Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 09

Kom nader aan God deur gebed

Kom nader aan God deur gebed

Voel jy ooit dat jy leiding nodig het? Het jy belangrike vrae waarop jy antwoorde soek? Wil jy vertroos of aangemoedig word? Wil jy graag nader aan Jehovah voel? Gebed kan jou met al hierdie dinge help. Maar wat is die regte manier om te bid? Luister God na alle gebede? Wat kan jy doen om seker te maak dat hy na jou gebede sal luister? Kom ons kyk.

1. Tot wie moet ons bid, en waaroor kan ons bid?

Jesus het ons geleer om net tot ons hemelse Vader te bid. Jesus het self tot Jehovah gebid. Hy het gesê: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemel . . . ’” (Matteus 6:9). Wanneer ons tot Jehovah bid, maak ons ons vriendskap met hom sterker.

Ons kan basies oor enige iets bid. Maar as ons wil hê dat God ons gebede moet beantwoord, moet ons volgens sy wil bid. Die Bybel sê “dat [God] ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Johannes 5:14). Jesus het voorbeelde gegee van dinge waarvoor ons kan bid. (Lees Matteus 6:9-13.) Ons kan bid vir dinge wat ons nodig het, maar ons moenie vergeet om vir God dankie te sê vir wat hy vir ons gedoen het nie en om hom te vra om ander te help nie.

2. Hoe moet ons bid?

Die Bybel moedig ons aan: “Stort julle hart voor [God] uit” (Psalm 62:8). So wanneer ons bid, moet ons uit ons hart uit bid. Ons kan hardop of in ons gedagtes bid, en in enige liggaamsposisie wat wys dat ons Jehovah respekteer. Ons kan enige tyd en op enige plek bid.

3. Hoe beantwoord God ons gebede?

Hy doen dit op baie verskillende maniere. Jehovah het vir ons sy Woord, die Bybel, gegee, waar ons baie keer antwoorde op ons vrae kry. God se Woord kan “die onervarene wys [maak]”. (Psalm 19:7; lees Jakobus 1:5.) God kan ons kalm maak wanneer ons deur moeilike tye gaan. En hy kan sy aanbidders gebruik om ons te help wanneer ons dit regtig nodig het.

SOEK DIEPER

Kyk hoe jy op ’n manier kan bid waarmee God tevrede sal wees, en vind uit hoe gebed jou kan help.

4. God het standaarde wanneer dit by gebed kom

Watter dinge maak ons gebede vir God aanvaarbaar of onaanvaarbaar? Speel die VIDEO.

Jehovah wil hê dat ons tot hom moet bid. Lees Psalm 65:2, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Dink jy dat die “Hoorder van gebed” wil hê dat jy tot hom moet bid? Hoekom, of hoekom nie?

Ons moet probeer om aan God se standaarde gehoorsaam te wees as ons wil hê dat hy na ons gebede moet luister. Lees Miga 3:4 en 1 Petrus 3:12, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoe kan ons seker maak dat Jehovah na ons gebede sal luister?

In ’n oorlog sal albei kante dalk bid om die oorlog te wen. Kan ’n mens verwag dat God sulke gebede moet beantwoord?

5. Ons gebede moet uit die hart kom

Party mense is geleer om sekere gebede woord vir woord op te sê. Maar is dit hoe God wil hê ons moet bid? Lees Matteus 6:7, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoe kan jy seker maak dat jy nie “dieselfde dinge oor en oor” sê wanneer jy bid nie?

Dink elke dag aan iets spesifieks waarvoor jy dankbaar is, en sê dan vir Jehovah dankie daarvoor. As jy dit ’n week lank elke dag doen, sal jy oor sewe verskillende dinge gebid het sonder om jouself te herhaal.

’n Goeie pa wil hê dat sy kind vir hom moet sê hoe hy regtig voel. Net so wil Jehovah hê dat ons uit ons hart uit moet bid

6. Gebed is ’n geskenk van God af

Hoe kan gebed ons in goeie en in slegte tye help? Speel die VIDEO.

Die Bybel belowe dat gebed ons kan help om kalm te voel. Lees Filippense 4:6, 7, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Hoe help gebed ons, al laat dit nie altyd ons probleme weggaan nie?

  • Oor watter dinge sal jy graag wil bid?

Het jy geweet?

Die woord “amen” beteken “laat dit so wees” of “beslis”. Van Bybeltye af sê mense “amen” aan die einde van gebede. – 1 Kronieke 16:36.

7. Maak tyd om te bid

Partykeer raak ons dalk so besig dat ons vergeet om te bid. Hoe belangrik was gebed vir Jesus? Lees Matteus 14:23 en Markus 1:35, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Wat het Jesus gedoen sodat hy tyd kon hê om te bid?

  • Wanneer kan jy tyd maak om te bid?

PARTY MENSE SÊ: “Dit help nie eintlik om te bid nie. Gebed is maar net iets wat jou laat beter voel.”

  • Wat sou jy sê?

WAT ONS GELEER HET

Wanneer ons uit ons hart uit bid, kom ons nader aan God. Dit help ons ook om kalm te wees en gee ons die krag wat ons nodig het om aan Jehovah gehoorsaam te wees.

Hersiening

  • Tot wie moet ons bid?

  • Hoe moet ons bid?

  • Hoe kan gebed ons help?

Doelwit

LEER MEER

Kry die antwoorde op vrae wat baie mense oor gebed het.

“Sewe dinge wat jy moet weet omtrent gebed” (Die Wagtoring, 1 Oktober 2010)

Leer hoekom dit belangrik is om te bid en hoe om jou gebede te verbeter.

“Hoekom moet ek bid?” (Web-artikel)

Tot wie moet ons bid? Kyk wat die Bybel sê.

“Moet ek tot heiliges bid?” (Web-artikel)

Kyk in hierdie musiekvideo of dit saak maak waar of wanneer ons bid.

Bid enige tyd (1:22)