Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 16

“Maak ’n merk op die voorkoppe”

“Maak ’n merk op die voorkoppe”

ESEGIËL 9:4

HOOFPUNT: Hoe gehoorsame mense in Esegiël se dag gemerk is sodat hulle kon oorleef en wat hierdie merk vandag beteken

1-3. (a) Hoekom is Esegiël geskok, en wat vind hy uit oor Jerusalem se vernietiging? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

ESEGIËL is geskok! Hy het nou net ’n visioen gehad van die walglike dinge wat die afvallige Jode in die tempel in Jerusalem doen. * Daardie rebelle het die plek wat die sentrum van rein aanbidding in Israel was, besoedel. Maar hulle het nie net die tempel besoedel nie. Die land van Juda het vol geweld geword en kan nie meer herstel word nie. Jehovah is diep seergemaak deur wat sy volk doen, en hy sê vir Esegiël: “Ek sal . . . in woede optree.” – Eseg. 8:17, 18.

2 Dit maak Esegiël baie hartseer om te weet dat Jerusalem en die tempel, wat in die verlede ’n heilige plek was, deur Jehovah vernietig gaan word! Esegiël wonder seker: ‘Wat van die gehoorsame mense in die stad? Sal hulle gered word? Hoe sal hulle gered word?’ Esegiël hoef nie lank te wag vir antwoorde nie. Hy het nou net gehoor hoe Jerusalem veroordeel word, en dan hoor hy hoe ’n harde stem die manne roep wat die stad sal straf (Eseg. 9:1). In die visioen vind die profeet uit dat net die goddeloses vernietig sal word. Hy is baie verlig dat die regverdiges die vernietiging van Jerusalem sal oorleef!

3 Terwyl die einde van hierdie goddelose wêreld nader kom, wonder ons dalk ook wie die groot vernietiging gaan oorleef. Kom ons bespreek dan die volgende vrae: (1) Wat het Esegiël volgende in die visioen gesien? (2) Hoe het die visioen in sy dag waar geword? (3) Wat beteken hierdie visioen vandag vir ons?

“Roep dié wat die stad sal straf”

4. Beskryf wat Esegiël volgende in die visioen gesien en gehoor het.

4 Wat het Esegiël volgende in die visioen gesien en gehoor? (Lees Esegiël 9:1-11.) Sewe manne het “uit die rigting gekom . . . van die boonste poort wat noord kyk”. Dalk was dit naby die plek waar die afgodsbeeld was of waar die vrouens oor die god Tammus gehuil het (Eseg. 8:3, 14). Die sewe manne het by die binneste voorhof van die tempel ingegaan en naby die koperaltaar gaan staan. Maar hulle het nie gekom om ’n offerande te bring nie. Jehovah het nie nou meer offerandes by die tempel aanvaar nie. Ses van die manne het “elkeen . . . ’n wapen in sy hand gehad om mee stukkend te slaan”. Maar die sewende man was baie anders. Hy het linneklere aangehad, en hy het nie ’n wapen gehad nie, maar “’n sekretaris se inkhoring” of, soos die voetnoot sê, “’n oorskrywer se inkhouer”.

5, 6. Wat het gebeur met die mense wat die merk gehad het? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

5 Wat moes die man met die inkhoring doen? Jehovah het vir hom ’n baie belangrike opdrag gegee: “Gaan deur die stad, deur Jerusalem, en maak ’n merk op die voorkoppe van die mense wat sug en steun oor al die afskuwelike dinge wat in die stad gedoen word.” Dalk het Esegiël op daardie oomblik teruggedink aan die lojale Israeliete wat bloed teen die boonste deel van die deuropeninge en teen die deurposte gesit het as ’n teken dat hulle eersgeborenes gered moes word (Eks. 12:7, 22, 23). Sou die merk wat die man met die inkhoring op die voorkoppe van die mense gemaak het, dieselfde doel hê – om te wys dat die mense met die merk gered moet word wanneer Jerusalem vernietig word?

6 Ons kry die antwoord wanneer ons dink aan hoekom die merk gemaak is. Dit moes op die voorkoppe van die mense gemaak word wat ‘gesug en gesteun’ het oor die afskuwelike dinge wat “in die stad gedoen” was. So wat weet ons omtrent die mense wat gemerk is? Hulle was nie net baie hartseer oor die afgodediens by die tempel nie, maar ook oor al die geweld, onsedelikheid en slegte dinge in Jerusalem (Eseg. 22:9-12). En hulle het nie hulle gevoelens weggesteek nie. Die woorde en dade van sulke opregte persone het beslis gewys dat die dinge wat in die land gebeur het, vir hulle walglik was en dat hulle lief was vir rein aanbidding. Jehovah sou hierdie regverdige mense red as gevolg van sy groot genade.

7, 8. Hoe moes die manne met die wapens om mee stukkend te slaan, hulle opdrag uitvoer, en wat was die uiteinde?

7 Hoe moes die ses manne met die wapens om mee stukkend te slaan, hulle opdrag uitvoer? Esegiël het gehoor wat Jehovah vir hulle gesê het: Wanneer die man met die inkhoring die mense klaar gemerk het, moet julle almal doodmaak behalwe dié wat ’n merk op hulle voorkoppe het. Jehovah het gesê: “Julle moet by my heiligdom begin” (Eseg. 9:6). Die manne moes hulle werk begin by die tempel in Jerusalem, wat nie meer vir Jehovah heilig was nie. Die eerstes wat doodgemaak moes word, was “die ouermanne wat voor die tempel was” – die 70 ouermanne van Israel wat in die tempel was en wat reukwerk aan valse gode geoffer het. – Eseg. 8:11, 12; 9:6.

8 Wat was die uiteinde? Terwyl Esegiël aangehou kyk en luister het, het die man met die inkhoring vir Jehovah gesê: “Ek het gedoen net soos u my beveel het” (Eseg. 9:11). Dit laat ons natuurlik wonder: ‘Wat het met die mense van Jerusalem gebeur? Was daar enige gehoorsame mense wat die vernietiging oorleef het?’

Hoe het die visioen in Esegiël se dag waar geword?

9, 10. Wie was party van die lojale mense wat Jerusalem se vernietiging oorleef het, en wat kan ons van hulle sê?

9 Lees 2 Kronieke 36:17-20. Esegiël se profesie het in 607 VHJ waar geword toe die Babiloniese leërmag Jerusalem en die tempel vernietig het. Die Babiloniërs was soos ’n “beker in die hand van Jehovah”, want hy het hulle gebruik om die dislojale mense van Jerusalem te straf (Jer. 51:7). Was almal doodgemaak? Nee. Esegiël se visioen het voorspel dat party nie deur die Babiloniërs doodgemaak sou word nie. – Gen. 18:22-33; 2 Pet. 2:9.

10 ’n Hele paar lojale mense het oorleef, insluitende die Regabiete, Ebed-Meleg die Etiopiër, Jeremia die profeet en Barug, sy sekretaris (Jer. 35:1-19; 39:15-18; 45:1-5). Esegiël se visioen laat ons dalk tot die gevolgtrekking kom dat sulke mense ‘gesug en gesteun het oor al die afskuwelike dinge’ wat in Jerusalem gedoen word (Eseg. 9:4). Voor die vernietiging het hulle beslis gewys dat hulle goddeloosheid haat en lief is vir rein aanbidding, en daarom kon hulle die kans kry om gered te word.

11. Wie het die ses manne met die wapens om mee stukkend te slaan en die man met die sekretaris se inkhoring, afgebeeld?

11 Het daardie lojale mense ’n letterlike merk gekry? Daar is geen bewyse dat Esegiël of enige ander profeet deur Jerusalem gegaan het en ’n letterlike merk op die voorkoppe van lojale mense gemaak het nie. So Esegiël se profetiese visioen wys wat in die hemel gebeur het, dinge wat mense nie kon sien nie. Die man met die sekretaris se inkhoring en die ses manne met die wapens om mee stukkend te slaan, beeld Jehovah se lojale engele af, wat altyd gereed is om Jehovah se wil te doen (Ps. 103:20, 21). Jehovah het beslis sy engele gebruik toe hy die dislojale mense van Jerusalem gestraf het. Dit was asof die engele ’n merk gemaak het op die voorkoppe van die mense wat gered moes word. So het die engele seker gemaak dat net die goddeloses vernietig word.

Wat beteken Esegiël se visioen vir ons vandag?

12, 13. (a) Hoekom het Jehovah Jerusalem gestraf, en hoekom kan ons iets soortgelyks in ons dag verwag? (b) Stel die Christendom die dislojale Jerusalem voor? Verduidelik. (Sien die venster “Stel die Christendom Jerusalem voor?”)

12 Ons sal binnekort ’n oordeel van God ondervind wat niemand al ooit ondervind het nie – die “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie plaasgevind het nie, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matt. 24:21). Terwyl ons vir daardie belangrike gebeurtenis wag, ontstaan daar ’n paar vrae: Sal net die goddeloses doodgemaak word? Sal Jehovah se aanbidders op die een of ander manier gemerk word sodat hulle kan oorleef? Met ander woorde, sal Esegiël se profetiese visioen van die man met die inkhoring ook in ons tyd waar word? Die antwoord op al drie vrae is ja. Hoekom sê ons so? Kom ons kyk weer na Esegiël se visioen om die antwoord te kry.

13 Onthou jy hoekom Jehovah die mense in Jerusalem gestraf het? Kom ons kyk weer na Esegiël 9:8, 9. (Lees.) Esegiël was bang dat “almal . . . wat in Israel oorbly”, vernietig sou word. Daarom het Jehovah vier redes vir sy oordeel gegee. Eerstens, “die sonde” van die nasie was “baie, baie groot”. * Tweedens, die land van Juda was “vol bloedskuld”. Derdens, Jerusalem, die hoofstad van Juda, was “vol slegtheid”. Vierdens, die volk het hulle goddelose gedrag probeer goedpraat deur hulleself te oortuig dat Jehovah nie hulle goddelose gedrag “sien nie”. Is dit nie ’n goeie beskrywing van hierdie onsedelike, gewelddadige en goddelose wêreld van vandag nie? Jehovah “verander nie”. Wat hom in Esegiël se dag kwaad gemaak het, sal hom ook vandag kwaad maak (Jak. 1:17; Mal. 3:6). Daarom verwag ons dat die ses manne met die wapens om mee stukkend te slaan en die man met die inkhoring, vandag ook werk het om te doen!

14, 15. Watter voorbeelde wys dat Jehovah mense waarsku voordat hy vernietiging bring?

14 Maar hoe word Esegiël se profetiese visioen in ons dag waar? As ons kyk na hoe die visioen in die verlede waar geword het, kan ons leer wat om nou en in die toekoms te verwag. Kom ons kyk na dele van Esegiël se profesie wat al waar geword het en na dele wat nog gaan waar word.

Die ses manne met die wapens om mee stukkend te slaan, sal binnekort werk hê om te doen (Sien paragraaf 12, 13)

15 Jehovah waarsku mense voordat hy vernietiging bring. Soos ons in Hoofstuk 11 van hierdie boek gesien het, het Jehovah Esegiël “as ’n wag vir die huis van Israel aangestel” (Eseg. 3:17-19). Vanaf 613 VHJ het Esegiël die Israeliete reguit gewaarsku oor die vernietiging wat kom. Ander profete, insluitende Jesaja en Jeremia, het die Israeliete ook gewaarsku oor Jerusalem se vernietiging (Jes. 39:6, 7; Jer. 25:8, 9, 11). Vandag gebruik Jehovah, deur middel van Christus, ’n klein groepie gesalfde Christene om nie net vir rein aanbidders, dit wil sê die huisknegte, geestelike voedsel te gee nie, maar ook om ander te waarsku oor die groot verdrukking wat vinnig nader kom. – Matt. 24:45.

16. Merk ons as Jehovah se volk die mense wat gered gaan word? Verduidelik.

16 Jehovah se volk merk nie die mense wat sal oorleef nie. Onthou dat Jehovah nie vir Esegiël gesê het dat hy deur Jerusalem moet gaan en mense moet merk sodat hulle kan oorleef nie. Net so sê Jehovah nie vandag vir sy volk om mense te merk wat nie vernietig gaan word nie. As huisknegte het ons eerder die opdrag om te preek. Ons wys dat ons hierdie opdrag ernstig opneem deur ons bes te doen om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en om mense te waarsku dat hierdie goddelose wêreld binnekort vernietig sal word (Matt. 24:14; 28:18-20). Op hierdie manier help ons opregte mense om Jehovah op ’n rein manier te aanbid. – 1 Tim. 4:16

17. Wat moet mense nou doen sodat hulle in die toekoms gemerk kan word?

17 As mense nie vernietig wil word nie, moet hulle nou bewys dat hulle geloof het. Soos ons vroeër gesien het, het die mense wat Jerusalem se vernietiging in 607 VHJ oorleef het, vooraf gewys dat hulle goddeloosheid haat en lief is vir rein aanbidding. Vandag is dit ook so. Voor die vernietiging kom, moet mense “sug en steun” – dit wil sê baie hartseer wees – oor hoe sleg hierdie wêreld is. Hulle moenie hulle gevoelens wegsteek nie. Hulle moet eerder deur hulle woorde en dade wys dat hulle lief is vir rein aanbidding. Hoe kan hulle dit doen? Hulle moet positief reageer op die predikingswerk wat vandag gedoen word, en hulle moet aanhou om die Christelike persoonlikheid aan te trek. Hulle moet hulle ook laat doop om te wys dat hulle aan Jehovah toegewy is, en hulle moet Christus se broers lojaal ondersteun (Eseg. 9:4; Matt. 25:34-40; Ef. 4:22-24; 1 Pet. 3:21). Net mense wat nou probeer om dit te doen – en wat rein aanbidders is wanneer die groot verdrukking begin – sal gemerk word sodat hulle gered kan word.

18. (a) Hoe en wanneer sal Jesus Christus regverdige mense merk? (b) Moet getroue gesalfdes gemerk word? Verduidelik.

18 Jesus gaan die regverdiges merk. In Esegiël se dag was engele betrokke by die werk om regverdiges te merk sodat hulle kan oorleef. Vandag beeld die man met die sekretaris se inkhoring Jesus Christus af wanneer hy “in sy heerlikheid kom” as Regter van al die nasies (Matt. 25:31-33). Jesus sal gedurende die groot verdrukking kom, nadat valse godsdiens vernietig is. * Op daardie belangrike tyd, net voordat Armageddon begin, sal Jesus mense as skape of bokke oordeel. Dié wat deel is van die “groot menigte” sal as skape geoordeel, of gemerk, word, en dit sal wys dat hulle “die ewige lewe [sal] ontvang” (Op. 7:9-14; Matt. 25:34-40, 46). Wat van getroue gesalfdes? Hulle hoef nie gemerk te word om Armageddon te oorleef nie. Hulle sal eerder hulle finale verseëling, dit wil sê hulle finale goedkeuring, ontvang voordat hulle sterf of voordat die groot verdrukking begin. Dan, op die een of ander stadium voordat Armageddon begin, sal hulle hemel toe gaan. – Op. 7:1-3.

19. Wie sal Jesus help om hierdie wêreld te vernietig? (Sien die venster “Sug en steun, maak ’n merk, slaan stukkend – Wanneer en hoe?”)

19 Die hemelse Koning, Jesus Christus, en sy hemelse leërmag sal hierdie goddelose wêreld vernietig. In Esegiël se visioen het die ses manne met die wapens om mee stukkend te slaan, eers met die vernietiging begin nadat die man in linneklere die mense klaar gemerk het (Eseg. 9:4-7). Net so gaan die vernietiging wat kom, begin nadat Jesus mense van al die nasies geoordeel het en die skape wat gaan oorleef, gemerk het. Dan, gedurende Armageddon, sal Jesus die hemelse leërmag, dit wil sê die engele en die 144 000, gebruik om hierdie goddelose wêreld heeltemal te vernietig en rein aanbidders na ’n regverdige nuwe wêreld te lei. – Op. 16:14-16; 19:11-21.

20. Watter aanmoedigende lesse het ons geleer uit Esegiël se visioen van die man met die sekretaris se inkhoring?

20 Ons is so dankbaar vir die aanmoedigende lesse wat ons leer uit Esegiël se visioen van die man met die sekretaris se inkhoring! Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah nie die regverdiges saam met die goddeloses sal vernietig nie (Ps. 97:10). Ons weet wat ons nou moet doen sodat ons gemerk kan word en in die toekoms gered kan word. As aanbidders van Jehovah is ons vasbeslote om ons bes te doen om die goeie nuus te verkondig en om dié wat sug en steun oor die slegte dinge in Satan se wêreld, te waarsku. Op hierdie manier kan ons mense met “die regte gesindheid vir die ewige lewe” help om Jehovah saam met ons op ’n rein manier te aanbid, en so kan hulle gemerk word en die kans kry om in God se regverdige nuwe wêreld te wees. – Hand. 13:48.

^ par. 1 Esegiël se visioen van die walglike dinge wat in die tempel gebeur, word in Hoofstuk 5 van hierdie boek bespreek.

^ par. 13 Volgens een naslaanwerk kan die Hebreeuse selfstandige naamwoord wat as “sonde” vertaal word, die idee van “verskriklike slegtheid” oordra. Nog ’n naslaanwerk het gesê dat hierdie selfstandige naamwoord ’n diep godsdienstige betekenis het en amper altyd gebruik word om te wys dat iemand aspris ongehoorsaam was aan God se regverdige standaarde.

^ par. 18 Die vernietiging van Babilon die Grote sal blykbaar nie beteken dat al die lede van valse godsdiens sal sterf nie. Op daardie tyd sal daar selfs party godsdiensleiers wees wat dalk valse godsdiens sal verlaat en sal sê dat hulle nooit deel daarvan was nie. – Sag. 13:3-6.