Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 89

Petrus sê dat hy Jesus nie ken nie

Petrus sê dat hy Jesus nie ken nie

Toe Jesus saam met sy apostels in die bo-kamer was, het hy vir hulle gesê: ‘Julle almal sal my vanaand verlaat.’ Petrus het gesê: ‘Nie ek nie! Selfs al verlaat die ander u, sal ek u nooit verlaat nie.’ Maar Jesus het vir Petrus gesê: ‘Voordat ’n haan kraai, sal jy drie keer sê dat jy my nie ken nie.’

Toe die soldate Jesus na Kajafas se huis toe vat, het die meeste van die apostels weggehardloop. Maar twee van hulle het hom saam met ’n groep mense gevolg. Een van hulle was Petrus. Hy het in die binnehof van Kajafas se huis ingegaan en by die vuur gaan staan. ’n Diensmeisie het Petrus se gesig in die lig gesien en gesê: ‘Ek ken jou! Jy was saam met Jesus!’

Petrus het gesê: ‘Nee, ek was nie! Ek weet nie waarvan jy praat nie!’ Hy het na die hek toe geloop. Maar nie lank daarna nie het ’n ander diensmeisie hom gesien en vir die mense gesê: ‘Hierdie man was saam met Jesus!’ Petrus het gesê: ‘Ek ken Jesus nie eens nie!’ ’n Man het toe gesê: ‘Jy is een van hulle! Ek kan uit jou manier van praat hoor dat jy van Galilea afkom, nes Jesus.’ Maar Petrus het gesweer: ‘Ek ken hom nie!’

Op daardie oomblik het ’n haan gekraai. Petrus het gesien hoe Jesus draai en na hom kyk. Toe onthou hy wat Jesus gesê het. Hy het toe buitetoe gegaan en bitterlik gehuil.

Intussen het die Sanhedrin in Kajafas se huis bymekaargekom om Jesus te verhoor. Hulle het al klaar besluit dat hulle Jesus gaan doodmaak, en nou het hulle net ’n rede gesoek. Maar hulle kon niks teen hom kry nie. Uiteindelik het Kajafas reguit vir Jesus gevra: ‘Is jy die Seun van God?’ Jesus het gesê: ‘Ek is.’ Kajafas het toe gesê: ‘Ons het nie enige ander bewyse nodig nie. Dit is laster!’ Die hof het saamgestem: ‘Hierdie man moet sterf.’ Hulle het Jesus geklap, op hom gespoeg, sy oë toegebind, hom geslaan en gesê: ‘As jy ’n profeet is, sê vir ons wie jou geslaan het!’

Toe dit begin lig word, het hulle Jesus na die saal van die Sanhedrin gevat en hom weer gevra: ‘Is jy die Seun van God?’ Jesus het geantwoord: ‘Julle sê dat ek is.’ Toe het hulle hom skuldig bevind aan laster en hom gevat na die paleis van Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur. Wat het toe gebeur? Kom ons vind uit.

‘Die uur het gekom wanneer elkeen van julle na sy eie huis verstrooi sal word en my alleen sal laat. Maar ek is nie alleen nie, want die Vader is met my.’—Johannes 16:32