Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 05

Die Bybel is God se boodskap aan ons

Die Bybel is God se boodskap aan ons

Jehovah het vir ons die Bybel gegee. Dit is ’n wonderlike geskenk wat bestaan uit 66 kleiner boeke. Maar jy wonder dalk: ‘Waar het die Bybel vandaan gekom? Hoekom kan ons sê dat die woorde daarin van God af kom?’ Om die antwoorde op hierdie vrae te kry, kom ons kyk hoe God se boodskap in die Bybel by ons uitgekom het.

1. As mense die Bybel geskryf het, hoekom sê ons dan dat dit van God af kom?

Die Bybel is deur omtrent 40 manne geskryf. Dit het ongeveer 1 600 jaar geneem om dit neer te skryf – vanaf 1513 VHJ tot omtrent 98 HJ. En al het hulle uit verskillende agtergronde gekom, stem die dinge wat hulle geskryf het, ooreen. Hoe is dit moontlik? Omdat die Bybel God se Woord is. (Lees 1 Tessalonisense 2:13.) Hierdie manne het nie hulle eie gedagtes neergeskryf nie. Hulle het eerder “God se woorde bekend gemaak terwyl hulle deur heilige gees gelei is” a (2 Petrus 1:21). God het sy heilige gees gebruik om mense te inspireer, dit wil sê te motiveer, om sy gedagtes neer te skryf. – 2 Timoteus 3:16.

2. Kan die Bybel almal help?

Die goeie nuus in die Bybel kan mense van “elke nasie en stam en taal en volk” help. (Lees Openbaring 14:6.) God het seker gemaak dat die Bybel beskikbaar sou wees in meer tale as enige ander boek in die geskiedenis. Vandag kan amper almal die Bybel lees, maak nie saak waar hulle bly of watter taal hulle praat nie.

3. Hoe het Jehovah die Bybel beskerm?

Die Bybel is geskryf op materiale wat nie baie lank gehou het nie. Maar mans wat lief was vir die Bybel, het dit versigtig oorgeskryf en akkurate kopieë daarvan gemaak. Al het party heersers en godsdiensleiers probeer om die Bybel te vernietig, het ander mense hulle lewens in gevaar gestel om dit te beskerm. Jehovah het nie toegelaat dat enige iemand of enige iets keer dat hy met ons kommunikeer nie. Die Bybel sê: “Die woord van ons God bly vir ewig.” – Jesaja 40:8.

SOEK DIEPER

Vind uit hoe God mense geïnspireer het, dit wil sê deur sy gees gelei het, om die Bybel te skryf, hoe hy dit beskerm het en hoe hy seker gemaak het dat alle mense dit kan lees.

4. Die Bybel wys self waar dit vandaan kom

Speel die VIDEO. Lees dan 2 Timoteus 3:16, en bespreek die volgende vrae.

  • As mense die Bybel geskryf het, hoekom word dit dan die Woord van God genoem?

  • Dink jy dat God sy gedagtes aan mense kon oordra sodat hulle dit kon neerskryf?

’n Sekretaris skryf dalk die brief, maar die boodskap daarin kom van die persoon wat vir hom sê wat om te skryf. Net so het mense die Bybel geskryf, maar die boodskap daarin kom van God af

5. Die Bybel het aanvalle oorleef

Omdat die Bybel van God af kom, het hy seker gemaak dat dit tot nou toe bestaan. Deur die geskiedenis het magtige mense die Bybel probeer vernietig. Godsdiensleiers wou nie hê dat mense die Bybel moes lees nie. Maar baie mense het hulle lewens in gevaar gestel om die Bybel te beskerm, al was hulle teëgestaan en al kon hulle doodgemaak word. Om meer oor een van hierdie mense te leer, speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

  • Stel jy meer daarin belang om die Bybel te lees noudat jy weet wat mense alles gedoen het om die Bybel te beskerm? Hoekom?

Lees Psalm 119:97, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoekom het baie mense hulle lewens in gevaar gestel om die Bybel te vertaal en dit te versprei?

6. ’n Boek vir alle mense

Die Bybel is in meer tale vertaal en is al meer versprei as enige ander boek in die geskiedenis. Lees Handelinge 10:34, 35, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Hoekom wil God hê dat sy Woord in so baie tale vertaal moet word en oral versprei moet word?

  • Waarvan hou jy die meeste omtrent die Bybel?

Amper

100%

van al die mense in die wêreld

kan die Bybel lees in ’n taal wat hulle verstaan

In meer as

3 000

tale beskikbaar

– die hele Bybel of dele daarvan

5 000 000 000

Dis omtrent hoeveel Bybels daar al vervaardig is

– baie meer as enige ander boek

PARTY MENSE SÊ: “Die Bybel is net ’n ou boek wat deur mense geskryf is.”

  • Wat dink jy?

  • Watter bewyse is daar dat die Bybel God se Woord is?

WAT ONS GELEER HET

Die Bybel is God se Woord, en hy het seker gemaak dat dit vir alle mense beskikbaar is.

Hersiening

  • Wat beteken dit wanneer ons sê dat God mense geïnspireer het om die Bybel te skryf?

  • Wat beïndruk jou oor hoe die Bybel oorleef het en hoe dit vertaal en versprei is?

  • Hoe voel jy noudat jy weet dat God soveel moeite gedoen het om met jou te kommunikeer?

Doelwit

LEER MEER

Lees oor die Bybel se geskiedenis – van die oorspronklike manuskripte tot moderne vertalings.

“Hoe die Bybel ons bereik het” (Ontwaak!, November 2007)

Vind uit hoe die Bybel drie groot gevare oorleef het.

“Die Bybel—’n Boek wat behoue gebly het” (Die Wagtoring, nr. 4 2016)

Kyk hoe ander mense hulle lewens in gevaar gestel het om die Bybel te vertaal.

Die Bybel was vir hulle kosbaar (14:26)

Die Bybel is al baie vertaal en daar is al baie kopieë daarvan gemaak. Hoe kan jy seker wees dat die boodskap daarin nie verander is nie?

“Is die Bybel verander?” (Web-artikel)

a Les 07 sal verduidelik dat die heilige gees God se werkende krag is.