jehovah het Johannes gebruik om mense te leer dat die Messias binnekort sou kom. In plaas daarvan om mense in die sinagoges of in dorpe te leer, het Johannes in die wildernis gepreek. Mense het van Jerusalem en van regoor Judea af gekom om by Johannes te leer. Hy het hulle geleer dat hulle moet ophou om slegte dinge te doen as hulle God gelukkig wil maak. Nadat hulle na Johannes geluister het, was baie mense jammer oor hulle sondes en is hulle deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop.

Johannes het ’n eenvoudige lewe gelei. Hy het klere gedra wat van kameelhare gemaak was en hy het sprinkane en wilde heuning geëet. Wat Johannes gedoen en gesê het, het mense nuuskierig gemaak. Selfs die trotse Fariseërs en Sadduseërs het gekom om hom te sien. Johannes het vir hulle gesê: ‘Julle moet verander en berou toon. Moenie dink dat julle spesiaal is net omdat julle sê julle is kinders van Abraham nie. Dit beteken nie dat julle kinders van God is nie.’

Baie mense het na Johannes toe gekom en vir hom gevra: ‘Wat moet ons doen om God gelukkig te maak?’ Johannes het vir die Jode gesê: ‘As jy twee jasse het, gee een vir iemand wat dit regtig nodig het.’ Weet jy hoekom hy dit gesê het? Hy wou hê dat sy dissipels moes weet dat hulle mense moet liefhê as hulle God gelukkig wil maak.

Johannes het vir die belastinggaarders gesê: ‘Wees eerlik, en moet niemand bedrieg nie.’ Hy het vir die soldate gesê: ‘Moenie toelaat dat enigiemand julle omkoop nie, en moenie lieg nie.’

Priesters en Leviete het ook na Johannes toe gekom en vir hom gevra: ‘Wie is jy? Almal wil weet.’ Johannes het gesê: ‘Ek is ’n stem in die wildernis wat mense na Jehovah toe lei, net soos Jesaja voorspel het.’

Mense het van die dinge gehou wat Johannes hulle geleer het. Baie mense het gewonder of Johannes dalk die Messias is. Maar hy het vir hulle gesê: ‘Iemand baie groter as ek gaan binnekort kom. Ek is nie eens goed genoeg om sy sandale los te maak nie. Ek doop met water, maar hy sal met heilige gees doop.’

“Hierdie man het gekom as ’n getuie om van die lig te getuig, sodat alle soorte mense deur middel van hom sou glo.”—Johannes 1:7