Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 30

Die mense vir wie jy lief is, kan weer lewe!

Die mense vir wie jy lief is, kan weer lewe!

Die dood veroorsaak baie pyn en hartseer. Dit is hoekom die Bybel die dood ’n vyand noem (1 Korintiërs 15:26). In Les 27 het jy geleer dat Jehovah daardie vyand sal vernietig. Maar wat sal gebeur met die mense wat alreeds gesterf het? In hierdie les sal jy meer leer oor nog ’n wonderlike belofte van Jehovah – hy sal miljarde mense weer laat lewe sodat hulle die lewe vir ewig kan geniet. Hy sal hulle opwek! Kan dit regtig gebeur? Sal hulle opgewek word om in die hemel of op die aarde te lewe?

1. Wat wil Jehovah doen vir ons familie en vriende wat gesterf het?

Jehovah wil graag mense wat gesterf het, weer lewend maak. Job, ’n man wat geloof in God gehad het, was oortuig dat God hom nie sal vergeet wanneer hy doodgaan nie. Hy het vir God gesê: “U sal roep, en ek sal u antwoord [uit die Graf].” – Lees Job 14:13-15.

2. Hoe weet ons dat die dooies opgewek kan word?

Toe Jesus op die aarde was, het God hom die krag gegee om mense op te wek. Jesus het ’n 12-jarige meisie en ’n weduwee se seun opgewek (Markus 5:41, 42; Lukas 7:12-15). Later het Jesus se vriend Lasarus gesterf. Al was Lasarus dood en al vier dae in die graf, het Jesus hom weer lewend gemaak. Jesus het tot God gebid en toe uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” En “die man wat dood was, het uitgekom” – Lasarus was lewend! (Johannes 11:43, 44). Dink net hoe gelukkig Lasarus se familie en vriende was!

3. Watter hoop is daar vir jou familie en vriende wat gesterf het?

Die Bybel belowe: “Daar [sal] ’n opstanding . . . wees” (Handelinge 24:15). Die mense wat in die verlede deur Jesus opgewek is, het nie hemel toe gegaan nie (Johannes 3:13). Hulle was bly toe Jesus hulle hier op die aarde opgewek het. Net so sal Jesus binnekort miljarde mense opwek om die lewe vir ewig op ’n paradysaarde te geniet. Hy het gesê dat “almal wat in die gedenkgrafte is” – selfs dié wat dalk nie meer deur mense onthou word nie, maar wat deur God onthou word – opgewek sal word. – Johannes 5:28, 29.

SOEK DIEPER

Leer uit die Bybel hoekom ons seker kan wees dat Jesus die krag het om mense op te wek en dat hy dit sal doen. Kyk hoe die opstanding jou kan vertroos en hoop kan gee.

4. Jesus het bewys dat hy die dooies kan opwek

Leer meer oor wat Jesus vir sy vriend Lasarus gedoen het. Lees Johannes 11:14, 38-44, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Hoe weet ons dat Lasarus regtig dood was? – Sien vers 39.

  • As Lasarus hemel toe gegaan het, dink jy dat Jesus hom op die aarde sou opwek?

Speel die VIDEO.

5. Baie sal opgewek word!

Lees Psalm 37:29, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Waar sal die miljarde mense bly wat opgewek gaan word?

Jesus sal baie meer mense opwek as net dié wat Jehovah aanbid het. Lees Handelinge 24:15, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Wie wil jy graag hê moet opgewek word?

Dink hieraan: Jesus kan iemand net so maklik opwek soos wat ’n pa sy kind wat slaap, kan wakker maak

6. Die opstanding kan jou vertroos en hoop gee

Die storie in die Bybel van Jaïrus se dogter het baie mense wat hartseer is, vertroos en aangemoedig. Lees wat gebeur het in Lukas 8:40-42, 49-56.

Voordat Jesus Jaïrus se dogter opgewek het, het Jesus vir haar pa gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Betoon net geloof.” (Sien vers 50.) Hoe kan die hoop dat daar ’n opstanding sal wees, jou help . . .

  • wanneer iemand vir wie jy lief is, doodgaan?

  • wanneer jou lewe in gevaar is?

Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.

  • Hoe het die hoop dat Phelicity opgewek sal word, haar ouers vertroos en aangemoedig?

PARTY MENSE SÊ: “Die idee van ’n opstanding klink te goed om waar te wees.”

  • Wat dink jy?

  • Watter vers kan jy gebruik om te wys dat daar ’n opstanding sal wees?

WAT ONS GELEER HET

Die Bybel belowe dat miljarde mense wat doodgegaan het, opgewek sal word. Jehovah wil hê dat hulle weer moet lewe, en hy het Jesus die krag gegee om hulle op te wek.

Hersiening

  • Hoe voel Jehovah en Jesus daaroor om die dooies op te wek?

  • Waar sal die miljarde mense wat opgewek is, bly – in die hemel of op die aarde? Hoekom sê jy so?

  • Wat oortuig jou dat die mense vir wie jy lief is, weer kan lewe?

Doelwit

LEER MEER

Leer wat jy kan doen wanneer iemand vir wie jy lief is, gesterf het.

“Hulp vir dié wat treur” (Ontwaak!, nr. 3 2018)

Kan die Bybel regtig ’n persoon help wat hartseer is omdat iemand vir wie hy lief is, gesterf het?

Wanneer iemand vir wie jy lief is, sterf (5:06)

Hoe kan kinders dit hanteer wanneer iemand vir wie hulle lief is, doodgaan?

Die losprys (2:07)

Sal enige iemand opgewek word om hemel toe te gaan? Wie sal nie opgewek word nie?

“Wat is die opstanding?” (Web-artikel)