Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 81

Die Bergpredikasie

Die Bergpredikasie

Nadat Jesus die 12 apostels gekies het, het hy teen die berg afgekom na ’n plek waar ’n groot skare bymekaar was. Hulle het van Galilea, Judea, Tirus, Sidon, Sirië en van anderkant die Jordaanrivier af gekom. Hulle het siek mense gebring, sowel as party wat deur demone beheer is. Jesus het hulle almal gesond gemaak. Toe het hy op die berg gaan sit en begin praat. Hy het verduidelik wat ons moet doen as ons vriende van God wil wees. Ons moet erken dat ons Jehovah nodig het en leer om hom lief te hê. Maar ons kan nie vir God lief wees as ons nie vir ander mense lief is nie. Ons moet vriendelik en eerlik met almal wees, selfs met ons vyande.

Jesus het gesê: ‘Dit is nie genoeg om net jou vriende lief te hê nie. Jy moet ook jou vyande liefhê en mense uit jou hart vergewe. As iemand vir jou kwaad is, gaan dadelik na hom toe en sê dat jy jammer is. Behandel ander mense soos jy wil hê hulle jou moet behandel.’

Jesus het die mense ook goeie raad gegee oor materiële dinge. Hy het gesê: ‘Dis belangriker om Jehovah se vriend te wees as om baie geld te hê. ’n Dief kan jou geld steel, maar niemand kan jou vriendskap met Jehovah steel nie. Hou op om jou te bekommer oor wat jy gaan eet, drink of aantrek. Kyk na die voëls. God maak altyd seker dat hulle genoeg het om te eet. Jy sal jou lewe nie een dag langer maak deur jou te bekommer nie. Onthou, Jehovah weet wat jy nodig het.’

Die skare het nog nooit enigiemand hoor praat soos Jesus gepraat het nie. Hulle godsdiensleiers het nie hierdie dinge vir hulle geleer nie. Hoekom was Jesus so ’n goeie onderwyser? Omdat alles wat hy vir mense geleer het, van Jehovah af gekom het.

“Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry.”—Matteus 11:29