Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 1

“Jy moet Jehovah jou God aanbid”

“Jy moet Jehovah jou God aanbid”

MATTEUS 4:10

HOOFPUNT: Hoekom rein aanbidding herstel moet word

1, 2. Hoe het dit gekom dat Jesus in die herfs van 29 HJ in die wildernis van Judea was, en wat het daar met hom gebeur? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

DIT is vroeg in die herfs van die jaar 29 HJ, en Jesus is in die wildernis van Judea, net noord van die Dooie See. Nadat hy gedoop en gesalf is, het die heilige gees hom na hierdie plek gelei. In hierdie stil, onbewoonde en rotsagtige omgewing kon Jesus 40 dae lank vas, bid en dink. Jehovah het dalk gedurende hierdie tyd met sy Seun gekommunikeer om hom voor te berei vir wat voorlê.

2 Nou, terwyl Jesus swak en baie honger is, kom Satan na hom toe. Wat hierna gebeur, leer vir ons ’n baie belangrike les wat almal raak wat lief is vir rein aanbidding, en dit sluit jou in.

“As jy ’n seun van God is . . . ”

3, 4. (a) Met watter woorde het Satan die eerste twee versoekings ingelei, en waaraan wou hy Jesus dalk laat twyfel? (b) Hoe gebruik Satan vandag dieselfde soort taktieke?

3 Lees Matteus 4:1-7. Satan het die eerste twee versoekings ingelei met die woorde: “As jy ’n seun van God is”. Het Satan getwyfel dat Jesus God se Seun is? Nee. Daardie dislojale engel het goed geweet dat Jesus God se eersgebore Seun is (Kol. 1:15). Satan het ook geweet dat Jehovah uit die hemel by Jesus se doop gesê het: “Dit is my geliefde Seun, wat ek goedgekeur het” (Matt. 3:17). Miskien wou Satan hê dat Jesus moes twyfel of sy Vader betroubaar is en regtig vir hom omgee. Met die eerste versoeking – om die klippe in brode te verander – het Satan eintlik gesê: ‘Jy is mos God se Seun. So hoekom gee jou Vader nie vir jou kos in hierdie droë wildernis nie?’ Met die tweede versoeking – om van die hoogste punt van die tempel af te spring – het Satan basies gesê: ‘Jy is mos God se Seun. Glo jy regtig dat jou Vader jou sal beskerm?’

4 Satan gebruik vandag dieselfde soort taktieke (2 Kor. 2:11). Hy wag totdat ware aanbidders swak of mismoedig is, en dan val hy hulle aan, baie keer op subtiele maniere (2 Kor. 11:14). Hy probeer ons oortuig dat Jehovah ons nooit kan liefhê en dat ons nooit sy goedkeuring kan kry nie. Hy probeer ons ook oortuig dat Jehovah nie betroubaar is nie, dat Hy nie sal doen wat Hy in sy Woord belowe het nie. Maar dit is wrede leuens (Joh. 8:44). Wat kan ons doen om te keer dat ons daarvoor val?

5. Hoe het Jesus op die eerste twee versoekings gereageer?

5 Dink aan hoe Jesus gereageer het op die eerste twee versoekings. Hy het glad nie getwyfel dat sy Vader lief is vir hom nie, en hy het sy Vader heeltemal vertrou. Jesus het Satan se versoekings onmiddellik verwerp deur aan te haal uit sy Vader se geïnspireerde Woord. Jesus het tekste aangehaal wat God se naam, Jehovah, bevat het (Deut. 6:16; 8:3). Dit was die beste manier waarop God se Seun kon wys dat hy sy Vader vertrou, want daardie unieke naam is ’n waarborg dat Jehovah alles sal doen wat hy belowe het. *

6, 7. Hoe kan ons Satan se subtiele aanvalle weerstaan?

6 Ons kan Satan se subtiele aanvalle weerstaan deur te vertrou op Jehovah se Woord en deur na te dink oor die betekenis van God se naam. Die Bybel sê dat Jehovah lief is vir sy aanbidders en besorg is oor hulle, insluitende dié wat mismoedig is. As ons onthou dat dit op ons persoonlik van toepassing is, sal dit vir ons makliker wees om nie te val vir Satan se leuen dat Jehovah ons nooit kan liefhê of dat ons nooit sy goedkeuring kan kry nie (Ps. 34:18; 1 Pet. 5:8). Ons moet onthou dat Jehovah altyd optree in ooreenstemming met die betekenis van sy naam. Dan sal ons nooit twyfel dat hy, die Een wat altyd sy beloftes laat waar word, ons volle vertroue verdien nie. – Spr. 3:5, 6.

7 Maar wat is Satan se hoofdoel? Wat wil hy nou eintlik van ons hê? Die antwoord het duidelik geword toe Satan Jesus ’n derde keer versoek het.

‘Val neer en aanbid my een keer’

8. Hoe het Satan met die derde versoeking gewys wat hy eintlik wil hê?

8 Lees Matteus 4:8-11. Met die derde versoeking het Satan reguit gesê wat hy wou hê. Satan het (heel moontlik in ’n visioen) vir Jesus “al die koninkryke van die wêreld en hulle mag” gewys – maar nie die negatiewe kant daarvan nie. Toe het hy vir Jesus gesê: “Ek sal al hierdie dinge vir jou gee as jy neerval en my een keer aanbid.” * Aanbidding – dit is wat Satan eintlik wou hê! Hy wou hê dat Jesus sy rug op sy Vader moes draai en hom moes aanbid. Wat Satan vir Jesus aangebied het, kon dalk soos ’n maklike uitweg gelyk het. Hy het geïmpliseer dat Jesus al die mag en rykdom van die nasies sou hê en dat dit nie vir hom nodig sou wees om te ly nie. Dit sou nie nodig wees dat hy ’n doringkroon moes dra, met ’n gésel geslaan moes word of aan ’n folterpaal gehang moes word nie. Satan kon regtig vir Jesus gee wat hy hom aangebied het. Jesus het geweet dat Satan die heerser van die wêreld se regerings is (Joh. 12:31; 1 Joh. 5:19). Satan sou beslis enigiets vir Jesus gegee het sodat hy sy rug op die rein aanbidding van sy Vader sou draai.

9. (a) Wat wil Satan eintlik van ware aanbidders hê, en hoe probeer hy ons mislei? (b) Wat sluit ons aanbidding in? (Sien die venster “Wat is aanbidding?”)

9 Vandag wil Satan ook hê dat ons hom moet aanbid – of dit nou direk of indirek is. Hy is “die god van hierdie wêreld”. So almal wat deel is van die valse godsdienste van Babilon die Grote, aanbid eintlik vir Satan (2 Kor. 4:4). Maar Satan is nie tevrede met miljoene valse aanbidders nie, en daarom wil hy ware aanbidders ook in die versoeking bring om aan God ongehoorsaam te wees. Hy probeer ons mislei om rykdom en mag in hierdie wêreld te soek eerder as om ’n Christelike lewenswyse te volg wat dalk sal beteken dat ons “ter wille van regverdigheid” sal moet ly (1 Pet. 3:14). As ons ons rug op rein aanbidding draai en deel word van Satan se wêreld, buig ons in werklikheid voor Satan neer en aanbid ons hom – ons maak hom dan ons god. Hoe kan ons hierdie versoeking weerstaan?

10. Hoe het Jesus op die derde versoeking gereageer, en hoekom?

10 Kom ons kyk hoe Jesus op die derde versoeking gereageer het. Hy het gewys dat hy heeltemal lojaal is aan Jehovah deur onmiddellik vir Satan te sê: “Gaan weg, Satan!” Net soos Jesus met die eerste twee versoekings gedoen het, het hy ’n teks uit Deuteronomium aangehaal wat God se naam bevat: “Daar staan geskryf: ‘Jy moet Jehovah jou God aanbid en hom alleen dien’” (Matt. 4:10; Deut. 6:13). Jesus het nee gesê vir ’n belangrike maar kort wêreldse loopbaan en ’n maklike lewe sonder pyn en lyding. Hy het geweet dat net sy Vader verdien om aanbid te word en dat hy hom aan Satan sou onderwerp as hy hom selfs net “een keer aanbid”. Jesus het vasbeslote geweier om Satan sy god te maak. Omdat Jesus geweier het om na hom te luister, “het die Duiwel van hom af weggegaan”. *

“GAAN WEG, SATAN!” (Sien paragraaf 10)

11. Hoe kan ons Satan en sy versoekings weerstaan?

11 Ons kan Satan en die versoekings van sy slegte wêreld weerstaan omdat ons, net soos Jesus, ’n keuse het. Jehovah het ons ’n kosbare geskenk gegee – vrye wil. Daarom kan niemand – nie eens Satan wat ’n magtige en goddelose gees is – ons dwing om ons rug op rein aanbidding te draai nie. Wanneer ons lojaal is aan Jehovah deur Satan te weerstaan en “standvastig [te bly] in die geloof,” sê ons in werklikheid: “Gaan weg, Satan!” (1 Pet. 5:9). Onthou dat Satan weggegaan het nadat Jesus sy versoekings ferm verwerp het. En die Bybel verseker ons ook: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.” – Jak. 4:7.

Ons kan kies om die versoekings van Satan se wêreld te weerstaan (Sien paragraaf 11, 19)

Die vyand van rein aanbidding

12. Hoe het Satan in Eden gewys dat hy die vyand van rein aanbidding is?

12 Met die laaste versoeking het Satan bevestig dat hy die oorspronklike vyand van rein aanbidding is. Duisende jare vroeër, in die tuin van Eden, het Satan vir die eerste keer gewys dat hy dit haat wanneer Jehovah aanbid word. Satan het Eva mislei, en sy het Adam oorreed om ongehoorsaam te wees aan Jehovah se bevel. So het Satan hulle onder sy beheer gebring en hulle leier geword. (Lees Genesis 3:1-5; 2 Kor. 11:3; Op. 12:9.) Hy het in werklikheid hulle god geword, en hulle het sy aanbidders geword, al het hulle dalk nie geweet wie hulle mislei nie. En toe Satan die opstand in Eden begin het, het hy nie net Jehovah se soewereiniteit, of reg om te regeer, aangeval nie, maar hy het ook rein aanbidding aangeval. Hoe so?

13. Hoe hou rein aanbidding verband met Jehovah se reg om te regeer?

13 Rein aanbidding hou verband met God se reg om te regeer. Slegs die ware Soewerein, die Een wat “alles geskep” het, verdien om aanbid te word (Op. 4:11). Toe Jehovah die volmaakte Adam en Eva geskep het en hulle in die tuin van Eden geplaas het, wou Hy hê dat die aarde uiteindelik vol volmaakte mense moet wees wat Hom rein aanbidding uit rein harte sou gee (Gen. 1:28). Satan het Jehovah se reg om te regeer, bevraagteken omdat hy iets wou hê wat net aan die Soewereine Heer Jehovah behoort – aanbidding. – Jak. 1:14, 15.

14. Was Satan se aanval op rein aanbidding suksesvol? Verduidelik.

14 Was Satan se aanval op rein aanbidding suksesvol? Hy het Adam en Eva gekry om hulle rug op God te draai. Van toe af het Satan ware aanbidding probeer vernietig en soveel mense as moontlik probeer kry om teen Jehovah God te draai. Satan het aangehou om Jehovah se aanbidders in voor-Christelike tye te probeer mislei. In die eerste eeu HJ het hy ’n afvalligheid begin wat die Christengemeente besoedel het, en uiteindelik het dit gelyk asof rein aanbidding verdwyn het (Matt. 13:24-30, 36-43; Hand. 20:29, 30). Vanaf die tweede eeu HJ het Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, God se aanbidders vir ’n lang tyd in ’n geestelike sin gevange gehou. Maar Satan het dit nie reggekry om te keer dat God se wil in verband met rein aanbidding plaasvind nie. Niks kan keer dat God sy wil uitvoer nie (Jes. 46:10; 55:8-11). Sy naam is betrokke, en hy tree altyd op in ooreenstemming met die betekenis van sy naam. Jehovah voer altyd sy wil uit!

Die beste verdediger van rein aanbidding

15. Watter stappe het Jehovah in Eden geneem om die rebelle te straf en om seker te maak dat sy wil uitgevoer sou word?

15 Jehovah het die rebelle in Eden onmiddellik gestraf en stappe geneem om seker te maak dat sy wil uitgevoer sou word. (Lees Genesis 3:14-19.) Terwyl Adam en Eva nog in die tuin was, het Jehovah die drie rebelle gestraf in die volgorde waarin hulle gesondig het – eers vir Satan, toe vir Eva en daarna vir Adam. Jehovah het met Satan gepraat toe hy voorspel het dat ’n “nageslag” sou kom wat ’n einde sou maak aan die slegte gevolge van hulle opstandige gedrag. Daardie beloofde “nageslag” sou ’n baie belangrike rol speel om seker te maak dat Jehovah se wil in verband met rein aanbidding uitgevoer word.

16. Watter ander dinge het Jehovah ná die opstand in Eden gedoen om seker te maak dat sy wil uitgevoer sou word?

16 Ná die opstand in Eden het Jehovah nog dinge gedoen om seker te maak dat sy wil uitgevoer sou word. Hy het reëlings getref sodat onvolmaakte mense hom op ’n aanvaarbare manier kon aanbid, soos ons in die volgende hoofstuk sal sien (Heb. 11:4–12:1). Hy het ook ’n aantal Bybelskrywers – insluitende Jesaja, Jeremia en Esegiël – geïnspireer om opwindende profesieë neer te skryf oor die herstelling van rein aanbidding. Dit is ’n baie belangrike tema in die Bybel. Deur middel van die beloofde “nageslag”, waarvan Jesus Christus die belangrikste deel is, sou al hierdie profesieë waar word (Gal. 3:16). Jesus is die beste verdediger van rein aanbidding, soos hy duidelik gewys het deur sy antwoord op die derde versoeking. Ja, deur middel van Jesus, die een wat deur Jehovah gekies is, sou die profesieë oor die herstelling van rein aanbidding waar word (Op. 19:10). Hy sou God se volk uit geestelike gevangenskap bevry en rein aanbidding herstel.

Wat sal jy doen?

17. Hoekom is die Bybel se profesieë oor die herstelling van rein aanbidding vir ons belangrik?

17 Dit is opwindend om die Bybel se profesieë oor die herstelling van rein aanbidding te ondersoek, en dit sal ons geloof versterk. Hierdie profesieë is vir ons baie belangrik omdat ons uitsien na die tyd wanneer almal in die hemel en op die aarde verenig sal wees en die Soewereine Heer Jehovah sal aanbid. Hierdie profesieë gee ons ook hoop, want dit bevat van die mooiste beloftes in God se Woord. Ons almal sien uit na die dinge wat Jehovah belowe het, soos die opstanding van ons vriende en familie wat gesterf het, ’n wêreldwye paradys en ewige lewe met volmaakte gesondheid. – Jes. 33:24; 35:5, 6; Op. 20:12, 13; 21:3, 4

18. Wat sal ons in hierdie boek bespreek?

18 In hierdie boek sal ons die opwindende profesieë in die Bybelboek Esegiël bespreek. Baie van hierdie profesieë fokus op die herstelling van rein aanbidding. Ons sal bespreek hoe Esegiël se profesieë met ander profesieë verband hou, hoe dit deur middel van Christus waar sal word en hoe dit ons raak. – Sien die venster “’n Oorsig van Esegiël”.

19. Wat is jy vasbeslote om te doen, en hoekom?

19 In 29 HJ in die wildernis van Judea kon Satan Jesus nie kry om sy rug op rein aanbidding te draai nie. Maar wat van ons? Satan is meer vasbeslote as ooit tevore om ons te kry om ons rug op ware aanbidding te draai (Op. 12:12, 17). Hierdie boek sal ons help om meer vasbeslote te wees om Satan te weerstaan. Laat ons deur ons woorde en dade wys dat ons heeltemal saamstem met die woorde: “Jy moet Jehovah jou God aanbid.” Dan sal ons kan sien hoe Jehovah se wil uiteindelik uitgevoer word – wanneer almal in die hemel en op die aarde verenig is en Jehovah gee wat hy verdien: rein aanbidding uit rein harte!

^ par. 5 Party glo dat die naam Jehovah “Hy laat word” beteken. Dit pas goed by Jehovah se rol as die Skepper en die Een wat altyd sy wil uitvoer.

^ par. 8 Een Bybelnaslaanwerk sê die volgende oor Satan se woorde: “Net soos met die eerste toets, wat Adam en Eva nie geslaag het nie, gaan dit hier oor ’n keuse tussen die wil van Satan of die wil van God, waarby die aanbidding van die een of die ander betrokke is. Satan spog dat hy god is in die plek van die enigste God.”

^ par. 10 Lukas se Evangelie noem die versoekings in ’n ander volgorde, maar Matteus se verslag is blykbaar in die volgorde geskryf waarin dit gebeur het. Kyk na drie redes hoekom ons so sê. (1) Matteus lei die tweede versoeking in met die woord “toe”, wat wys dat dit dalk die volgende ding was wat gebeur het. (2) Dit is logies om te dink dat die twee subtiele versoekings – wat elkeen begin met die woorde “as jy ’n seun van God is” – gevolg sou word deur die direkte versoeking om die eerste gebod te verbreek (Eks. 20:2, 3). (3) Dit is ook logies dat Jesus se woorde “gaan weg, Satan!” sou volg op die derde en laaste versoeking. – Matt. 4:5, 10, 11.