Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 35

Hoe om goeie besluite te maak

Hoe om goeie besluite te maak

Ons almal moet besluite maak. Baie van hierdie besluite kan of goed of sleg wees vir ons, en dit kan ons vriendskap met Jehovah beïnvloed. Byvoorbeeld, ons moet dalk besluit waar ons gaan bly, hoe om geld te verdien en of ons sal trou of nie. Wanneer ons goeie besluite maak, kan ons ’n gelukkige lewe hê en Jehovah gelukkig maak.

1. Hoe kan jy die Bybel gebruik om jou te help om goeie besluite te maak?

Voordat jy ’n besluit maak, moet jy Jehovah vra om jou te help en kyk wat die Bybel sê om te sien hoe hy oor die saak voel. (Lees Spreuke 2:3-6.) Soms sê Jehovah reguit vir ons wat ons moet doen. Die beste besluit wat jy dan kan maak, is om aan hom gehoorsaam te wees.

Maar wat as die Bybel nie reguit vir jou sê wat om te doen nie? Jehovah sal jou nog steeds lei “op die weg wat jy moet volg” (Jesaja 48:17). Hoe? Daar is dalk Bybelbeginsels wat jou kan help. Bybelbeginsels is basiese waarhede wat vir ons wys wat God dink en hoe hy voel. Baie keer leer ons hoe God oor sekere dinge voel wanneer ons iets in die Bybel lees. Wanneer ons sien hoe Jehovah voel, kan ons besluite maak waarmee hy tevrede is.

2. Aan watter dinge moet jy dink voordat jy ’n besluit maak?

Die Bybel sê: “Die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen” (Spreuke 14:15). Dit beteken dat ons tyd moet maak om te dink oor die verskillende opsies wat ons het voordat ons ’n besluit maak. Terwyl jy oor elke opsie dink, vra jouself: ‘Watter Bybelbeginsels kan my help? Hoe sal hierdie besluit my laat voel? Hoe sal my besluit ander laat voel? En die belangrikste van alles, sal dit Jehovah gelukkig maak?’ – Deuteronomium 32:29.

Jehovah het die reg om vir ons te sê wat goed en wat sleg is. Wanneer ons sy wette en beginsels goed leer ken en ons bes probeer om gehoorsaam te wees daaraan, lei ons ons gewete op. Ons gewete is ’n gevoel binne in ons wat vir ons sê wat reg en wat verkeerd is (Romeine 2:14, 15). ’n Gewete wat opgelei is, sal ons help om goeie besluite te maak.

SOEK DIEPER

Leer hoe Bybelbeginsels en ons gewete ons help om besluite te maak.

3. Laat die Bybel jou help

Hoe kan Bybelbeginsels ons help wanneer ons besluite maak? Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

  • Wat is vrye wil?

  • Hoekom het Jehovah vir ons vrye wil gegee?

  • Wat het Jehovah vir ons gegee om ons te help om ons vrye wil op die beste moontlike manier te gebruik?

Om ’n voorbeeld van ’n Bybelbeginsel te sien, lees Efesiërs 5:15, 16. Bespreek dan hoe jy “die beste gebruik van [jou] tyd” kan maak sodat jy . . . 

  • die Bybel gereeld kan lees.

  • ’n beter huweliksmaat, ouer, seun of dogter kan word.

  • vergaderinge kan bywoon.

4. Lei jou gewete op om jou te help om goeie besluite te maak

Wanneer die Bybel reguit vir ons sê wat om in ’n sekere situasie te doen, is dit dalk maklik om die regte besluit te maak. Maar wat as die Bybel nie vir ons sê wat om te doen nie? Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.

  • Wat het die suster in die video gedoen om haar gewete op te lei en om ’n besluit te maak waarmee Jehovah tevrede sou wees?

Hoekom moet ons nie ander vra om besluite vir ons te maak nie? Lees Hebreërs 5:14, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Dit lyk dalk makliker om ander te vra om besluite vir ons te maak, maar wat moet ons self kan doen?

  • Watter dinge is daar wat jou kan help om jou gewete op te lei en goeie besluite te maak?

Net soos ’n padkaart ons help om te weet in watter rigting om te gaan, help ons gewete ons om besluite in die lewe te maak

5. Respekteer ander se gewete

Verskillende mense sal verskillende besluite maak. Hoe kan ons wys dat ons ander se gewete respekteer? Kyk na twee situasies:

Situasie 1: ’n Suster wat daarvan hou om grimering te dra, trek na ’n gemeente toe waar dit baie susters pla wanneer hulle iemand sien wat grimering dra.

Lees Romeine 15:1 en 1 Korintiërs 10:23, 24, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Wat sal daardie suster dalk besluit nadat sy hierdie verse gelees het? Wat sal jy doen as jy saam met iemand is wie se gewete hom laat voel dat dit verkeerd is om iets te doen wat jou gewete jou toelaat om te doen?

Situasie 2: ’n Broer weet dat die Bybel nie sê dat dit verkeerd is om alkohol te drink nie, maar hy kies om nie enige alkohol te drink nie. Hy word genooi om saam met broers te kuier, en hy sien dat hulle alkohol drink.

Lees Prediker 7:16 en Romeine 14:1, 10, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Wat sal hierdie broer dalk besluit nadat hy hierdie verse gelees het? Wat sal jy doen as jy sien dat iemand anders iets doen wat jou gewete jou nie toelaat om te doen nie?

 Wat sal jou help om goeie besluite te maak?

1. Vra Jehovah om jou te help om te besluit wat om te doen. – Jakobus 1:5.

2. Doen navorsing in die Bybel en Bybelpublikasies om beginsels te kry wat jou kan help. Jy kan ook raad vra by broers en susters wat ’n sterk verhouding met Jehovah het.

3. Dink aan die uitwerking wat die besluit op jou gewete en op ander se gewete sal hê.

PARTY MENSE SÊ: “Jy het die reg om te doen net wat jy wil. Dit maak nie saak wat ander mense dink nie.”

  • Hoekom moet dit vir ons saak maak hoe God en ander mense voel?

WAT ONS GELEER HET

Ons maak goeie besluite wanneer ons uitvind hoe Jehovah oor iets voel en wanneer ons dink aan of die dinge wat ons doen, ander sal help of hulle sal seermaak.

Hersiening

  • Hoe kan jy besluite maak waarmee Jehovah tevrede is?

  • Hoe kan jy jou gewete oplei?

  • Hoe kan jy wys dat jy ander se gewete respekteer?

Doelwit

LEER MEER

Hoe kan jy besluite maak wat jou vriendskap met God sal versterk?

“Neem besluite wat God eer” (Die Wagtoring, 15 April 2011)

Leer meer oor hoe Jehovah ons raad gee.

Jehovah lei sy volk (9:50)

Vind uit wat een man gehelp het om ’n moeilike besluit te maak.

Jehovah belowe om vir ons alles te gee wat goed is (5:46)

Leer meer oor hoe om Jehovah gelukkig te maak wanneer hy nie reguit vir ons gesê het wat om te doen nie.

“Het jy altyd ’n Bybelgebod nodig?” (Die Wagtoring, 1 Desember 2003)