Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 07

Watter soort persoon is Jehovah?

Watter soort persoon is Jehovah?

Waaraan dink jy wanneer jy aan Jehovah God dink? Is hy indrukwekkend, maar ver van jou af, soos die sterre van ’n sterrestelsel wat baie ver van die aarde af is? Of dink jy dat hy kragtig is, maar nie ’n persoonlikheid het nie, soos ’n donderstorm? Watter soort persoon is Jehovah regtig? Die Bybel sê vir ons wat party van Jehovah se eienskappe is. Dit sê ook dat hy in jou belangstel.

1. Hoekom kan ons God nie sien nie?

“God is ’n Gees” (Johannes 4:24). Jehovah het nie ’n fisiese liggaam soos ons nie. Hy is ’n Gees wat in die hemel woon, ’n plek wat ons nie kan sien nie.

2. Wat is party van Jehovah se eienskappe?

Ons kan Jehovah nie sien nie, maar hy is ’n regte Persoon met wonderlike eienskappe, en wanneer ons hom leer ken, word ons lief vir hom. Die Bybel sê: “Jehovah is lief vir geregtigheid, en hy sal nie sy lojales verlaat nie” (Psalm 37:28). Hy is ook “baie liefdevol en genadig”, veral teenoor mense wat swaarkry (Jakobus 5:11). “Jehovah is naby dié wie se hart gebreek is. Hy red dié wat mismoedig is” (Psalm 34:18). En het jy geweet dat die dinge wat ons doen, ’n uitwerking op Jehovah het? Iemand wat kies om slegte dinge te doen, stel hom teleur en maak hom hartseer (Psalm 78:40, 41). Maar iemand wat doen wat reg is, maak hom gelukkig. – Lees Spreuke 27:11.

3. Hoe wys Jehovah dat hy lief is vir ons?

Jehovah se mooiste eienskap is liefde. Om die waarheid te sê, “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Jehovah wys sy liefde vir ons deur die Bybel en ook deur die dinge wat hy gemaak het. (Lees Handelinge 14:17.) Dink byvoorbeeld aan hoe hy ons gemaak het. Hy het vir ons die vermoë gegee om pragtige kleure te sien, mooi musiek te hoor en lekker kos te proe. Hy wil hê dat ons die lewe moet geniet.

SOEK DIEPER

Vind uit wat Jehovah gebruik om wonderlike dinge te doen. Kyk dan hoe Jehovah vir ons wys watter pragtige eienskappe hy het.

4. Heilige gees – God se werkende krag

Net soos ons ons hande gebruik om te werk, gebruik Jehovah sy heilige gees. Die Bybel wys dat heilige gees nie ’n persoon is nie, maar die krag wat God gebruik om dinge te doen. Lees Lukas 11:13 en Handelinge 2:17, en bespreek dan hierdie vrae:

  • God sal sy heilige gees “uitstort” op dié wat daarvoor vra. So dink jy dat die heilige gees ’n persoon is, of is dit God se werkende krag? Hoekom sê jy so?

Jehovah gebruik sy heilige gees om wonderlike dinge te doen. Lees Psalm 33:6 en 2 Petrus 1:20, 21, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Wat is party maniere waarop Jehovah sy heilige gees gebruik het?

5. Jehovah het pragtige eienskappe

Moses was ’n lojale aanbidder van God, maar hy wou sy Skepper beter leer ken. Daarom het Moses vir God gesê: “Maak . . . u weë aan my bekend, sodat ek u kan ken” (Eksodus 33:13). Jehovah het toe vir Moses gesê watter soort persoon Hy is. Lees Eksodus 34:4-6, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Watter van Jehovah se eienskappe het hy aan Moses bekend gemaak?

  • Watter van Jehovah se eienskappe is vir jou die mooiste?

6. Jehovah gee om vir mense

God se volk, die Hebreërs, was slawe in Egipte. Hoe het Jehovah gevoel toe hy sien hoe swaar hulle kry? Speel die OUDIO en volg saam, of lees Eksodus 3:1-10. Bespreek dan die volgende vrae.

  • Wat leer jy uit hierdie verslag oor hoe Jehovah voel wanneer mense swaarkry? – Sien vers 7 en 8.

  • Dink jy dat Jehovah mense regtig wil help en dat hy dit kan doen? Hoekom, of hoekom nie?

7. Jehovah se eienskappe kan gesien word in die dinge wat hy gemaak het

Jehovah wys sy eienskappe vir ons deur die dinge wat hy gemaak het. Speel die VIDEO. Lees dan Romeine 1:20, en bespreek die volgende vraag.

  • Watter eienskappe van Jehovah sien jy in die dinge wat hy gemaak het?

PARTY MENSE SÊ: “God is nie ’n persoon nie, hy is net ’n krag wat oral is.”

  • Wat dink jy?

  • Hoekom voel jy so?

WAT ONS GELEER HET

Jehovah is ’n Gees, en ons kan hom nie sien nie. Hy het baie mooi eienskappe, veral liefde.

Hersiening

  • Hoekom kan ons Jehovah nie sien nie?

  • Wat is die heilige gees?

  • Wat is party van Jehovah se eienskappe?

Doelwit

LEER MEER

Leer ken Jehovah beter deur meer te leer oor vier van sy hoofeienskappe.

“Watter soort persoon is God?” (Die Wagtoring, nr. 1 2019)

Kyk na bewyse dat Jehovah nie oral en in alle dinge is nie.

“Is God oral en alomteenwoordig?” (Web-artikel)

Kyk hoekom die Bybel die heilige gees God se hande noem.

“Wat is die heilige gees?” (Web-artikel)

’n Blinde man het gesukkel om te glo dat God vir hom omgee. Vind uit hoekom hy nie nou meer so voel nie.

“Nou voel ek dat ek ander kan help” (Die Wagtoring, 1 Oktober 2015)