Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 86

Jesus maak Lasarus weer lewend

Jesus maak Lasarus weer lewend

Jesus het drie baie goeie vriende gehad wat in Betanië gebly het. Hulle was Lasarus en sy twee susters, Maria en Marta. Eendag, terwyl Jesus aan die anderkant van die Jordaan was, het Maria en Marta vir hom ’n dringende boodskap gestuur: ‘Lasarus is baie siek. Kom asseblief gou!’ Maar Jesus het nie dadelik gegaan nie. Hy het twee dae gewag en toe vir sy dissipels gesê: ‘Kom ons gaan Betanië toe. Lasarus slaap, en ek gaan om hom wakker te maak.’ Die apostels het gesê: ‘Dis goed dat Lasarus slaap, dit sal hom help om gesond te word.’ Maar Jesus het reguit vir hulle gesê: ‘Lasarus het gesterf.’

Toe Jesus in Betanië aankom, was Lasarus al reeds vier dae lank begrawe. Baie mense het gekom om Marta en Maria te troos. Toe Marta hoor dat Jesus gekom het, het sy na hom toe gehardloop. Sy het gesê: ‘Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie.’ Jesus het vir haar gesê: ‘Jou broer sal weer lewe. Glo jy dit, Marta?’ Sy het gesê: ‘Ek glo dat hy in die opstanding sal opstaan.’ Jesus het vir haar gesê: ‘Ek is die opstanding en die lewe.’

Toe het Marta na Maria toe gegaan en vir haar gesê: ‘Jesus is hier.’ Maria het na Jesus toe gehardloop, en die groep mense het haar gevolg. Sy het by sy voete neergeval, en sy kon nie ophou huil nie. Sy het gesê: ‘Here, as u hier was, sou ons broer nog gelewe het!’ Jesus het gesien dat sy baie hartseer is en het ook begin huil. Toe die mense sy trane sien, het hulle gesê: ‘Kyk hoe lief was Jesus vir Lasarus.’ Maar party het gewonder: ‘Hoekom het hy nie sy vriend gered nie?’ Wat sou Jesus volgende doen?

Jesus het na die graf toe gegaan, waar ’n groot klip voor die ingang was. Hy het beveel: ‘Rol die klip weg.’ Marta het gesê: ‘Maar dis al vier dae! Sy liggaam sal stink.’ Hulle het die klip weggerol, en Jesus het gebid: ‘Vader, dankie dat u my hoor. Ek weet dat u my altyd hoor, maar ek praat hardop sodat hierdie mense kan weet dat u my gestuur het.’ Toe het hy in ’n harde stem uitgeroep: ‘Lasarus, kom uit!’ Iets wonderliks het gebeur: Lasarus het uit die graf gekom, nog toegedraai in lappe. Jesus het gesê: ‘Maak hom los en laat hom gaan.’

Baie mense wat dit gesien het, het geloof in Jesus gestel. Maar party het weggegaan en die Fariseërs daarvan gaan vertel. Van toe af wou die Fariseërs vir Lasarus en Jesus doodmaak. Een van die 12 apostels, Judas Iskariot, het in die geheim na die Fariseërs gegaan en gevra: ‘Hoeveel sal julle my betaal as ek julle help om Jesus te vang?’ Hulle het gesê dat hulle hom 30 silwerstukke sal gee. Judas het toe na ’n manier begin soek om Jesus aan die Fariseërs oor te gee.

“Die ware God is vir ons ’n God wat red, en Jehovah die Soewereine Heer kan ’n mens van die dood red.”—Psalm 68:20