Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 3

“Ek het visioene van God begin sien”

“Ek het visioene van God begin sien”

ESEGIËL 1:1

HOOFPUNT: ’n Oorsig van Esegiël se visioen van die hemelse strydwa

1-3. (a) Beskryf wat Esegiël sien en hoor. (Sien prent aan begin van hoofstuk.) (b) Wat het Esegiël in staat gestel om hierdie visioen te sien, en hoe het hy gereageer?

ESEGIËL staar in die verte in oor ’n groot sandvlakte. Hy trek sy oë op ’n skrefie, en dan maak hy dit wyd oop. Hy kan skaars sy oë glo. Daar op die horison is ’n storm aan die broei. Maar dit is nie ’n gewone storm nie. ’n Sterk wind uit die noorde waai sy hare en klere heen en weer, en hy sien ’n ontsaglike, hoë wolk. Daar is ’n flikkerende vuur wat uit die wolk uitstraal, en dit laat hom dink aan gesmelte kosbare metaal. * Terwyl die wolk vinnig na Esegiël toe beweeg, hoor hy ’n geluid wat al hoe harder word. Dit klink asof ’n massiewe leërmag op pad is. – Eseg. 1:4, 24.

2 Hierdie jong man is omtrent 30 jaar oud, en nou ervaar hy die eerste van ’n reeks onvergeetlike ondervindinge. Hy voel “die hand van Jehovah” op hom, die onbeperkte krag van Jehovah se heilige gees. Daardie gees sal hom ongelooflike dinge laat sien en hoor, wat baie indrukwekkender is as enige fliek met spesiale effekte. Esegiël was so oorweldig deur hierdie visioen dat hy “met [sy] gesig na die grond toe neergeval” het. – Eseg. 1:3, 28.

3 Maar dit is nie Jehovah se doel om Esegiël te beïndruk nie. Esegiël se eerste visioen – soos die res van die visioene in daardie opwindende profetiese boek – was baie belangrik vir hom, net soos dit vir Jehovah se lojale knegte van vandag is. So kom ons kyk van naderby na wat Esegiël sien en hoor.

Die agtergrond

4, 5. Wat was die agtergrond van Esegiël se visioen?

4 Lees Esegiël 1:1-3. Kom ons kyk eers na waar en wanneer Esegiël die visioen gesien het. Dit was 613 VHJ. Soos ons in die vorige hoofstuk geleer het, was Esegiël in Babilon. Hy het saam met ander gevangenes gewoon by die Kebar-rivier. Daardie rivier was blykbaar ’n mensgemaakte kanaal waarop bote kon vaar, en dit was ’n vertakking van die Eufraatrivier wat op ’n sekere punt weer deel van die Eufraatrivier geword het.

Esegiël het saam met ander gevangenes naby die Kebar-rivier gewoon (Sien paragraaf 4)

5 Die gevangenes se tuisdorp, Jerusalem, was omtrent 800 km daarvandaan. * Die tempel, waar Esegiël se pa as ’n priester gedien het, het besoedel geraak met valse aanbidding en afgodediens. Die troon in Jerusalem, waar Dawid en Salomo eers regeer het, was nou ’n groot skande. Die dislojale koning Jojagin was hier in Babilon saam met die gevangenes. En Sedekia, wat in sy plek koning was, was ’n goddelose man en was onder die beheer van die koning van Babilon. – 2 Kon. 24:8-12, 17, 19.

6, 7. Hoekom het Esegiël dalk gevoel dat hy in donker tye lewe?

6 Vir ’n man van geloof soos Esegiël, moes dit van die donkerste tye van sy lewe gewees het. Van die ander gevangenes het dalk gewonder: ‘Het Jehovah ons vir ewig verlaat? Sal hierdie goddelose wêreldmag Babilon met al haar valse gode dit regkry om die rein aanbidding van Jehovah te vervang en ’n einde te maak aan sy heerskappy op die aarde?’

7 Met hierdie agtergrond in gedagte kan jy jou persoonlike studie van Esegiël se eerste visioen begin deur sy duidelike beskrywing daarvan te lees (Eseg. 1:4-28). En probeer jou verbeel dat jy Esegiël is en dat jy sien wat hy gesien het en hoor wat hy gehoor het.

Eufraatrivier in die gebied naby Karkemis (Sien paragraaf 5-7)

’n Unieke voertuig

8. Wat het Esegiël in ’n visioen gesien, en wat het dit voorgestel?

8 Wat het Esegiël gesien? Iets wat gelyk het soos ’n massiewe, baie indrukwekkende voertuig, wat al as ’n strydwa beskryf is. Dit het vier massiewe wiele gehad wat langs vier ongewone geesskepsele was, wat later as gerubs geïdentifiseer is (Eseg. 10:1). Bo die gerubs was daar ’n baie groot oppervlak, wat soos ys gelyk het, en bo die oppervlak was die asemrowende troon van God, waarop Jehovah self gesit het! Maar wat stel die strydwa voor? Esegiël se visioen kon net een ding voorgestel het: Die hemelse deel van Jehovah se wonderlike universele organisasie. Hoekom sê ons so? Kom ons kyk na drie dinge wat ons tot hierdie slotsom laat kom het.

9. In watter sin kan Jehovah se verhouding met sy geesskepsele vergelyk word met ’n voertuig?

9 Jehovah se verhouding met sy geesskepsele. Let op dat Jehovah se troon in hierdie visioen bo die gerubs is. In ander dele van God se Woord word daar ook gesê dat Jehovah bo of tussen die gerubs op die troon sit. (Lees 2 Konings 19:15; Eks. 25:22; Ps. 80:1.) Hy sit natuurlik nie letterlik bo die gerubs, asof daardie magtige geesskepsele hom moet dra nie. En hy hoef ook nie op ’n letterlike strydwa te ry nie. Maar die gerubs ondersteun sy heerskappy, en hy kan hulle na enige plek in die heelal stuur om sy wil uit te voer. Net soos al God se heilige engele, voer hulle Jehovah se besluite as sy dienaars uit (Ps. 104:4). Dit is in daardie sin dat Jehovah op hulle almal “ry”, want hy lei hulle deur middel van sy heerskappy, asof hulle saam een groot voertuig vorm.

10. Hoe weet ons dat die hemelse strydwa meer as vier gerubs insluit?

10 Die voertuig sluit meer as net die gerubs in. Esegiël het vier gerubs gesien. Hierdie getal word baie keer in die Bybel gebruik om te wys dat iets volledig is – waar almal sonder uitsondering ingesluit word. So die feit dat daar vier gerubs is, wys dat al Jehovah se lojale geesseuns voorgestel word. Let ook op dat die wiele en selfs die gerubs vol oë is, en dit verwys na die waaksaamheid van baie meer geesskepsele as net die vier wat Esegiël gesien het. En Esegiël se beskrywing van die voertuig wys dat dit so verskriklik groot is dat dit selfs daardie indrukwekkende gerubs klein laat lyk (Eseg. 1:18, 22; 10:12). Net so is die hemelse deel van Jehovah se organisasie ontsaglik groot – dit sluit baie meer as net vier gerubs in.

Esegiël was verstom deur die visioen van Jehovah se hemelse strydwa (Sien paragraaf 8-10)

11. Watter visioen het Daniël gehad, en tot watter gevolgtrekking laat dit ons kom?

11 Daniël se visioen van die hemel. Die profeet Daniël was in Babilon gedurende die lang gevangenskap, en hy het ook ’n visioen van die hemel gehad. Dit is interessant dat Jehovah se troon ook in daardie visioen wiele gehad het. Daniël se visioen het gefokus op hoe groot Jehovah se familie van geesskepsele in die hemel is. Daniël het “duisend maal duisend . . . en tienduisend maal tienduisend” van God se geesseuns voor Jehovah sien staan. Hulle was deel van ’n hemelse Hof, waar elkeen blykbaar sy eie plek gehad het wat aan hom toegewys was (Dan. 7:9, 10, 13-18). Dit is dan redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat Esegiël se visioen dieselfde groep geesskepsele voorstel.

12. Hoekom is dit ’n beskerming vir ons om verslae te bestudeer soos Esegiël se visioen van die hemelse strydwa?

12 Jehovah weet dat dit vir ons as mense ’n beskerming is om te fokus op geestelike dinge – “die dinge wat nie gesien word nie”, soos die apostel Paulus dit genoem het. Hoekom? Ons is maar net vlees en bloed, en daarom is ons geneig om te veel te fokus op “die dinge wat gesien word”, fisiese dinge, wat maar net tydelik is. (Lees 2 Korintiërs 4:18.) Satan probeer baie keer om hierdie neiging uit te buit en probeer ons kry om net op fisiese dinge te fokus. Om ons te help om hierdie druk te weerstaan, gee Jehovah liefdevol vir ons Bybelverslae soos hierdie profesie van Esegiël, wat ons op ’n wonderlike manier herinner aan hoe asemrowend en pragtig sy hemelse gesin is!

“Draaiende wiele!”

13, 14. (a) Hoe het Esegiël die wiele beskryf wat hy gesien het? (b) Hoekom is dit gepas dat Jehovah se strydwa wiele het?

13 Eers fokus Esegiël op die vier gerubs, en in Hoofstuk 4 van hierdie boek sal ons sien wat hierdie geesskepsele en hulle besondere voorkoms ons oor Jehovah leer. Maar langs die gerubs het Esegiël die vier wiele gesien, wat blykbaar op vier punte was en wat saam ’n groot vierkant gevorm het. (Lees Esegiël 1:16-18.) Dit het gelyk asof die wiele van chrisoliet gemaak is, ’n kosbare geel of geelgroen steen wat deursigtig of deurskynend kan wees. Hierdie pragtige materiaal het gegloei.

14 Esegiël se visioen het baie gefokus op die strydwa se wiele. Wat ’n interessante kombinasie – ’n troon met wiele! Ons dink dalk aan ’n troon as iets wat net op een plek staan, en dit maak sin, want die gesag van aardse konings het perke. Maar Jehovah se heerskappy is glad nie soos enige menslike regering nie. Soos Esegiël nou sal leer, het Jehovah se gesag geen perke nie (Neh. 9:6). Hierdie soewereine Heerser kan sy gesag op enige plek uitoefen!

15. Wat het Esegiël gesê oor die struktuur en grootte van die wiele?

15 Esegiël was verstom deur die massiewe wiele. Hy het geskryf: “Die wiele was ontsagwekkend hoog.” Ons kan ons verbeel hoe Esegiël agteroor buig om na die reusagtige, gloeiende wiele te kyk wat tot hoog in die lug gestrek het. En hy het hierdie interessante detail bygevoeg: “Die buitenste rande van al vier wiele was reg rondom vol oë.” Maar wat hom dalk die meeste gefassineer het, was die ongewone struktuur van die wiele. Hy het verduidelik: “Elke wiel was so gemaak dat dit gelyk het asof daar ’n wiel binne-in ’n wiel is.” Wat het dit beteken?

16, 17. (a) In watter sin het die strydwa wiele binne-in wiele gehad? (b) Wat leer die wiele ons oor die beweegbaarheid van Jehovah se voertuig?

16 Blykbaar was elke wiel wat Esegiël gesien het, in werklikheid twee gekombineerde wiele. Die een wiel was moontlik 90 grade teenoor die ander wiel, en albei wiele was op dieselfde vertikale as. Dit sou verduidelik hoekom die wiele gewerk het soos Esegiël beskryf het: “Wanneer hulle beweeg het, kon hulle in enige van die vier rigtings gaan sonder om te draai.” Wat leer hierdie wiele ons oor die hemelse voertuig wat Esegiël gesien het?

17 Wiele wat so verskriklik hoog is, sou met net ’n enkele draai oor ’n groot afstand kon beweeg. Om die waarheid te sê, die visioen gee selfs die indruk dat die voertuig teen die spoed van weerlig beweeg het! (Eseg. 1:14). En die ongewone wiele kon maklik en vinnig in enige rigting beweeg, iets waarvan ingenieurs vandag maar net kan droom. Hierdie voertuig kon van rigting verander sonder om stadiger te beweeg of selfs te draai! En die voertuig weet presies waarheen dit op pad is. Die oë op die buitenste rande dui baie duidelik aan dat hierdie voertuig heeltemal bewus is van alles wat rondom dit gebeur, in alle rigtings.

Die wiele was verskriklik hoog en het verskriklik vinnig beweeg (Sien paragraaf 17)

18. Wat leer ons uit die feit dat die wiele verskriklik hoog en vol oë was?

18 Wat wou Jehovah Esegiël – en al sy lojale knegte – oor die hemelse deel van Sy organisasie leer? Dink aan wat ons sover geleer het. Dit is verstommend en baie indrukwekkend, soos ons kan sien uit die feit dat die wiele gloei en verskriklik hoog is. Dit is bewus van alles, soos ons kan sien uit die feit dat die wiele vol oë is. Jehovah se oë sien alles (Spr. 15:3; Jer. 23:24). En hy het baie miljoene engele wat hy na enige deel van die heelal kan stuur. Die engele kan alles sien wat gebeur en vir hulle Heerser daarvan vertel. – Lees Hebreërs 1:13, 14.

Die strydwa kon maklik en vinnig van rigting verander as gevolg van hoe die wiele ontwerp was (Sien paragraaf 17, 19)

19. Wat leer die spoed en beweegbaarheid van Jehovah se strydwa ons oor Jehovah en die hemelse deel van sy organisasie?

19 Ons sien ook dat die strydwa verskriklik vinnig is en maklik in enige rigting kan beweeg. Die hemelse deel van Jehovah se organisasie is so anders as menslike regerings, instansies en organisasies! Hulle ploeter maar net voort en kan nie by veranderende omstandighede aanpas nie, en uiteindelik misluk hulle heeltemal. Maar Jehovah se strydwa weerspieël perfek die redelike, aanpasbare God wat dit beheer. Volgens die betekenis van sy naam, kan hy enigiets word wat nodig is om sy doel te bereik (Eks. 3:13, 14). Hy kan byvoorbeeld vinnig ’n magtige Vegter word wat vir sy volk veg. Maar hy kan ook vinnig iemand word wat vryelik vergewe en wat ’n hartseer, berouvolle sondaar kan vertroos en help. – Ps. 30:5; Jes. 66:13.

20. Hoekom is Jehovah se strydwa vir ons indrukwekkend?

20 Op hierdie punt in Esegiël se visioen wonder ons dalk: ‘Is Jehovah se strydwa vir my indrukwekkend?’ Ons moet onthou dat die strydwa dinge voorstel wat nou bestaan. Ons moet nooit dink dat Jehovah, sy Seun en al die engele nie bewus is van ’n probleem waarmee ons sukkel nie. En ons moet ook nie bekommerd wees en dink dat ons God te lank sal vat om ons te gee wat ons nodig het of dat sy organisasie nie sal aanpas by ’n nuwe uitdaging in hierdie onstabiele en onvoorspelbare wêreld nie. Ons moet onthou dat Jehovah se organisasie heeltyd aan die beweeg is. Om die waarheid te sê, Esegiël het ’n stem uit die hemel hoor sê: “Draaiende wiele!” Dit was glo ’n bevel dat die wiele moet begin draai (Eseg. 10:13). Is dit nie wonderlik om te dink aan hoe Jehovah sy organisasie rig nie? Maar wat ons selfs meer beïndruk, is Jehovah self.

Die Een wat in beheer is

21, 22. Wat hou die dele van die strydwa in hulle plek?

21 Nou fokus Esegiël op wat bo die wiele is. Hy het iets gesien “wat soos ’n uitgestrekte oppervlak gelyk het” en “ontsagwekkend [en] blink soos ys” was (Eseg. 1:22). Die uitgestrekte oppervlak was hoog bo die koppe van die gerubs. Dit het geblink en was asemrowend. Op hierdie stadium sal ’n leser wat meganies ingestel is, dalk baie vrae oor die voertuig hê. Party wonder dalk: ‘Wat hou die oppervlak bo die wiele? En hoe kan die wiele werk sonder asse wat hulle bymekaarhou?’ Onthou dat hierdie voertuig nie beperk word deur fisiese wette nie, want dit is simbolies, ’n uitbeelding van dinge wat in die hemel is. Kyk ook na hierdie belangrike woorde: “Die gees wat die lewende wesens gelei het, was ook in die wiele” (Eseg. 1:20, 21). Watter gees het die gerubs en die wiele gelei?

22 Dit was ongetwyfeld Jehovah se heilige gees, die sterkste krag in die heelal. Hierdie werkende krag hou hierdie voertuig aanmekaar, dryf dit aan en beheer die perfek gesinchroniseerde bewegings daarvan. Kom ons kyk nou saam met Esegiël na die Een wat die strydwa beheer.

Esegiël moes woorde vind vir dinge wat amper onmoontlik was om te beskryf

23. Watter soort woorde gebruik Esegiël wanneer hy Jehovah probeer beskryf, en hoekom?

23 Lees Esegiël 1:26-28. Regdeur Esegiël se beskrywing van hierdie visioen gebruik hy uitdrukkings soos ‘gelyk het soos’, ‘gegloei het soos’, ensovoorts. Maar in hierdie verse gebruik hy sulke uitdrukkings selfs nog meer. Dit lyk asof hy woorde soek vir dinge wat amper onmoontlik is om te beskryf. Hy het iets gesien “wat soos ’n saffiersteen gelyk het, en dit het die voorkoms van ’n troon gehad”. Kan jy jou indink hoe ’n troon moes gelyk het wat van ’n groot, diepblou saffiersteen gemaak is? En daar, op die troon, het ’n persoon gesit, “iemand wat soos ’n mens gelyk het”.

24, 25. (a) Waaraan laat die reënboog rondom Jehovah se troon ons dink? (b) Hoe het manne van geloof soms op sulke visioene gereageer?

24 Hierdie baie indrukwekkende persoon kon nie duidelik gesien word nie, want vlamme het soos ’n vuur uitgestraal van sy heupe af ondertoe en van sy heupe af boontoe. Ons kan ons net indink hoe die profeet sy oë op ’n skrefie moes trek en sy hand bo sy oë moes hou terwyl hy na die baie indrukwekkende persoon gekyk het. Uiteindelik het Esegiël die hoogtepunt van die visioen gesien: “Daar was ’n glans reg rondom hom wat gelyk het soos ’n reënboog in ’n wolk op ’n reënerige dag.” Was jy al ooit bly toe jy ’n reënboog gesien het? ’n Reënboog is ’n duidelike herinnering aan hoe wonderlik en indrukwekkend ons Skepper is! Hierdie kleurvolle boog in die lug, wat ’n rustigheid oor ’n mens bring, kan ons ook laat dink aan Jehovah se vredesverbond ná die Vloed (Gen. 9:11-16). Jehovah is almagtig, maar hy is ook ’n God van vrede (Heb. 13:20). Sy hart is vol vrede, en almal wat hom lojaal aanbid, geniet ook hierdie vrede.

Die pragtige reënboog rondom Jehovah se troon herinner ons dat ons die God van vrede dien (Sien paragraaf 24)

25 Watter uitwerking het die visioen van Jehovah God op Esegiël gehad? Esegiël het geskryf wat gebeur het: “Toe ek dit sien, het ek met my gesig na die grond toe neergeval.” Esegiël was so verstom en oorweldig deur sy vrees vir God dat hy op die grond neergeval het. Ander profete het op dieselfde manier gereageer toe hulle visioene van Jehovah ontvang het. Hierdie ondervinding sal ’n mens baie klein en selfs oorweldig laat voel (Jes. 6:1-5; Dan. 10:8, 9; Op. 1:12-17). Maar later is hierdie mans baie versterk deur wat Jehovah aan hulle geopenbaar het. Esegiël was beslis. Watter uitwerking moet Bybelverslae soos hierdie dan op ons hê?

26. Hoe het Esegiël se visioen hom dalk versterk?

26 As Esegiël bekommerd was oor die situasie van God se volk daar in Babilon, sou daardie visioen hom beslis versterk het. Dit het glad nie saak gemaak of God se lojale volk in Jerusalem of in Babilon of êrens anders was nie. Hulle sou nooit buite die bereik van Jehovah se asemrowende strydwa wees nie. God is in beheer van hierdie wonderlike hemelse organisasie, en niks wat Satan doen, kan God oorwin nie. (Lees Psalm 118:6.) Esegiël het ook gesien dat die hemelse voertuig nie ver van die mensdom af was nie. Die wiele het selfs aan die grond geraak! (Eseg. 1:19). Dit is duidelik dat Jehovah baie belanggestel het in sy lojale volk wat daar in gevangenskap was. Hulle sou altyd binne die bereik wees van hulle Vader se liefdevolle sorg!

Wat die strydwa vir jou beteken

27. Hoe raak Esegiël se visioen ons vandag?

27 Raak Esegiël se visioen ons vandag? Beslis! Onthou, Satan val die rein aanbidding van Jehovah nou meer as ooit tevore aan. Hy wil ons graag oortuig dat ons alleen en afgesonder is en dat ons buite die bereik is van ons hemelse Vader en sy organisasie. Moet nooit toelaat dat hierdie leuens beïnvloed hoe jy dink en voel nie! (Ps. 139:7-12). Soos Esegiël, het ons alle rede om diep beïndruk en vol bewondering te wees. Ons sal miskien nie met ons gesigte na die grond toe neerval soos hy nie. Maar het ons nie rede om verstom te wees deur die krag, die spoed, die beweegbaarheid, die aanpasbaarheid en die grootheid van die hemelse deel van Jehovah se universele organisasie nie?

28, 29. Wat wys dat Jehovah se strydwa gedurende die afgelope honderd jaar aan die beweeg was?

28 Onthou ook dat Jehovah se organisasie ’n aardse deel het. Die aardse deel bestaan nou wel uit onvolmaakte mense, maar dink aan alles wat Jehovah al hier op die aarde bereik het! Regoor die wêreld het Jehovah mense gehelp om dinge te doen wat hulle nooit op hulle eie sou kon doen nie (Joh. 14:12). As jy net blaai deur die God se Koninkryk regeer!-boek, word jy herinner aan hoe die predikingswerk oor die afgelope honderd jaar verskriklik baie gegroei het. Dink ook aan alles wat Jehovah se organisasie al bereik het. Die organisasie het fantastiese onderrigting aan ware Christene voorsien, het regsoorwinnings gehad en het selfs die nuutste tegnologie gebruik om God se wil te doen!

29 Wanneer ons dink aan alles wat gedoen is om rein aanbidding te herstel gedurende die laaste dae van hierdie slegte wêreld, word dit al hoe duideliker dat Jehovah se strydwa aan die beweeg is. Wat ’n ongelooflike voorreg het ons om deel te wees van hierdie organisasie en om so ’n wonderlike Heerser te dien! – Ps. 84:10.

Die aardse deel van Jehovah se organisasie is altyd aan die beweeg (Sien paragraaf 28, 29)

30. Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

30 Maar ons kan nog baie uit Esegiël se visioen leer. In die volgende hoofstuk sal ons daardie vier besondere “lewende wesens”, of gerubs, bespreek. Wat kan hulle ons leer oor ons wonderlike Soewerein, Jehovah God?

^ par. 1 Esegiël praat van elektrum, ’n mengsel van silwer en goud.

^ par. 5 Dit sou die afstand gewees het as die gevangenes ’n direkte roete gevolg het, maar die roete wat hulle heel moontlik geneem het, was amper twee keer so lank.