Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 7

Die nasies “sal moet weet dat ek Jehovah is”

Die nasies “sal moet weet dat ek Jehovah is”

ESEGIËL 25:17

HOOFPUNT: Wat ons leer uit Israel se assosiasie met die nasies wat geen respek vir Jehovah se naam gehad het nie

1, 2. (a) Hoe was Israel soos ’n skaap tussen wolwe? (Sien prent aan begin van hoofstuk.) (b) Wat het die Israeliete en hulle konings toegelaat?

ISRAEL was honderde jare lank soos ’n skaap tussen ’n klomp wolwe. Die Ammoniete, Moabiete en Edomiete was Israel se vyande aan die oostelike grens. In die weste het die Filistyne gewoon, wat lank vyande van Israel was. In die noorde was Tirus, die ryk en magtige sentrum van ’n groot kommersiële ryk. In die suide was Egipte, wie se koning, Farao, as ’n god beskou is.

2 Wanneer die Israeliete op Jehovah vertrou het, het hy hulle teen hulle vyande beskerm. Maar sy volk en hulle konings het oor en oor toegelaat dat die nasies om hulle hulle mislei. Koning Agab is een voorbeeld van so ’n swak en dislojale koning. Hy was die koning van die tienstammeryk van Israel en het op dieselfde tyd gelewe as koning Josafat van Juda. Hy het getrou met die dogter van die koning van Sidon wat oor die ryk stad Tirus regeer het. Daardie vrou se naam was Isebel, en sy het alles gedoen wat sy kon om Baälaanbidding in Israel te bevorder. Sy het haar man beïnvloed om rein aanbidding te besoedel soos nog nooit tevore nie. – 1 Kon. 16:30-33; 18:4, 19.

3, 4. (a) Teen wie het Esegiël nou begin profeteer? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

3 Jehovah het sy volk gewaarsku oor wat sal gebeur as hulle nie lojaal is aan hom nie. Nou het sy geduld uiteindelik opgeraak (Jer. 21:7, 10; Eseg. 5:7-9). In 609 VHJ het die Babiloniese leërmag vir die derde keer na die Beloofde Land toe teruggegaan. Die laaste keer dat hulle daar was, was amper tien jaar gelede. Hierdie keer sou hulle die mure van Jerusalem afbreek en almal doodmaak wat teen Nebukadnesar gerebelleer het. Toe die beleëring begin het en Esegiël se geïnspireerde profesieë tot in die fynste detail begin waar word het, het hy begin sê wat met die nasies rondom die Beloofde Land sou gebeur.

Die nasies wat Jehovah se naam deur die modder gesleep het, sou die gevolge van hulle dade moes dra

4 Jehovah het vir Esegiël gesê dat Juda se vyande bly sou wees oor Jerusalem se vernietiging en dat hulle die oorlewendes sleg sou behandel. Maar die nasies wat Jehovah se naam deur die modder gesleep het en wat sy volk vervolg en mislei het, sou die gevolge van hulle dade moes dra. Watter praktiese lesse kan ons leer uit Israel se assosiasie met daardie nasies? En hoe gee Esegiël se profesieë oor die nasies ons vandag hoop?

“Familie” wat Israel sleg behandel het

5, 6. Wat was die verhouding tussen die Israeliete en die Ammoniete?

5 Ammon, Moab en Edom was in ’n sekere sin bloedfamilie van Israel. Maar daardie nasies het nogtans oor en oor bewys dat hulle God se volk haat en het hulle “bespot en uitgelag”. – Eseg. 25:6.

6 Dink aan die Ammoniete. Hulle het afgestam van Lot deur sy jonger dogter, en Lot was Abraham se broer se kind (Gen. 19:38). Hulle taal was so na aan Hebreeus dat God se volk dit moontlik kon verstaan. As gevolg van hierdie familiebande het Jehovah vir die Israeliete gesê om nie ’n oorlog teen die Ammoniete te begin nie (Deut. 2:19). Maar in die dae van die Rigters het die Ammoniete en koning Eglon van Moab die Israeliete onderdruk (Rigt. 3:12-15, 27-30). Later, toe Saul koning was, het die Ammoniete Israel aangeval (1 Sam. 11:1-4). En in die dae van koning Josafat het hulle en die Moabiete teen die Israeliete in die Beloofde Land gaan veg. – 2 Kron. 20:1, 2.

7. Hoe het die Moabiete die Israeliete behandel?

7 Die Moabiete was ook nakomelinge van Lot, maar deur sy ouer dogter (Gen. 19:36, 37). Jehovah het vir die Israeliete gesê om nie teen Moab oorlog te voer nie (Deut. 2:9). Maar die Moabiete was nie so vriendelik teenoor die Israeliete nie. In plaas daarvan om hulle familielede te help, wat kort tevore slawe in Egipte was, het hulle hulle probeer keer om in die Beloofde Land in te gaan. Koning Balak van Moab het Bileam gehuur om die Israeliete te vervloek, en Bileam het vir Balak gesê hoe om die Israelitiese mans te mislei sodat hulle onsedelik sou wees en afgode sou aanbid (Num. 22:1-8; 25:1-9; Op. 2:14). Die Moabiete het Israel honderde jare lank onderdruk, tot in Esegiël se dag. – 2 Kon. 24:1, 2.

8. Hoekom het Jehovah gesê dat Israel en Edom broers is, maar hoe het die Edomiete die Israeliete behandel?

8 Die Edomiete was nakomelinge van Jakob se tweelingbroer, Esau. As gevolg van hierdie familiebande het Jehovah na die Edomiete verwys as die Israeliete se broers (Deut. 2:1-5; 23:7, 8). Die Edomiete het die Israeliete teëgestaan van die tyd dat die Israeliete Egipte verlaat het tot die vernietiging van Jerusalem in 607 VHJ (Num. 20:14, 18; Eseg. 25:12). Die Edomiete was baie bly toe hulle sien hoe die Israeliete ly, en hulle het nie net die Babiloniërs opgesteek om Jerusalem te vernietig nie, maar hulle het ook die Israeliete wat gevlug het, gekeer en hulle aan hulle vyande oorhandig. – Ps. 137:7; Obad. 11, 14.

9, 10. (a) Wat het met Ammon, Moab en Edom gebeur? (b) Watter voorbeelde wys dat nie almal in daardie nasies vyande van Israel was nie?

9 Jehovah het Israel se vêrlangse familielede gestraf omdat hulle Sy volk so sleg behandel het. Hy het gesê: “Ek sal . . . die Ammoniete as ’n besitting gee aan die mense van die Ooste, sodat die Ammoniete nie onder die nasies onthou sal word nie.” Hy het ook gesê: “Ek sal die mense in Moab oordeel en straf, en hulle sal moet weet dat ek Jehovah is” (Eseg. 25:10, 11). Omtrent vyf jaar nadat Jerusalem vernietig is, het daardie profesieë begin waar word toe die Babiloniërs die Ammoniete en Moabiete oorwin het. Jehovah het oor Edom gesê dat hy “mens en dier daar [sou] uitroei” en dat hy “dit ’n verlate plek [sou] maak” (Eseg. 25:13). Soos daar voorspel is, het Ammon, Moab en Edom uiteindelik opgehou om te bestaan. – Jer. 9:25, 26; 48:42; 49:17, 18.

10 Maar nie almal in daardie nasies was vyande van God se volk nie. Byvoorbeeld, Selek die Ammoniet en Jitma die Moabiet was van koning Dawid se magtige vegters (1 Kron. 11:26, 39, 46; 12:1). En die Moabitiese vrou Rut het ’n lojale aanbidder van Jehovah geword. – Rut 1:4, 16, 17.

Moenie eers een keer ingee nie

11. Wat kan ons leer uit Israel se assosiasie met Ammon, Moab en Edom?

11 Watter lesse kan ons leer uit Israel se assosiasie met daardie nasies? Eerstens, toe die Israeliete toegelaat het dat daardie nasies hulle beïnvloed, het hulle valse gode begin aanbid, soos die Baäl van Peor, die god van die Moabiete, en Molog, die god van die Ammoniete (Num. 25:1-3; 1 Kon. 11:7). So iets kan ook met ons gebeur. Familielede wat nie Getuies is nie, sal dalk druk op ons plaas om iets te doen waarvan God nie hou nie. Byvoorbeeld, hulle verstaan dalk nie hoekom ons nie Paasfees vier, Kersgeskenke gee of aan ander gewilde gebruike deelneem wat met valse godsdiens te doen het nie. Hulle sal ons miskien probeer kry om een van hierdie dinge te doen – al is dit net een keer. Hulle bedoel dalk goed, maar dit is baie belangrik dat ons nooit ingee nie! Soos Israel se geskiedenis vir ons wys, kan dit baie slegte gevolge hê, al gee ons net een keer in.

12, 13. Wie sal ons dalk teëstaan, en wat kan gebeur as ons lojaal bly?

12 Ons kan nog iets leer uit Israel se assosiasie met Ammon, Moab en Edom. Familielede wat nie Getuies is nie, sal ons dalk erg teëstaan. Jesus het gewaarsku dat ons boodskap soms “verdeeldheid [sou] veroorsaak: ’n man teen sy pa, en ’n dogter teen haar ma” (Matt. 10:35, 36). Jehovah het vir die Israeliete gesê om nie ’n bakleiery te begin met hulle familielede nie, en ons wil ook nie baklei met ons familielede wat nie Getuies is nie. Maar ons moenie verbaas wees as hulle ons teëstaan nie. – 2 Tim. 3:12.

13 Maar selfs al probeer ons familielede ons nie keer om Jehovah te aanbid nie, moet ons nie toelaat dat hulle vir ons belangriker word as Jehovah nie. Hoekom nie? Want Jehovah verdien die eerste plek in ons hart. (Lees Matteus 10:37.) En as ons lojaal bly aan Jehovah, sal party van ons familielede dalk soos Selek, Jitma en Rut wees en Jehovah saam met ons begin aanbid (1 Tim. 4:16). Dan sal hulle ook kan sien hoe gelukkig dit ’n mens maak om die enigste ware God te dien en om sy liefde en beskerming te geniet.

Jehovah straf sy vyande

14, 15. Hoe het die Filistyne die Israeliete behandel?

14 Die Filistyne het van die eiland Kreta af gekom en het gaan woon in die land wat Jehovah later aan Abraham en sy nakomelinge belowe het. Abraham sowel as Isak het kontak met hulle gehad (Gen. 21:29-32; 26:1). Teen die tyd dat die Israeliete in die Beloofde Land ingegaan het, was die Filistyne ’n magtige nasie met ’n baie sterk leërmag. Hulle het valse gode aanbid, soos Baäl-Sebub en Dagon (1 Sam. 5:1-4; 2 Kon. 1:2, 3). Soms het Israel hierdie gode ook aanbid. – Rigt. 10:6.

15 Omdat Israel nie lojaal was aan Jehovah nie, het hy toegelaat dat die Filistyne sy volk jare lank onderdruk (Rigt. 10:7, 8; Eseg. 25:15). Hulle het vir die Israeliete streng reëls gegee * en baie van hulle doodgemaak (1 Sam. 4:10). Maar wanneer Israel berou getoon het en na Jehovah teruggekeer het, het hy hulle gered. Hy het manne soos Simson, Saul en Dawid gebruik om Sy volk te red (Rigt. 13:5, 24; 1 Sam. 9:15-17; 18:6, 7). En soos Esegiël voorspel het, het Jehovah die Filistyne in sy ‘groot woede gestraf’ toe die Babiloniërs en later die Grieke hulle land aangeval het. – Eseg. 25:15-17.

16, 17. Watter lesse kan ons leer uit Israel se assosiasie met die Filistyne?

16 Watter lesse kan ons leer uit Israel se assosiasie met die Filistyne? In ons dag het van die magtigste nasies op aarde Jehovah se volk teëgestaan. Anders as Israel, het ons ’n rekord van lojaliteit aan Jehovah opgebou. Maar soms kan dit lyk of die vyande van rein aanbidding suksesvol is. Byvoorbeeld, in die vroeë 1900’s het die regering van die Verenigde State probeer om die werk van Jehovah se volk te stop. Hulle het dié wat die leiding geneem het in die organisasie vir baie jare tronk toe gestuur. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi’s in Duitsland probeer om God se volk uit te roei. Hulle het duisende tronk toe gestuur en honderde doodgemaak. Ná daardie oorlog het die Sowjetunie ’n jarelange kampanje teen Jehovah se Getuies begin. Hulle het ons broers na strafkampe of afgeleë dele van die land gestuur.

17 Regerings sal dalk aanhou om ons predikingswerk te verbied, God se volk in die tronk te gooi en om party van ons selfs dood te maak. Moet hierdie dinge ons bang maak of ons geloof swak laat word? Nee! Jehovah sal sy lojale volk beskerm. (Lees Matteus 10:28-31.) Ons het al gesien hoe magtige, wrede regerings verdwyn, terwyl Jehovah se volk aanhou groei. Net soos die Filistyne, sal alle regerings binnekort gedwing word om te weet wie Jehovah is. En soos die Filistyne sal hulle ophou bestaan!

“Oorvloedige rykdom” is nie regtig ’n beskerming nie

18. Oor watter soort ryk het Tirus beheer gehad?

18 Die eertydse stad Tirus * was die sentrum van een van die groot kommersiële ryke van die wêreld van daardie tyd. In die weste het Tirus baie handelsroetes gehad wat regoor die Middellandse See gestrek het. In die ooste het Tirus beheer gehad oor handelsroetes wat die stad verbind het met ryke wat baie ver van Tirus af was. Tirus het honderde jare lank baie rykdom bymekaargemaak deur besigheid te doen met hierdie lande. Haar koopmanne en handelaars het so ryk geword dat hulle hulleself as leiers, of prinse, beskou het. – Jes. 23:8.

19, 20. Hoe was die mense van Tirus anders as die mense van Gibeon?

19 In Dawid en in Salomo se tyd het Israel noue kontak gehad met die mense van Tirus, wat materiaal en ambagsmanne voorsien het om Dawid se paleis en later Salomo se tempel te bou (2 Kron. 2:1, 3, 7-16). Tirus het Israel op sy beste gesien (1 Kon. 3:10-12; 10:4-9). Dink aan die wonderlike geleentheid wat die duisende mense van Tirus gehad het. Hulle kon oor rein aanbidding leer, Jehovah leer ken en self sien watter seëninge ’n mens kry wanneer jy die ware God dien!

20 Maar die mense van Tirus het nie van hierdie geleentheid gebruik gemaak nie. Hulle het eerder materialisties gebly. Hulle het nie die voorbeeld van Gibeon, ’n magtige stad in Kanaän, gevolg nie. Die mense daar het net gehoor van die wonderlike dinge wat Jehovah gedoen het, en dit het hulle gemotiveer om hom te begin dien (Jos. 9:2, 3, 22–10:2). Maar die mense van Tirus het God se volk begin teëstaan en het selfs party van hulle as slawe verkoop. – Ps. 83:2, 7; Joël 3:4, 6; Amos 1:9.

Ons moet nooit dink dat materiële dinge ons kan beskerm nie

21, 22. Wat het met Tirus gebeur, en hoekom?

21 Deur middel van Esegiël het Jehovah vir daardie vyande gesê: “Kyk, ek is teen jou, o Tirus, en ek sal baie nasies teen jou bring, soos die see sy golwe laat opkom. Hulle sal die mure van Tirus vernietig en die torings afbreek, en ek sal grond wegskraap en dit ’n blink, kaal rots maak” (Eseg. 26:1-5). Die mense van Tirus het gedink dat hulle rykdom hulle sou beskerm, net soos die mure om die eiland, wat 46 meter hoog was, hulle beskerm het. Dit sou vir hulle goed gewees het as hulle geluister het na Salomo se waarskuwing: “Die rykdom van die ryk man is vir hom soos ’n sterk stad. Dit is soos ’n beskermende muur in sy verbeelding.” – Spr. 18:11.

22 Toe die Babiloniërs en toe later die Grieke Esegiël se profesie laat waar word het, het die mense van Tirus besef dat die stad se rykdom en mure hulle nie regtig kon beskerm nie. Nadat die Babiloniërs Jerusalem vernietig het, het hulle na Tirus gegaan en die stad 13 jaar lank beleër (Eseg. 29:17, 18). Toe, in 332 VHJ, het Aleksander die Grote ’n belangrike deel van Esegiël se profesieë laat waar word. * Sy leërmag het die ruïnes van Tirus op die deel van die vasteland bymekaargeskraap en die klippe, hout en grond in die water gegooi om ’n pad te bou om by die deel van die stad op die eiland uit te kom (Eseg. 26:4, 12). Aleksander het deur die mure gebreek, die stad gestroop, duisende soldate en ander mense doodgemaak en duisende ander as slawe verkoop. Die mense van Tirus was gedwing om te weet wie Jehovah is toe hulle op die harde manier geleer het dat “oorvloedige rykdom” hulle nie regtig kan beskerm nie. – Eseg. 27:33, 34.

Al het dit gelyk of Tirus heeltemal veilig is, was dit vernietig, net soos Esegiël voorspel het (Sien paragraaf 22)

23. Watter les kan ons leer uit wat met die mense van Tirus gebeur het?

23 Watter les kan ons leer uit wat met die mense van Tirus gebeur het? Ons wil nie toelaat dat “die bedrieglike krag van rykdom” ons op materiële dinge laat vertrou nie, en ons moenie dink dat dit ons kan beskerm nie (Matt. 13:22). Ons kan nie “slawe van God en van Rykdom wees nie”. (Lees Matteus 6:24.) Net mense wat Jehovah met hulle hele hart dien, is regtig veilig (Matt. 6:31-33; Joh. 10:27-29). Net soos die profesieë oor Tirus waar geword het, sal die profesieë oor die einde van hierdie wêreld tot in die fynste detail waar word. Dan sal almal wat op rykdom vertrou, gedwing word om te weet wie Jehovah is wanneer hy hierdie wêreld se gierige, selfsugtige kommersiële stelsel vernietig.

Moenie op menslike regerings vertrou nie

24-26. (a) Hoekom het Jehovah gesê dat Egipte “’n stukkie strooi” was? (b) Hoe het Sedekia Jehovah se bevel geïgnoreer, en wat was die gevolg?

24 Selfs voor Josef se tyd het Egipte groot politieke invloed in die Beloofde Land gehad, en dit was nog steeds so toe die Babiloniërs teen Jerusalem gaan veg het. Omdat Egipte so ’n lang geskiedenis gehad het, het dit dalk stabiel gelyk, soos ’n sterk ou boom. Maar in vergelyking met Jehovah was Egipte swak – net soos “’n stukkie strooi”. – Eseg. 29:6.

25 Die afvallige koning Sedekia het nie besef dat Egipte eintlik swak is nie. Deur middel van die profeet Jeremia het Jehovah vir Sedekia gesê om onderdanig te wees aan die koning van Babilon (Jer. 27:12). Sedekia het selfs in Jehovah se naam gesweer dat hy nie teen Nebukadnesar sou rebelleer nie. Maar toe het hy Jehovah se bevel geïgnoreer. Hy het nie gebly by sy belofte wat hy aan Nebukadnesar gemaak het nie en hy het Egipte gevra om hom te help om te veg teen die Babiloniërs (2 Kron. 36:13; Eseg. 17:12-20). Maar die Israeliete wat op Egipte vertrou het, het hulleself in die voet geskiet (Eseg. 29:7). Dalk het dit gelyk of Egipte so sterk was soos ’n “groot seemonster” (Eseg. 29:3, 4). Maar Jehovah het gesê dat hy met hulle sou doen wat jagters met Nylkrokodille gedoen het. In die verlede het jagters krokodille gevang deur hake in hulle kake te sit, en hulle het hulle dan doodgemaak. Jehovah het dit met Egipte gedoen toe hy die Babiloniërs gestuur het om daardie land te oorwin. – Eseg. 29:9-12, 19.

26 Wat het met die dislojale koning Sedekia gebeur? Omdat hy teen Jehovah gerebelleer het, het Esegiël voorspel dat hierdie “goddelose hoofman” sy kroon sou verloor en dat hy nie meer as koning sou regeer nie. Maar Esegiël het ook hoop gegee (Eseg. 21:25-27). Jehovah het hom laat voorspel dat ’n koning in die koninklike geslagslyn, die een wat “die wetlike reg” gehad het, op die troon sou sit. In die volgende hoofstuk van hierdie boek sal ons sien wie hierdie persoon was.

27. Wat kan ons leer uit Israel se assosiasie met Egipte?

27 Watter les kan ons leer uit Israel se assosiasie met Egipte? Jehovah se aanbidders van vandag moenie op politieke magte vertrou en dink dat hulle ons regtig kan beskerm nie. Ons moet selfs in ons gedagtes “geen deel van die wêreld” wees nie (Joh. 15:19; Jak. 4:4). Die politieke stelsel lyk dalk sterk, maar net soos Egipte is dit so swak soos ’n stukkie strooi. Dit sou baie dom wees as ons op mense sou vertrou eerder as op die almagtige Skepper van die heelal! – Lees Psalm 146:3-6.

Selfs as ons alleen is, moet ons nie kant kies in hierdie wêreld se politiek nie (Sien paragraaf 27)

Die nasies “sal moet weet”

28-30. Hoe sal die nasies gedwing word om te weet wie Jehovah is, en hoe kan ons wys dat ons Jehovah ken?

28 Jehovah sê baie keer in die boek Esegiël dat die nasies “sal moet weet dat ek Jehovah is” (Eseg. 25:17). Daardie woorde het beslis in die ou tyd waar geword toe Jehovah sy aanbidders se vyande gestraf het. Maar in ons dag sal dit in ’n groter sin waar word. Hoe sal dit gebeur?

29 Soos God se aanbidders in die verlede, is ons omring deur nasies wat dink dat ons so onbeskermd is soos ’n eensame skapie (Eseg. 38:10-13). In Hoofstuk 17 en 18 van hierdie boek sal ons bespreek hoe die nasies God se volk binnekort op ’n baie wrede manier sal aanval. Maar wanneer hulle dit doen, sal hulle leer wat krag regtig is. Wanneer Jehovah hulle gedurende die oorlog van Armageddon vernietig, sal hulle gedwing word om te weet wie Jehovah is en om te erken dat hy die reg het om te regeer. – Op. 16:16; 19:17-21.

30 Maar Jehovah sal ons beskerm, en hy sal ons seën. Hoekom? Omdat ons nou wys dat ons Jehovah ken deur op hom te vertrou, deur hom te gehoorsaam en deur hom die rein aanbidding te gee wat hy verdien. – Lees Esegiël 28:26.

^ par. 15 Byvoorbeeld, die Filistyne het nie toegelaat dat enige iemand metaalwerk in Israel doen nie. Die Israeliete moes hulle landbougereedskap by die Filistyne laat skerp maak. Die Filistyne het hulle ’n bedrag geld gevra wat gelyk was aan ’n hele paar dae se loon om hierdie werk vir hulle te doen. – 1 Sam. 13:19-22.

^ par. 18 Dit lyk of die oorspronklike stad Tirus gebou is op ’n rotsagtige eiland net langs die kus, ongeveer 50 km noord van die berg Karmel. Later is die deel van Tirus wat op die vasteland was, gebou. In Hebreeus was die naam van die stad Sur, en dit beteken “rots”.

^ par. 22 Jesaja, Jeremia, Joël, Amos en Sagaria het ook teen Tirus geprofeteer, en elke detail van hulle profesieë het waar geword. – Jes. 23:1-8; Jer. 25:15, 22, 27; Joël 3:4; Amos 1:10; Sag. 9:3, 4.