Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 87

Jesus se laaste ete

Jesus se laaste ete

Die Jode het die Pasga elke jaar op die 14de dag van die maand Nisan gevier. Dit was sodat hulle kon onthou hoe Jehovah hulle uit slawerny in Egipte bevry het en na die Beloofde Land toe gebring het. In die jaar 33 HJ het Jesus en sy apostels die Pasga in ’n bo-kamer in Jerusalem gevier. Aan die einde van die ete het Jesus gesê: ‘Een van julle gaan my verraai.’ Die apostels was geskok en het Jesus gevra: ‘Wie is dit?’ Jesus het gesê: ‘Dit is die man vir wie ek hierdie brood gee.’ Toe gee hy ’n stukkie brood vir Judas Iskariot. Judas het onmiddellik opgestaan en weggegaan.

Jesus het toe gebid, van die brood in stukkies gebreek en dit vir die apostels wat agtergebly het, gegee. Hy het gesê: ‘Eet hierdie brood. Dit stel my liggaam voor wat ek vir julle sal gee.’ Hy het toe weer gebid en die wyn vir die apostels gegee. Hy het gesê: ‘Drink hierdie wyn. Dit stel my bloed voor wat ek sal gee sodat sondes vergewe kan word. Ek belowe dat julle konings saam met my in die hemel sal wees. Doen dit elke jaar om my te onthou.’ Jesus se volgelinge kom vandag nog elke jaar op hierdie aand bymekaar. Hierdie vergadering word nou die Here se Aandmaal genoem.

Ná die ete het die apostels gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Maar Jesus het vir hulle gesê: ‘Die een wat die minste van homself dink, is die grootste onder julle.

‘Julle is my vriende. Ek vertel julle alles wat my Vader wil hê ek julle moet vertel. Binnekort gaan ek na my Vader in die hemel toe. Julle sal agterbly, en mense sal weet dat julle my dissipels is omdat julle lief is vir mekaar. Julle moet vir mekaar lief wees net soos ek lief was vir julle.’

Toe het Jesus gebid en Jehovah gevra om al die dissipels te beskerm. Hy het Jehovah gevra om hulle te help om in vrede saam te werk. Hy het gebid dat Jehovah se naam geheilig moet word. Toe het Jesus en sy apostels lofliedere tot Jehovah gesing en buitetoe gegaan. Jesus sou binnekort gevange geneem word.

“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die Koninkryk aan julle te gee.”—Lukas 12:32