Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 42

Wat sê die Bybel oor die ongetroude lewe en die getroude lewe?

Wat sê die Bybel oor die ongetroude lewe en die getroude lewe?

In party kulture glo mense dat ’n persoon nie gelukkig kan wees tensy hy of sy trou nie. Maar nie alle getroude mense is gelukkig nie, en nie alle ongetroude mense is ongelukkig nie. Om die waarheid te sê, die Bybel sê dat die ongetroude lewe en die getroude lewe geskenke van Jehovah af is.

1. Wat is party voordele van die ongetroude lewe?

Die Bybel sê: “Die een wat trou, doen . . . goed, maar die een wat nie trou nie, doen beter.” (Lees 1 Korintiërs 7:32, 33, 38.) Op watter maniere kan ’n ongetroude persoon ‘beter doen’? Ongetroude Christene hoef nie vir die behoeftes van ’n huweliksmaat te sorg nie. Daarom het hulle oor die algemeen meer vryheid. Byvoorbeeld, party kan op interessante maniere meer vir Jehovah doen, soos om na ’n ander land te reis om mense van die goeie nuus te vertel. Maar die belangrikste van alles is dat hulle meer tyd het om nader aan Jehovah te kom.

2. Wat is party voordele daarvan om wettig getroud te wees?

Net soos die ongetroude lewe het die getroude lewe unieke voordele. Die Bybel sê: “Twee is beter as een” (Prediker 4:9). Dit is veral waar wanneer Christene Bybelbeginsels in hulle huwelik toepas. Paartjies wat wettig getroud is, maak ’n belofte dat hulle mekaar altyd sal liefhê, respekteer en waardeer. As gevolg daarvan voel hulle baie keer veiliger in hulle verhouding as paartjies wat maar net saambly. En getroude paartjies se kinders sal ook veiliger voel in die gesin.

3. Hoe beskou Jehovah die getroude lewe?

Toe Jehovah die eerste mensepaartjie in die huwelik saamgebring het, het hy gesê: “’n Man [sal] sy pa en sy ma verlaat, en hy sal sy vrou aankleef” (Genesis 2:24). Jehovah wil hê dat ’n man en vrou mekaar moet liefhê en bymekaar moet bly solank as wat hulle lewe. Hy laat net toe dat ’n getroude paartjie skei as een van hulle egbreuk gepleeg het. In so ’n geval gee Jehovah die onskuldige huweliksmaat die reg om te besluit of hy of sy wil skei a (Matteus 19:9). Jehovah laat nie Christene toe om meer as een huweliksmaat te hê nie. – 1 Timoteus 3:2.

SOEK DIEPER

Leer hoe jy gelukkig kan wees – en Jehovah gelukkig kan maak – of jy nou getroud of ongetroud is.

4. Jy kan die geskenk van die ongetroude lewe goed gebruik

Jesus het die ongetroude lewe as ’n geskenk gesien (Matteus 19:11, 12). Lees Matteus 4:23, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoe het Jesus die geskenk van die ongetroude lewe gebruik om sy Vader te dien en om ander te help?

Christene kan dit geniet om hulle ongetroude lewe te gebruik, net soos Jesus gedoen het. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.

  • Op watter maniere kan Christene hulle ongetroude lewe gebruik wat vir hulle baie seëninge sal bring?

Het jy geweet?

Die Bybel sê nie hoe oud ’n persoon moet wees om te trou nie. Maar dit moedig ’n persoon aan om te wag totdat hy “verby die bloei van die jeug is,” ’n tyd wanneer sterk seksuele gevoelens dit vir ’n jong persoon moeilik kan maak om goeie besluite te neem. – 1 Korintiërs 7:36.

5. Maak ’n goeie besluit wanneer jy jou huweliksmaat kies

Om jou huweliksmaat te kies, is een van die belangrikste besluite wat jy ooit sal maak. Lees Matteus 19:4-6, 9, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoekom moet ’n Christen nie te vinnig besluit om met iemand te trou nie?

Die Bybel kan jou help om te weet na watter eienskappe om in ’n huweliksmaat te soek. Die belangrikste is: Soek ’n huweliksmaat wat lief is vir Jehovah. b Lees 1 Korintiërs 7:39 en 2 Korintiërs 6:14. Bespreek dan hierdie vrae:

  • Hoekom moet ons net met ’n mede-Christen trou?

  • Hoe dink jy sal Jehovah voel as ons met iemand trou wat nie vir Hom lief is nie?

As twee diere wat baie anders is, saam onder een juk gesit is, sal hulle ly. Net so sal ’n Christen baie probleme hê as hy of sy met iemand trou wat nie vir Jehovah lief is nie

6. Beskou die huwelik soos Jehovah dit beskou

In eertydse Israel het party mans vir selfsugtige redes van hulle vrouens geskei. Lees Maleagi 2:13, 14, 16, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoekom haat Jehovah dit wanneer mense vir redes skei wat nie deur die Bybel ondersteun word nie?

Egbreuk en egskeiding maak die onskuldige maat en die kinders baie seer

Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.

  • As jy met iemand getroud is wat nie vir Jehovah lief is nie, wat kan jy doen om ’n suksesvolle huwelik te hê?

7. Pas Jehovah se standaarde vir die huwelik toe

’n Persoon moet dalk baie moeite doen en hard werk om Jehovah se standaarde vir die huwelik toe te pas. c Maar Jehovah seën dié wat dit doen. Speel die VIDEO.

Lees Hebreërs 13:4, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Dink jy dat Jehovah se standaarde vir die huwelik redelik is? Hoekom, of hoekom nie?

Jehovah verwag dat Christene hulle huwelike en egskeidings moet registreer, want in die meeste lande vereis die regering dat mense dit moet doen. Lees Titus 3:1, en bespreek dan hierdie vraag:

  • As jy getroud is, is jy seker dat jou huwelik wettig geregistreer is by die regering?

IEMAND VRA DALK: “Hoekom moet ’n mens trou? Kan ’n paartjie nie net saambly nie?”

  • Hoe sal jy antwoord?

WAT ONS GELEER HET

Die ongetroude lewe en die getroude lewe is geskenke van Jehovah af. Ongetroude mense en getroude mense kan gelukkig en tevrede wees wanneer hulle volgens Jehovah se wil lewe.

Hersiening

  • Hoe kan ’n persoon sy of haar ongetroude lewe goed gebruik?

  • Hoekom sê die Bybel dat ons net met ’n mede-Christen moet trou?

  • Wat sê die Bybel is die enigste rede om te skei?

Doelwit

LEER MEER

Wat beteken dit om “net in die Here” te trou?

“Vrae van lesers” (Die Wagtoring, 1 Julie 2004)

Kyk twee kort video’s wat jou kan help om goeie besluite te maak oor verhoudings en die huwelik.

Berei voor vir die huwelik (11:53)

Kyk hoekom een broer voel dat die dinge wat Jehovah hom gegee het, baie waardevoller is as enige iets wat hy opgegee het.

Ek het gehoop dat sy die waarheid sou leer (1:56)

Wat is party dinge waaraan ’n persoon moet dink voordat hy dit oorweeg of hy en sy huweliksmaat moet skei of uitmekaar uit moet gaan?

“Respekteer ‘wat God . . . onder een juk saamgevoeg het’” (Die Wagtoring, Desember 2018)

a Gaan na Eindnota 4 om te sien wanneer ’n paartjie dalk uitmekaar uit sal gaan, al het een van hulle nie egbreuk gepleeg nie.

b In party kulture kies ouers ’n huweliksmaat vir hulle seun of dogter. Wanneer dit die geval is, kyk liefdevolle ouers eers of die potensiële maat lief is vir Jehovah en nie na hoeveel geld die persoon het of wat sy of haar sosiale status is nie.

c As jy saam met iemand bly met wie jy nie getroud is nie, moet jy self besluit of jy die persoon sal los of met die persoon sal trou.