Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 21

“Die naam van die stad sal . . . wees: ‘Jehovah Is Daar’”

“Die naam van die stad sal . . . wees: ‘Jehovah Is Daar’”

ESEGIËL 48:35

HOOFPUNT: Wat die stad en die bydrae beteken

1, 2. (a) Watter spesiale deel van die land moes opsygesit word? (Sien prent op voorblad.) (b) Watter belofte het Jehovah in die visioen aan die gevangenes gemaak?

IN ESEGIËL se laaste visioen leer hy oor ’n deel van die land wat opsygesit moes word vir ’n spesiale doel. Daardie stuk grond was ’n bydrae vir Jehovah. Dit was nie ’n erfdeel vir ’n stam van Israel nie. Jehovah het ook vir Esegiël inligting gegee oor ’n pragtige stad met ’n interessante naam. In hierdie deel van die visioen maak Jehovah aan die gevangenes ’n baie belangrike belofte: Jehovah sal met hulle wees wanneer hulle na hulle kosbare tuisland teruggaan.

2 Esegiël gee vir ons ’n goeie beskrywing van daardie bydrae. Kom ons bespreek hierdie verslag, wat vir ons as ware aanbidders van Jehovah baie belangrik is.

“Die heilige bydrae” en die stad

3. Uit watter vyf gebiede het die land wat Jehovah opsygesit het, bestaan, en wat was die doel van hierdie gebiede? (Sien die venster “Die bydrae wat julle [opsy moet sit]”.)

3 Die spesiale deel van die land was 25 000 el (13 kilometer) van noord na suid en 25 000 el van oos na wes. Hierdie vierkantige stuk grond was “die hele bydrae” genoem. Dit was in drie horisontale dele verdeel. Die boonste deel was vir die Leviete, en die middelste deel was vir die tempel en die priesters. Daardie twee dele was “die heilige bydrae”. Die kleiner onderste deel, of “die oorblywende gebied”, was vir “algemene gebruik”. Dit was vir die stad. – Eseg. 48:15, 20.

4. Watter les kan ons leer uit die verslag oor die bydrae vir Jehovah?

4 Watter les kan ons uit hierdie verslag leer oor die bydrae vir Jehovah? Deur eers die grond vir hierdie spesiale bydrae en dan die grond vir die stamme opsy te sit, het Jehovah gewys dat hierdie deel van die land die belangrikste moet wees (Eseg. 45:1). Die gevangenes het beslis baie geleer uit die volgorde van die verdeling van die land. Die aanbidding van Jehovah moes die belangrikste ding in hulle lewe wees. Vandag is geestelike aktiwiteite, soos om God se Woord te studeer, Christelike vergaderinge by te woon en te preek, ook die belangrikste ding in ons lewe. Wanneer ons Jehovah se voorbeeld volg en die regte prioriteite stel, sal ons lewe elke dag rondom ons aanbidding draai.

“Die stad sal in die middel daarvan wees”

5, 6. (a) Aan wie het die stad behoort? (b) Waarna verwys die stad nie, en hoekom nie?

5 Lees Esegiël 48:15. Wat het “die stad” en die grond wat rondom die stad was, beteken? (Eseg. 48:16-18). In die visioen het Jehovah vir Esegiël gesê: “Die stad . . . moet aan die hele huis van Israel behoort” (Eseg. 45:6, 7). So die stad en die grond wat rondom die stad was, was nie deel van “die heilige bydrae” wat die volk “vir Jehovah opsy [moes] sit” nie (Eseg. 48:9). Met daardie verskil in gedagte, kom ons kyk wat ons uit die reëling van hierdie stad kan leer.

6 Voordat ons kan weet watter lesse ons uit hierdie stad kan leer, moet ons eers uitvind wat hierdie stad nie kon wees nie. Dit kon nie die herboude stad Jerusalem met sy tempel wees nie. Hoekom nie? Omdat die stad wat Esegiël in ’n visioen gesien het, nie ’n tempel gehad het nie. En die stad het nie verwys na enige ander stad in die herstelde land van Israel nie. Hoekom nie? Omdat die gevangenes en hulle nakomelinge nooit ’n stad gebou het met die kenmerke wat in hierdie visioen beskryf word nie. En dit kon ook nie ’n stad in die hemel wees nie. Hoekom nie? Omdat dit gebou was op grond wat “vir algemene gebruik” was. Dit was anders as geboue wat gebou was op grond wat opsygesit was vir die aanbidding van Jehovah. – Eseg. 42:20.

7. Wat is die stad wat Esegiël gesien het, en wat stel dit moontlik voor? (Sien prent aan begin van artikel.)

7 So wat is die stad wat Esegiël gesien het? Onthou dat hy die stad in dieselfde visioen gesien het as waarin hy die land gesien het (Eseg. 40:2; 45:1, 6). God se Woord wys dat die land na ’n geestelike land verwys, en daarom moet die stad ook na ’n geestelike stad verwys. Wat beteken die woord “stad” oor die algemeen? Die woord dra die idee oor van mense wat as ’n groep saam woon in ’n georganiseerde struktuur. So dit lyk asof die goed georganiseerde stad wat Esegiël gesien het – wat ’n perfekte vierkant gevorm het – ’n goed georganiseerde regering voorstel.

8. Waar funksioneer hierdie administrasie, en hoekom kan ons so sê?

8 Waar funksioneer hierdie administrasie? Esegiël se visioen wys dat hierdie stad in die geestelike land funksioneer. So vandag funksioneer hierdie administrasie in die geestelike paradys, en die administrasie rig die aktiwiteite van God se volk. Wat beteken die feit dat die stad gebou is op grond vir algemene gebruik? Dit herinner ons dat die stad na ’n aardse administrasie verwys, nie na ’n hemelse administrasie nie. Hierdie administrasie bevoordeel almal wat in die geestelike paradys woon.

9. (a) Uit wie bestaan hierdie aardse administrasie vandag? (b) Wat sal Jesus gedurende die duisend jaar doen?

9 Uit wie bestaan hierdie aardse administrasie? In Esegiël se visioen is die een wat die leiding in die bestuur van die stad geneem het, “die hoofman” genoem (Eseg. 45:7). Hy was ’n opsiener onder die volk, maar hy was nie ’n priester of ’n Leviet nie. Hierdie hoofman laat ons veral dink aan gemeentelike ouermanne wat nie gesalfdes is nie. Hierdie liefdevolle geestelike herders wat deel is van die “ander skape,” is nederige aardse knegte van Christus se hemelse regering (Joh. 10:16). Gedurende die duisend jaar sal Jesus “hoofde [of bekwame ouermanne] regoor die aarde aanstel” (Ps. 45:16). Onder die leiding van die hemelse Koninkryk, sal hulle gedurende die duisend jaar vir God se volk sorg.

“Jehovah Is Daar”

10. Wat is die naam van die stad, en watter versekering gee dit?

10 Lees Esegiël 48:35. Die naam van die stad is: “Jehovah Is Daar.” Hierdie naam verseker die mense dat Jehovah se teenwoordigheid in hierdie stad gevoel kan word. Deur vir Esegiël hierdie stad te wys wat op ’n sentrale plek was, het Jehovah in werklikheid vir die gevangenes gesê: ‘Ek sal weer met julle wees!’ Dit was so ’n aanmoedigende belofte!

11. Watter lesse kan ons leer uit Esegiël se visioen oor die stad en die betekenisvolle naam daarvan?

11 Watter lesse kan ons uit hierdie deel van Esegiël se profesie leer? Die naam van die stad verseker ons as God se aanbidders dat Jehovah nou met sy lojale aanbidders op die aarde is, en altyd sal wees. Hierdie betekenisvolle naam beklemtoon ook ’n belangrike waarheid: Die stad is nie daar om vir mense mag te gee nie, maar om Jehovah se liefdevolle en redelike standaarde toe te pas. Jehovah het byvoorbeeld nie vir die administrasie die gesag gegee om die land te verdeel soos hulle goeddink nie. Jehovah verwag eerder dat die administrasie die verdeling, of voorregte, moet respekteer wat hy vir sy aanbidders, insluitende vir die “armes”, gegee het. – Spr. 19:17; Eseg. 46:18; 48:29.

12. (a) Wat is ’n belangrike kenmerk van hierdie stad, en wat wys dit? (b) Waaraan herinner hierdie aspek van die visioen Christenopsieners?

12 Wat is nog ’n belangrike kenmerk van die stad “Jehovah Is Daar”? Hierdie stad het 12 poorte, terwyl stede in die ou tyd mure gehad het met so min poorte as moontlik! (Eseg. 48:30-34). Hierdie groot aantal poorte (drie aan elke kant van die vierkantige stad) wys dat dit maklik is om die bestuurders van hierdie stad te nader en dat hulle beskikbaar is vir al God se aanbidders. En die stad se 12 poorte wys dat dit oop is vir almal, vir “die hele huis van Israel” (Eseg. 45:6). Die feit dat die stad so baie poorte het en dat dit so maklik is om by die stad in te gaan, is ’n belangrike herinnering vir Christenopsieners. Jehovah wil hê dat hulle vriendelik moet wees en maklik moet wees om mee te praat en dat hulle beskikbaar moet wees vir almal wat in die geestelike paradys woon.

Christenopsieners is vriendelik en maklik om mee te praat en beskikbaar (Sien paragraaf 12)

God se volk ‘kom in om te aanbid’ en ‘dien die stad’

13. Wat het Jehovah gesê oor die verskillende dienste wat mense sou verrig?

13 Kom ons gaan terug na die tyd van Esegiël, en kom ons vind uit wat hy nog neergeskryf het in hierdie gedetailleerde visioen van die verdeling van die land. Jehovah noem mense wat verskillende vorme van diens doen. Priesters –“dienaars van die heiligdom” – moes offerandes offer en Jehovah nader om hom te dien. En Leviete – “dienaars van die tempel” – moes omsien “na die dienste daarvan en na al die dinge wat daarin gedoen [moes] word” (Eseg. 44:14-16; 45:4, 5). En daar sou werkers naby die stad werk. Wie was hierdie werkers?

14. Waaraan laat die werkers naby die stad ons dink?

14 Die werkers naby die stad kom uit “al die stamme van Israel”. Hulle het ’n ondersteunende rol. Hulle werk is om ’n opbrengs te lewer wat “kos [sal] voorsien aan dié wat die stad dien” (Eseg. 48:18, 19). Aan watter geleentheid laat hierdie reëling ons vandag dink? Vandag het almal in die geestelike paradys die geleentheid om Christus se gesalfde broers te ondersteun, asook die lede van die “groot menigte” wat deur Jehovah aangestel is om die leiding te neem (Op. 7:9, 10). ’n Belangrike manier waarop ons hulle ondersteun, is deur gewillig die leiding van die getroue slaaf te volg.

15, 16. (a) Wat kan ons nog leer uit Esegiël se visioen? (b) Aan watter dinge kan ons deelneem wat vergelyk kan word met dié in Esegiël se visioen?

15 Esegiël se visioen bevat nog iets waaruit ons ’n les oor die bediening kan leer. Wat is dit? Jehovah sê dat lede van die 12 stamme wat nie Leviete is nie, op twee plekke aktief sou wees: in die tempel se voorhof en op die stad se weiveld. Wat doen hulle op elkeen van hierdie plekke? In die voorhof van die tempel kom al die stamme in “om te aanbid” deur offerandes aan Jehovah te offer (Eseg. 46:9, 24). Op die weiveld kom lede van al die stamme om die stad te ondersteun deur die land te bewerk. Wat kan ons leer uit die voorbeeld van hierdie werkers?

16 Vandag het lede van die groot menigte die geleentheid om dinge te doen wat vergelyk kan word met dié in Esegiël se visioen. Hulle aanbid Jehovah “in sy tempel” deur lofoffers te bring (Op. 7:9-15). Hulle doen dit deur aan die predikingswerk deel te neem en deur hulle geloof by Christelike vergaderinge uit te druk wanneer hulle kommentare gee en Koninkryksliedjies sing. Hulle beskou hierdie vorme van aanbidding as hulle belangrikste verantwoordelikheid (1 Kron. 16:29). En baie van God se aanbidders kan sy organisasie op verskillende praktiese maniere ondersteun. Byvoorbeeld, hulle help om Koninkryksale en takkantore te bou en in stand te hou, en hulle help met baie ander projekte waarmee Jehovah se organisasie besig is. Ander ondersteun hierdie projekte deur geld by te dra. Wanneer hulle dit doen, is dit asof hulle die land bewerk, en hulle doen dit “tot eer van God” (1 Kor. 10:31). Hulle werk hard en met vreugde omdat hulle weet dat ‘sulke offerandes Jehovah bly maak’ (Heb. 13:16). Maak jy ten volle gebruik van al hierdie geleenthede?

Watter lesse kan ons leer uit Esegiël se beskrywing van verskillende aktiwiteite in en rondom die stad se poorte? (Sien paragraaf 14-16)

“Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarna ons . . . uitsien”

17. (a) Watter groter vervulling van Esegiël se visioen sal ons in die toekoms sien? (b) Wie sal gedurende die duisend jaar by die administrasie baat vind?

17 Sal ons in die toekoms ’n groter vervulling van Esegiël se visioen oor die bydrae sien? Ja! Dink hieraan: Esegiël het gesien dat die stuk grond wat “die heilige bydrae” genoem word, in die middel van die land was (Eseg. 48:10). Net so sal Jehovah, ná Armageddon, by ons woon, maak nie saak waar ons op die aarde is nie (Op. 21:3). Gedurende die duisend jaar sal die administrasie – dit wil sê dié wat op die aarde aangestel is om vir God se volk te sorg – hulle invloed oor die aarde uitbrei. Hulle sal liefdevolle leiding en instruksies gee aan almal wat deel is van die “nuwe aarde”, dit wil sê ’n nuwe gemeenskap van mense. – 2 Pet. 3:13.

18. (a) Hoekom kan ons seker wees dat die administrasie in ooreenstemming met God se heerskappy sal wees? (b) Waarvan verseker die naam van die stad ons?

18 Hoekom kan ons seker wees dat die administrasie heeltemal in ooreenstemming met God se heerskappy sal bly? Omdat God se Woord dit duidelik maak dat die aardse stad met die 12 poorte die hemelse stad met die 12 poorte (dit wil sê Nuwe Jerusalem, wat bestaan uit Christus se 144 000 medeheersers) weerspieël (Op. 21:2, 12, 21-27). Dit wys dat die aardse administrasie alle besluite wat God se Koninkryk in die hemel gemaak het, sal uitvoer. Ja, die naam van die stad “Jehovah Is Daar” verseker elkeen van ons dat rein aanbidding sal bly bestaan en dat dit vir ewig in die Paradys sal floreer. Ons kan uitsien na ’n baie wonderlike toekoms!