Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 92

Jesus verskyn aan die vissermanne

Jesus verskyn aan die vissermanne

’n Ruk nadat Jesus aan die apostels verskyn het, het Petrus besluit om op die See van Galilea te gaan visvang. Tomas, Jakobus, Johannes en ’n paar ander dissipels het saam met hom gegaan. Hulle was die hele nag op die see, maar hulle het niks gevang nie.

Vroeg die volgende oggend het hulle ’n man gesien wat op die strand gestaan het. Hy het oor die water vir hulle geskree: ‘Het julle enige vis gevang?’ Hulle het vir hom gesê: ‘Nee!’ Die man het gesê: ‘Gooi julle net aan die anderkant van die boot uit.’ Toe hulle dit doen, het die net so vol vis geword dat hulle dit nie kon intrek nie. Johannes het skielik besef dat die man Jesus is en gesê: ‘Dit is die Here!’ Petrus het dadelik in die water gespring en strand toe geswem. Die ander dissipels het hom met die boot gevolg.

Toe hulle by die strand aankom, het hulle brood en vis oor ’n vuur sien braai. Jesus het vir hulle gesê om ook van die vis wat hulle gevang het, te braai. Toe het hy gesê: ‘Kom eet.’

Nadat hulle klaar geëet het, het Jesus vir Petrus gevra: ‘Is jy liewer vir my as vir visvang?’ Petrus het gesê: ‘Ja, Here, u weet ek is.’ Jesus het gesê: ‘Gee dan my lammers kos.’ Jesus het weer gevra: ‘Petrus, is jy lief vir my?’ Petrus het gesê: ‘Here, u weet ek is.’ Jesus het gesê: ‘Kyk soos ’n herder na my skapies.’ Jesus het ’n derde keer gevra. Petrus was baie hartseer. Hy het gesê: ‘Here, u weet alles. U weet dat ek vir u lief is.’ Jesus het gesê: ‘Gee my skapies kos.’ Toe het hy vir Petrus gesê: ‘Hou aan om my te volg.’

“[Jesus] het vir hulle gesê: ‘Kom agter my aan, en ek sal julle vissers van mense maak.’ Hulle het dadelik hulle nette gelos en hom gevolg.”—Matteus 4:19, 20