Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 12

Wat sal jou help om aan te hou om die Bybel te studeer?

Wat sal jou help om aan te hou om die Bybel te studeer?

As jy die Bybel studeer, kan dit jou baie help, maar dit sal dalk nie altyd maklik wees nie. Soms wonder jy dalk of jy sal kan aanhou om die Bybel te studeer. Hoekom is dit die moeite werd om aan te hou met jou Bybelstudie? Wat kan jou help om nie op te hou nie, al is dit moeilik?

1. Hoe kan Bybelstudie jou help?

“Die woord van God is lewend en kragtig” (Hebreërs 4:12). Die Bybel kan jou help, want dit sê vir jou hoe God dink en hoe hy oor jou voel. Dit help jou nie net om kennis te kry nie, maar dit gee jou ook ware wysheid en hoop. Maar die belangrikste van alles is dat die Bybel jou help om Jehovah se vriend te word. Wanneer jy die Bybel studeer, laat jy toe dat die krag van die Bybel jou lewe beter maak.

2. Hoekom moet ons besef dat Bybelwaarhede belangrik is?

Die waarhede in die Bybel is soos kosbare skatte. Daarom sê die Bybel vir ons: “Koop waarheid en moet dit nooit verkoop nie” (Spreuke 23:23). Wanneer ons in gedagte hou dat Bybelwaarhede belangrik is, sal ons hard werk om aan te hou met ons Bybelstudie – selfs wanneer dit vir ons moeilik is. – Lees Spreuke 2:4, 5.

3. Hoe kan Jehovah jou help om aan te hou met jou Bybelstudie?

Jehovah is jou almagtige Skepper en Vriend, en hy wil jou help om van hom te leer. Hy kan jou “die begeerte en die krag [gee] om op te tree”. (Lees Filippense 2:13.) So, as jy soms meer motivering nodig het om te studeer of om toe te pas wat jy leer, kan hy jou help. As jy probleme het of as iemand dit vir jou moeilik maak om die Bybel te studeer, kan Jehovah vir jou meer krag gee om dit te hanteer. Vra Jehovah gereeld in gebed om jou te help om aan te hou om die Bybel te studeer. – 1 Tessalonisense 5:17.

SOEK DIEPER

Leer hoe jy kan aanhou om die Bybel te studeer, al is jy baie besig of al maak ander dit vir jou moeilik. Kyk dan hoe Jehovah jou sal help om aan te hou met jou Bybelstudie.

4. Maak seker dat jou Bybelstudie een van die belangrikste dinge in jou lewe is

Soms word die lewe so besig dat dit lyk asof ons nie genoeg tyd het om die Bybel te studeer nie. Wat kan help? Lees Filippense 1:10, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Wat dink jy is van “die belangriker dinge” in die lewe?

  • Hoe kan jy seker maak dat jou Bybelstudie een van die belangrikste dinge in jou lewe is?

  1. As jy sand in ’n emmer gooi en probeer om klippe by te sit, sal die klippe nie pas nie

  2. As jy die klippe eerste insit, sal daar plek wees vir die meeste van die sand. Net so, as jy “die belangriker dinge” eerste in jou lewe stel, sal jy tyd hê daarvoor en nog tyd hê vir ander dinge

Ons het God nodig, en wanneer ons die Bybel studeer, bevredig ons ons behoefte om God te ken en hom te aanbid. Lees Matteus 5:3, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoe help dit ons wanneer ons ons Bybelstudie een van die belangrikste dinge in ons lewe maak?

5. Hou aan studeer, al maak ander dit vir jou moeilik

Soms sal ander jou dalk probeer kry om op te hou om die Bybel te studeer. Kyk na Francesco se voorbeeld. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

  • Hoe het Francesco se vriende en sy ma gereageer toe hy vir hulle vertel het van die dinge wat hy geleer het?

  • Hoe is hy beloon omdat hy nie opgegee het nie?

Lees 2 Timoteus 2:24, 25, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Hoe voel jou familie en vriende oor wat jy leer?

  • Volgens hierdie teks, hoe moet jy reageer wanneer iemand nie daarvan hou dat jy die Bybel studeer nie? Hoekom?

6. Vertrou op Jehovah om jou te help

Hoe nader ons aan Jehovah kom, hoe meer wil ons hom gelukkig maak. Maar dit kan vir ons moeilik wees om veranderinge in ons lewe te maak sodat ons volgens Jehovah se standaarde kan lewe. As jy ooit so voel, moet jy nie opgee nie. Jehovah sal jou help. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

  • Watter veranderinge het Jim gemaak om Jehovah gelukkig te maak?

  • Wat beïndruk jou omtrent sy voorbeeld?

Lees Hebreërs 11:6, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Wat sal Jehovah doen vir “dié wat hom ernstig soek” – dit wil sê dié wat hard probeer om hom te leer ken en hom gelukkig te maak?

  • Wat sê dit vir jou oor hoe Jehovah voel wanneer hy sien hoe hard jy probeer om die Bybel te studeer?

IEMAND VRA DALK: “Hoekom studeer jy die Bybel?”

  • Hoe sal jy antwoord?

WAT ONS GELEER HET

Al is dit nie altyd maklik om die Bybel te studeer nie, kan dit jou help om die lewe vir ewig te geniet. Hou aan om op Jehovah te vertrou, en hy sal jou beloon.

Hersiening

  • Hoekom is Bybelwaarhede vir jou belangrik?

  • Hoe kan jy “seker . . . maak van die belangriker dinge”?

  • Hoekom moet jy Jehovah vra om jou te help om aan te hou om die Bybel te studeer?

Doelwit

LEER MEER

Kyk na vier dinge wat baie mense gehelp het om hulle tyd goed te gebruik.

“Hoe om jou tyd verstandig te gebruik” (Ontwaak!, Februarie 2014)

Kyk hoe Jehovah ’n vrou gehelp het wie se man nie verstaan het hoekom sy God gelukkig wou maak nie.

Jehovah gee ons krag om ons vrag te dra (5:05)

Kyk hoe ’n man gehelp is omdat sy vrou nie opgegee het nie.

Ek het die waarheid getoets (6:30)

Jehovah se Getuies word soms daarvan beskuldig dat hulle gesinne opbreek. Maar is dit waar?

“Breek Jehovah se Getuies gesinne op?” (Web-artikel)