Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Brief van die Bestuursliggaam

’n Brief van die Bestuursliggaam

Liewe medegelowiges:

As aanbidders van Jehovah, is ons lief vir sy Woord, die Bybel. Ons is oortuig dat dit akkurate geskiedenis, betroubare leiding vir die lewe en hartverblydende bewyse van Jehovah se liefde vir die mensegesin voorsien (Psalm 119:105; Lukas 1:3; 1 Johannes 4:19). Ons wil ander mense baie graag help om die kosbare waarhede in God se Woord te leer. Daarom is ons baie bly om hierdie boek “Lesse wat jy kan leer uit die Bybel”, beskikbaar te stel. Laat ons asseblief toe om jou ’n bietjie meer oor hierdie boek te vertel.

Hierdie boek is veral vir kinders geskryf. Maar dit kan ook gebruik word om grootmense te help wat graag meer oor die Bybel wil leer. En omdat die Bybel ’n boek vir almal is, sal ons almal iets kan leer wanneer ons weer deur hierdie lesse gaan. Dit kan ons help om regtig gelukkig te wees.

Hierdie boek bevat verhale uit die Bybel en wys wat van die skepping af met die mensegesin gebeur het. Baie moeite is gedoen om die Bybelverhale op ’n duidelike en eenvoudige manier te vertel en, sover moontlik, in die volgorde waarin dit gebeur het.

Maar hierdie boek vertel ons nie net wat in die Bybel gebeur het nie. Die manier waarop die boek geskryf is en die prente daarin laat die Bybelverhale lewe, en dit help ons om te verstaan hoe die mense in die verhale regtig gevoel het.

Hierdie boek help ons om te sien dat die Bybel ’n boek oor mense is. Mense wat gehoorsaam aan Jehovah was en mense wat ongehoorsaam aan hom was. En dit spoor ons aan om lesse uit hulle voorbeelde te leer (Romeine 15:4; 1 Korintiërs 10:6). Die boek is in 14 dele verdeel. Aan die begin van elke deel is daar ’n opsomming van party van die lesse wat ons kan leer.

As jy ’n ouer is, kan jy ’n les saam met jou kind lees en die prente in daardie les bespreek. Dan kan julle die deel in die Bybel lees waarop die les gebaseer is. Help jou kind om die deel in die Bybel met die les in die boek te verbind. Hierdie metode kan ook gebruik word wanneer jy grootmense help om te leer wat die Bybel se boodskap is.

Ons hoop dat hierdie boek mense van alle ouderdomme wat die regte hartsgesindheid het, sal help om uit God se Woord te leer en die lesse daarin in hulle lewe toe te pas. Dan sal hulle hom ook kan aanbid as deel van sy geliefde gesin.

Julle broers

Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies