Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 97

Kornelius ontvang heilige gees

Kornelius ontvang heilige gees

In Sesarea was daar ’n belangrike Romeinse leëroffisier met die naam Kornelius. Al was hy nie ’n Jood nie, het die Jode hom gerespekteer. Hy was vrygewig en het mense gehelp wat arm was en swaargekry het. Kornelius het in Jehovah geglo en gereeld tot hom gebid. Eendag het ’n engel aan Kornelius verskyn en vir hom gesê: ‘God het jou gebede gehoor. Stuur nou mans na die plek Joppe, waar Petrus bly, en vra hom om na jou toe te kom.’ Kornelius het onmiddellik drie mans na Joppe toe gestuur, wat omtrent 50 kilometer suid daarvandaan was.

Intussen het Petrus, wat in Joppe was, ’n visioen gehad. Hy het diere gesien wat nie deur Jode geëet mag word nie, en hy het ’n stem gehoor wat vir hom gesê het om dit te eet. Petrus het geweier en gesê: ‘Maar ek het nog nooit in my lewe ’n onrein dier geëet nie.’ Die stem het toe vir hom gesê: ‘Moenie hierdie diere onrein noem nie. God het hulle rein gemaak.’ Die stem het ook vir Petrus gesê: ‘Daar is drie mans by jou deur. Gaan saam met hulle.’ Petrus het na die deur toe gegaan en die mans gevra hoekom hulle daar is. Hulle het geantwoord: ‘Ons is deur Kornelius, ’n Romeinse leëroffisier, gestuur. Jy moet na sy huis in Sesarea kom.’ Petrus het die mans genooi om daardie aand daar te slaap. Die volgende dag het hy saam met die mans en party van die broers uit Joppe na Sesarea toe gegaan.

Toe Kornelius uiteindelik vir Petrus sien, het hy op sy knieë gegaan. Maar Petrus het gesê: ‘Staan op! Ek is net ’n mens, soos jy. God het vir my gesê dat ek na jou huis moet kom, al gaan Jode nie in die huise van heidene in nie. Sê asseblief vir my, hoekom het jy my hierheen laat kom?’

Kornelius het vir Petrus gesê: ‘Vier dae gelede het ek tot God gebid, en toe het ’n engel vir my gesê dat ek jou moet laat roep. Leer ons asseblief Jehovah se woorde.’ Petrus het gesê: ‘Ek het geleer dat God nie partydig is nie. Hy aanvaar enigiemand wat hom wil aanbid.’ Petrus het hulle baie dinge oor Jesus geleer. Toe het die heilige gees oor Kornelius gekom en oor die mense wat saam met hom was, en hulle almal is gedoop.

“In elke nasie is die mens wat [God] vrees en doen wat reg is, vir hom aanvaarbaar.”—Handelinge 10:35