Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 96

Jesus kies Saulus

Jesus kies Saulus

Saulus was ’n Romeinse burger wat in Tarsus gebore is. Hy was ’n Fariseër wat die Joodse Wet goed geken het, en hy het Christene gehaat. Hy het Christenmans en Christenvrouens uit hulle huise gesleep en hulle in die tronk gegooi. Hy het selfs gestaan en kyk hoe ’n woedende groep mense die dissipel Stefanus met klippe doodgooi.

Maar Saulus was nie daarmee tevrede om net Christene in Jerusalem te arresteer nie. Hy het gevra dat die hoëpriester hom na die stad Damaskus toe stuur sodat hy die Christene daar kon soek en vang. Toe Saulus naby die stad kom, het daar skielik ’n helder lig om hom geskyn, en hy het op die grond neergeval. Hy het ’n stem hoor sê: ‘Saulus, hoekom vervolg jy my?’ Saulus het gevra: ‘Wie is jy?’ Die stem het geantwoord: ‘Ek is Jesus. Gaan na Damaskus toe, en daar sal jy uitvind wat jy moet doen.’ Saulus het dadelik blind geword en iemand moes hom aan die hand na die stad toe lei.

In Damaskus was daar ’n getroue Christen met die naam Ananias. Jesus het vir hom in ’n visioen gesê: ‘Gaan na Judas se huis in die straat wat Reguit genoem word en soek daar na Saulus.’ Ananias het gesê: ‘Here, ek het al baie van hierdie man gehoor! Hy gooi u dissipels in die tronk!’ Maar Jesus het vir hom gesê: ‘Gaan na hom toe. Ek het Saulus gekies om die goeie nuus aan baie nasies te verkondig.’

Ananias het toe vir Saulus gekry en vir hom gesê: ‘Saulus, broer, Jesus het my gestuur om jou oë oop te maak.’ Saulus kon skielik weer sien. Hy het oor Jesus geleer en sy volgeling geword. Omdat Saulus nou ’n gedoopte Christen was, het hy saam met sy mede- Christene in die Sinagoges begin preek. Dink net hoe geskok die Jode was toe hulle sien dat Saulus besig was om die mense oor Jesus te leer. Hulle het gesê: ‘Is dit nie dieselfde man wat Jesus se dissipels vervolg het nie?’

Saulus het drie jaar lank vir die mense in Damaskus gepreek. Die Jode het Saulus gehaat en planne gemaak om hom dood te maak. Maar die broers het hiervan uitgevind en hom gehelp om te ontsnap. Hulle het hom in ’n mandjie gesit en deur ’n opening in die stadsmuur laat afsak.

Toe Saulus in Jerusalem kom, het hy saam met die broers daar probeer werk. Maar hulle was bang vir hom. ’n Liefdevolle dissipel met die naam Barnabas het Saulus na die apostels toe gebring en hulle oortuig dat Saulus regtig verander het. Saulus het die goeie nuus ywerig saam met die gemeente in Jerusalem begin verkondig. Hy is later Paulus genoem.

“Christus Jesus het in die wêreld ingekom om sondaars te red. En ek is die ergste van hulle almal.”—1 Timoteus 1:15