Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 84

Jesus loop op water

Jesus loop op water

Jesus kon nie net siek mense gesond maak en dooie mense weer laat lewe nie. Hy kon ook die wind en die reën beheer. Nadat Jesus op ’n berg gebid het, het hy afgekyk na die See van Galilea en gesien dat daar ’n storm is. Sy apostels was in hulle boot en het gesukkel om teen die wind te roei. Jesus het afgekom en op die water na hulle boot toe begin loop. Toe die apostels iemand op die water sien loop, het hulle bang geword. Maar Jesus het vir hulle gesê: ‘Dit is ek. Moenie bang wees nie.’

Petrus het gesê: ‘Here, as dit u is, beveel my om na u toe te kom.’ Jesus het vir Petrus gesê: ‘Kom na my toe.’ Terwyl die storm om hulle aan die gang was, het Petrus uit die boot geklim en op die water na Jesus toe geloop. Maar toe Petrus naby Jesus kom, het hy na die storm gekyk en bang geword. Hy kon voel hoe hy begin sink. Petrus het geskree: ‘Here, red my!’ Jesus het sy hand gegryp en vir hom gesê: ‘Hoekom het jy begin twyfel? Waar is jou geloof?’

Jesus en Petrus het in die boot geklim, en die storm het dadelik opgehou. Kan jy jou voorstel hoe die apostels gevoel het? Hulle het gesê: ‘U is regtig God se Seun.’

Dit was nie die enigste keer dat Jesus die weer beheer het nie. Op ’n ander keer, toe Jesus en sy apostels besig was om na die anderkant van die see te vaar, het Jesus agter in die boot gaan slaap. Terwyl hy geslaap het, het daar ’n groot storm opgekom. Groot golwe het oor die boot gebreek, en die boot het vol water geword. Die apostels het Jesus wakker gemaak en geskree: ‘Leermeester, ons gaan sterf! Help ons!’ Jesus het opgestaan en vir die see gesê: ‘Wees stil!’ Dadelik het die wind en die see kalm geword. Jesus het vir sy apostels gevra: ‘Waar is julle geloof?’ Hulle het vir mekaar gesê: ‘Selfs die wind en die see luister na hom.’ Die apostels het geleer dat hulle vir niks bang hoef te wees as hulle heeltemal op Jesus vertrou nie.

“Waar sou ek wees as ek nie geloof gehad het dat ek Jehovah se goedheid in die land van die lewendes sal sien nie?”—Psalm 27:13