Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 88

Jesus word gevange geneem

Jesus word gevange geneem

Jesus en die apostels het deur die Kidronvallei na die Olyfberg geloop. Dit was ná middernag, en dit was volmaan. Toe hulle by die tuin van Getsemane aankom, het Jesus vir hulle gesê: ‘Wag hier en bly wakker.’ Daarna het Jesus ’n entjie in die tuin in geloop en op sy knieë gegaan. Hy was baie ontsteld en het tot Jehovah gebid: ‘Laat u wil geskied.’ Jehovah het toe ’n engel gestuur om Jesus te versterk. Daarna het Jesus teruggegaan na sy apostels toe en drie van hulle aan die slaap gekry. Hy het gesê: ‘Word wakker! Dis nie nou die tyd om te slaap nie! Die uur het gekom dat ek aan my vyande oorgegee moet word.’

Kort daarna het Judas daar aangekom met ’n groot groep mans wat swaarde en stokke by hulle gehad het. Hy het geweet waar om Jesus te kry omdat hulle al baie na hierdie tuin toe gekom het. Judas het vir die soldate gesê dat hy hulle sou wys wie Jesus is. Hy het reguit na Jesus toe geloop en gesê: ‘Goeiedag, Leermeester.’ Toe het hy Jesus gesoen. Jesus het gesê: ‘Judas, verraai jy my met ’n soen?’

Jesus het nie probeer wegkruip nie en het die groep manne gevra: ‘Na wie soek julle?’ Hulle het gesê: ‘Jesus die Nasarener.’ Toe het hy geantwoord: ‘Dit is ek.’ Die manne was verstom en het op die grond geval. Jesus het hulle weer gevra: ‘Na wie soek julle?’ Weer het hulle gesê: ‘Jesus die Nasarener.’ Jesus het geantwoord: ‘Ek het vir julle gesê dat dit ek is. Laat hierdie manne gaan.’

Toe Petrus besef wat besig is om te gebeur, het hy ’n swaard gevat en Malgus, ’n slaaf van die hoëpriester, se oor afgekap. Maar Jesus het aan die man se oor geraak en hom gesond gemaak. Toe het hy vir Petrus gesê: ‘Sit jou swaard weg. As jy met ’n swaard veg, sal jy met ’n swaard doodgemaak word.’ Die soldate het Jesus gegryp en sy hande vasgebind, en die apostels het weggehardloop. Toe het die groep manne hom na die hoofpriester, Annas, toe gevat. Annas het Jesus ondervra en hom na die huis van die hoëpriester, Kajafas, toe gestuur. Maar wat het met die apostels gebeur?

“In die wêreld sal julle swaarkry, maar skep moed! Ek het die wêreld oorwin.”—Johannes 16:33