Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 95

Niks kon hulle keer nie

Niks kon hulle keer nie

’n Man wat nie kon loop nie, het elke dag by die tempel se hek gesit en bedel. Een middag het hy gesien hoe Petrus en Johannes by die tempel ingaan. Hy het vir hulle gesê: ‘Gee my asseblief iets.’ Petrus het gesê: ‘Ek het iets beter as geld om vir jou te gee. In die naam van Jesus, staan op en loop!’ Toe het Petrus hom opgehelp, en die man het begin loop! Die skare was so bly oor hierdie wonderwerk dat baie mense begin glo het.

Maar die priesters en Sadduseërs was kwaad. Hulle het die apostels gegryp, hulle na die hof toe geneem en vir hulle gevra: ‘Wie het julle die krag gegee om hierdie man gesond te maak?’ Petrus het gesê: ‘Ons het krag ontvang van Jesus Christus, wat deur julle doodgemaak is.’ Die godsdiensleiers het geskree: ‘Hou op om oor Jesus te praat!’ Maar die apostels het gesê: ‘Ons moet oor hom praat. Ons sal nie ophou nie.’

Nadat Petrus en Johannes vrygelaat is, het hulle na die ander dissipels toe gegaan en vir hulle vertel wat gebeur het. Hulle het saam gebid en Jehovah gevra: ‘Help ons asseblief om dapper te wees sodat ons kan aanhou om u werk te doen.’ Jehovah het vir hulle heilige gees gegee, en hulle het aangehou om te preek en mense gesond te maak. Al hoe meer mense het gelowiges geword. Die Sadduseërs was so jaloers dat hulle die apostels gevat en in die tronk gegooi het. Maar gedurende die nag het Jehovah ’n engel gestuur om die tronk se deure oop te maak. Die engel het vir die apostels gesê: ‘Gaan terug na die tempel toe en gaan leer die mense daar.’

Die volgende oggend is daar vir die Sanhedrin, die Jode se hof wat uit godsdiensleiers bestaan het, gesê: ‘Die tronk is nog steeds gesluit, maar die manne wat gevange geneem is, is nie meer daar nie! Hulle is in die tempel besig om die mense te leer!’ Die apostels is weer gevang en voor die Sanhedrin gebring. Die hoëpriester het gesê: ‘Ons het julle beveel om nie oor Jesus te praat nie!’ Maar Petrus het geantwoord: ‘Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.’

Die godsdiensleiers was so kwaad dat hulle die apostels wou doodmaak. Maar ’n Fariseër met die naam Gamaliël het opgestaan en gesê: ‘Wees versigtig! God is dalk met hierdie manne. Wil julle regtig teen God baklei?’ Hulle het na hom geluister. Nadat hulle die apostels met stokke geslaan het, het hulle hulle weer beveel om op te hou preek en hulle toe laat gaan. Maar dit het die apostels nie gekeer nie. Hulle het aangehou om die goeie nuus dapper in die tempel en van huis tot huis te verkondig.

“Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:29