Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 98

Die Christelike godsdiens word aan baie nasies verkondig

Die Christelike godsdiens word aan baie nasies verkondig

Die apostels het Jesus se opdrag gehoorsaam om die goeie nuus regoor die aarde te verkondig. In die jaar 47 HJ het die broers in Antiogië vir Paulus en Barnabas op ’n predikingsreis gestuur. Hierdie twee ywerige predikers het oral in Klein-Asië na plekke soos Derbe, Listra en Ikonium gegaan.

Paulus en Barnabas het vir almal gepreek, maak nie saak of hulle ryk of arm, jonk of oud was nie. Baie mense het die waarheid oor Christus aanvaar. Toe Paulus en Barnabas vir Sergius Paulus, die goewerneur van Siprus, gepreek het, het ’n towenaar hulle probeer keer. Paulus het vir die towenaar gesê: ‘Jehovah is teen jou.’ Die towenaar het onmiddellik blind geword. Toe goewerneur Paulus dit sien, het hy ’n gelowige geword.

Paulus en Barnabas het oral van huis tot huis, in markte, terwyl hulle gereis het en in sinagoges gepreek. Toe hulle ’n man wat verlam was in Listra gesond maak, het die mense wat die wonderwerk gesien het, gedink dat hulle gode is en probeer om hulle te aanbid. Maar Paulus en Barnabas het hulle gekeer en gesê: ‘Aanbid net vir God! Ons is net mense.’ Toe het daar Jode gekom wat die mense teen Paulus laat draai het. Die mense het hom met klippe gegooi, hom uit die stad gesleep en hom daar gelos omdat hulle gedink het dat hy dood is. Maar Paulus het nog gelewe! Die broers het hom dadelik kom help en hom terug na die stad toe geneem. Later het Paulus teruggegaan Antiogië toe.

In die jaar 49 HJ het Paulus op nog ’n reis gegaan. Nadat hy teruggegaan het om die broers in Klein-Asië te besoek, het hy die goeie nuus selfs verder na Europa geneem. Hy het na Atene, Efese, Filippi, Tessalonika en ander plekke gegaan. Silas, Lukas en ’n jong man met die naam Timoteus het saam met Paulus op sy reis gegaan. Hulle het saam gewerk om nuwe gemeentes te vorm en hulle te versterk. Paulus het vir ’n jaar en ’n half in Korinte gebly sodat hy die broers daar kon aanmoedig. Hy het gepreek, mense geleer en briewe aan baie gemeentes geskryf. Hy het ook as ’n tentmaker gewerk. Later het Paulus weer na Antiogië teruggegaan.

In die jaar 52 HJ het Paulus vir ’n derde keer op reis gegaan en in Klein-Asië begin. Hy het noord gereis al die pad tot by Filippi en toe al die pad af tot by Korinte. Paulus het ’n paar jaar in Efese gebly, waar hy mense geleer en gesond gemaak het en ook die gemeente gehelp het. Hy het ook elke dag openbare toesprake by ’n skool gehou. Baie mense het geluister en hulle lewens verander. Uiteindelik het Paulus, nadat hy die goeie nuus in baie lande verkondig het, na Jerusalem toe gegaan.

“Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies.”—Matteus 28:19