Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Baie belangrike byeenkoms in 1919 was ’n kragtige bewys dat God se volk uiteindelik uit Babilon die Grote bevry is

ONDERRIGTINGSVENSTER 9B

Hoekom 1919?

Hoekom 1919?

Hoekom sê ons dat God se volk in 1919 uit Babilon die Grote bevry is? ’n Kombinasie van Bybelprofesieë en die geskiedenis help ons om tot daardie gevolgtrekking te kom.

Bybelprofesieë en die geskiedenis wys dat Jesus in 1914 as Koning in die hemel begin regeer het, en dit wys dat die laaste dae van Satan se wêreld begin het. Wat het Jesus gedoen toe hy Koning geword het? Het hy sy aanbidders op die aarde onmiddellik uit Babilon die Grote bevry? Het hy sy “getroue en verstandige slaaf” in 1914 aangestel en met die groot oeswerk begin? – Matt. 24:45.

Dit kon duidelik nie die geval gewees het nie. Onthou dat die apostel Petrus gesê het dat oordeel “by die huis van God [sou] begin” (1 Pet. 4:17). En die profeet Maleagi het ’n tyd voorspel wanneer Jehovah na Sy huis van aanbidding sou kom saam met “die boodskapper van die verbond”, die Seun van God (Mal. 3:1-5). God se aanbidders sou gedurende hierdie tydperk gereinig en getoets word. Bewys die geskiedenis dat daardie profesieë waar geword het?

Ja, beslis! Die tydperk vanaf 1914 tot vroeg in 1919 was vir die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, ’n moeilike tyd omdat hulle getoets en gereinig was. In 1914 was baie van God se aanbidders op die aarde teleurgesteld omdat die einde van die wêreld nie gekom het soos hulle gehoop het nie. Toe Charles T. Russell, wat ywerig die leiding onder God se volk geneem het, in 1916 dood is, was hulle selfs meer teleurgesteld. Joseph F. Rutherford het ná broer Russell die leiding geneem. Party wat té geheg was aan broer Russell het broer Rutherford erg teëgestaan. Verdeeldheid het ontstaan, en dit het so erg geword dat die organisasie in 1917 amper in twee geskeur het. Toe, in 1918, moes broer Rutherford en sewe van die broers wat saam het hom gewerk het, in die hof verskyn. Hulle was verkeerdelik skuldig bevind en tronk toe gestuur. Die kerkleiers het heel moontlik agter hierdie vervolging gesit. Die hoofkwartier in Brooklyn het toegemaak. Dit was duidelik dat God se volk nog nie uit Babilon die Grote bevry was nie!

Maar wat het in 1919 gebeur? Dinge het baie vinnig verander! Vroeg in 1919 is broer Rutherford en die ander broers uit die tronk vrygelaat. En hulle het weer aan die werk gespring! ’n Baie belangrike byeenkoms is gehou, en hulle het begin werk aan ’n nuwe tydskrif, The Golden Age (wat nou die Ontwaak! genoem word). Die nuwe tydskrif was bedoel om in kampanjes in die bediening gebruik te word. En ’n opsiener is in elke gemeente aangestel om die bediening te organiseer en die broers aan te moedig om te preek. In daardie selfde jaar is die Bulletin (wat nou Ons Christelike Lewe en Bediening – Vergaderingwerkboek genoem word) gepubliseer om te help om die predikingswerk te organiseer.

Wat het dit bewys? Dit was duidelik dat Christus sy volk uit Babilon die Grote bevry het. Hy het sy getroue en verstandige slaaf aangestel. Die oeswerk was aan die gang. Vanaf daardie belangrike jaar, 1919, het die werk baie vinnig gegroei.