Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 101

Paulus word na Rome gestuur

Paulus word na Rome gestuur

Paulus se derde predikingsreis het in Jerusalem geëindig. Daar is hy gevange geneem en in die tronk gegooi. Daardie aand het Jesus in ’n visioen vir hom gesê: ‘Jy sal na Rome toe gaan en daar gaan preek.’ Paulus is van Jerusalem na Sesarea geneem, waar hy twee jaar lank in die tronk was. Gedurende sy verhoor voor goewerneur Festus het Paulus gesê: ‘Laat ek deur die keiser in Rome geoordeel word.’ Festus het gesê: ‘Jy het gevra om na die keiser toe te gaan, na die keiser sal jy gaan.’ Paulus is op ’n skip gesit wat op pad was na Rome. Twee Christenbroers, Lukas en Aristargus, het saam met hom gegaan.

Terwyl hulle op see was, was daar ’n woeste storm wat ’n hele paar dae lank aangehou het. Almal het gedink dat hulle gaan sterf. Maar Paulus het gesê: ‘Manne, ’n engel het vir my in ’n droom gesê: “Moenie bang wees nie, Paulus. Jy sal by Rome uitkom, en almal wat saam met jou op die skip is, sal veilig wees.” Moenie hoop verloor nie! Ons sal nie sterf nie.’

Die storm het 14 dae lank aangehou. Uiteindelik het hulle land gesien. Dit was die eiland Malta. Die skip het gestrand en in stukke gebreek, maar al 276 mense wat op die skip was, het dit veilig tot by die land gemaak. Party het geswem en ander het aan stukke van die skip vasgeklou en strand toe gedryf. Die mense van Malta het hulle gehelp en ’n vuur gemaak om hulle warm te maak.

Drie maande later het die soldate Paulus op ’n ander skip na Rome toe gevat. Toe hy daar aankom, het die broers hom kom ontmoet. En toe hy hulle sien, is hy aangemoedig en het hy vir Jehovah dankie gesê. Al was Paulus ’n gevangene, is hy toegelaat om ’n huis te huur en daar te bly terwyl ’n soldaat daar waggehou het. Hy het twee jaar lank daar gebly. Mense het hom kom besoek, en hy het vir hulle gepreek oor God se Koninkryk en hulle van Jesus geleer. Paulus het ook briewe aan die gemeentes in Klein-Asië en Judea geskryf. Jehovah het Paulus regtig gebruik om die goeie nuus aan die nasies oor te dra.

“In elke opsig beveel ons onsself as God se bedienaars aan: ons verduur baie dinge, ons kry swaar, ons ondervind tye van nood, ons kom voor probleme te staan.”—2 Korintiërs 6:4