Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 15

Wie is Jesus?

Wie is Jesus?

Jesus is een van die bekendste mense in die geskiedenis. Al weet baie mense wat sy naam is, weet hulle eintlik min oor hom, en baie mense het verskillende idees oor wie Jesus regtig is. Wat sê die Bybel oor hom?

1. Wie is Jesus?

Jesus is ’n magtige engel wat in die hemel woon. Jehovah God het hom gemaak voordat enige iets anders gemaak is. Daarom word Jesus “die eersgeborene van die hele skepping” genoem (Kolossense 1:15). Die Bybel noem Jesus God se “eniggebore Seun” omdat Jesus die enigste een is wat direk deur Jehovah gemaak is (Johannes 3:16). Jesus was baie na aan sy Vader, Jehovah, en hulle het goed saam gewerk toe Jesus sy Vader gehelp het om alle ander dinge te maak. (Lees Spreuke 8:30.) Jesus het nog steeds ’n baie sterk verhouding met Jehovah. Hy dien lojaal as God se woordvoerder, “die Woord”, deur Sy boodskappe en instruksies oor te dra. – Johannes 1:14.

2. Hoekom het Jesus aarde toe gekom?

Omtrent 2 000 jaar gelede het Jehovah ’n wonderwerk gedoen. Hy het sy heilige gees gebruik om Jesus se lewe vanuit die hemel na die baarmoeder van ’n jong maagd met die naam Maria oor te plaas. Op hierdie manier was Jesus as ’n mens gebore. (Lees Lukas 1:34, 35.) Jesus het aarde toe gekom om die beloofde Messias, of Christus, te wees en om mense te red. a Al die Bybelprofesieë oor die Messias het deur middel van Jesus waar geword. Dit het mense gehelp om te weet dat Jesus “die Christus, die Seun van die lewende God” is. – Matteus 16:16.

3. Waar is Jesus nou?

Nadat Jesus as ’n mens gesterf het, het God hom as ’n engel opgewek, en hy het teruggegaan hemel toe. Daar “het God hom . . . ’n hoër posisie gegee” (Filippense 2:9). Nou is Jesus ’n baie magtige engel – net Jehovah is magtiger as Jesus.

SOEK DIEPER

Vind meer uit oor wie Jesus regtig is en hoekom dit so belangrik is om oor hom te leer.

4. Jesus is nie die almagtige God nie

Die Bybel leer dat Jesus ’n magtige engel in die hemel is, maar dat hy nog steeds gehoorsaam is aan sy God en Vader, Jehovah. Hoekom kan ons so sê? Speel die VIDEO om te sien wat die Bybel leer oor hoe Jesus se posisie anders is as die almagtige God se posisie.

Die volgende tekste sal ons help om te verstaan wat die verhouding tussen Jehovah en Jesus is. Lees elke teks, en bespreek dan die volgende vrae.

Lees Lukas 1:30-32.

  • Hoe het die engel die verhouding tussen Jesus en Jehovah God, “die Allerhoogste”, beskryf?

Lees Matteus 3:16, 17.

  • Wat het die stem uit die hemel by Jesus se doop gesê?

  • Wie se stem dink jy was dit?

Lees Johannes 14:28.

  • Wie is ouer en het meer gesag? ’n Pa of ’n seun?

  • Jesus het Jehovah sy Vader genoem. Wat leer dit ons?

Lees Johannes 12:49.

  • Dink Jesus dat hy en sy Vader dieselfde persoon is? Wat dink jy?

5. Jesus het bewys dat hy die Messias is

Daar is baie profesieë in die Bybel oor die Messias, dit wil sê die een wat God gekies het om mense te red. Hierdie profesieë het mense gehelp om te weet wie die Messias is. Speel die VIDEO om te kyk na ’n paar van die profesieë oor Jesus wat waar geword het toe hy aarde toe gekom het.

Lees hierdie Bybelprofesieë, en bespreek dan die volgende vrae:

Lees Miga 5:2 om te leer waar die Messias gebore sou word. b

  • Het Jesus se geboorte hierdie profesie laat waar word? – Matteus 2:1.

Lees Psalm 34:20 en Sagaria 12:10 om uit te vind wat die Bybel voorspel het oor die Messias se dood.

  • Het hierdie profesieë waar geword? – Johannes 19:33-37.

  • Dink jy dat dit moontlik is dat Jesus kon veroorsaak het dat hierdie profesieë waar word?

  • Wat bewys dit vir jou oor Jesus?

6. Dit help ons wanneer ons oor Jesus leer

Die Bybel sê dat dit baie belangrik is om te leer oor Jesus en oor wat God wil hê hy moet doen. Lees Johannes 14:6 en 17:3, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoekom is dit baie belangrik om oor Jesus te leer?

Jesus het die weg oopgemaak, of dit moontlik gemaak, om God se vriend te word. Hy het die waarheid oor Jehovah geleer, en deur hom kan ons die ewige lewe kry

PARTY MENSE SÊ: “Jehovah se Getuies glo nie in Jesus nie.”

  • Hoe sal jy antwoord?

WAT ONS GELEER HET

Jesus is ’n magtige engel. Hy is God se Seun en die Messias.

Hersiening

  • Hoekom word Jesus “die eersgeborene van die hele skepping” genoem?

  • Wat het Jesus gedoen voordat hy aarde toe gekom het?

  • Hoe weet ons dat Jesus die Messias is?

Doelwit

LEER MEER

Leer die Bybel dat God letterlik Jesus se pa geword het op dieselfde manier as wat mense kinders kry? Vind uit.

“Hoekom word Jesus die Seun van God genoem?” (Web-artikel)

Kyk hoekom die Drie-eenheid nie ’n Bybellering is nie.

“Is Jesus God?” (Die Wagtoring, 1 April 2009)

Lees hoe ’n vrou se lewe verander het nadat sy geleer het wat die Bybel oor Jesus sê.

“’n Joodse vrou verduidelik waarom sy haar geloof ondersoek het” (Ontwaak!, Mei 2013)

a Les 26 en 27 sal wys hoekom mense gered moet word en hoe Jesus ons red.

b Sien Eindnota 2 vir ’n profesie wat voorspel het presies wanneer Jesus op die aarde sou verskyn.