Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 46

Hoekom moet jy jou toewy en gedoop word?

Hoekom moet jy jou toewy en gedoop word?

Jy wy jou aan Jehovah toe deur hom in ’n gebed te belowe dat jy hom alleen sal aanbid en sy wil eerste in jou lewe sal stel (Psalm 40:8). Daarna word jy gedoop. Wanneer jy dit doen, wys jy vir ander dat jy jou toegewy het. Die besluit om ons aan Jehovah toe te wy, is die belangrikste besluit wat ons ooit sal maak. Wat sal jou dalk motiveer om so ’n ernstige besluit te maak wat jou lewe sal verander?

1. Wat motiveer iemand om homself toe te wy?

Ons wy ons aan Jehovah toe omdat ons lief is vir hom (1 Johannes 4:10, 19). Die Bybel sê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Markus 12:30). Ons wys dat ons lief is vir God nie net deur wat ons sê nie, maar ook deur wat ons doen. Net soos ’n paartjie wat regtig lief is vir mekaar met mekaar trou, so motiveer ons liefde vir Jehovah ons om onsself aan hom toe te wy en gedoop te word.

2. Hoe seën Jehovah sy gedoopte Getuies?

Wanneer jy gedoop word, sal jy deel van Jehovah se gelukkige familie word. Jy sal dan sy liefde vir jou op baie maniere ondervind, en jy sal selfs nader aan hom kom as wat jy nou is. (Lees Maleagi 3:16-18.) Jy sal nie net Jehovah as jou Vader hê nie, jy sal ook ’n geestelike familie van broers en susters regoor die wêreld hê wat lief is vir hom en wat lief is vir jou. (Lees Markus 10:29, 30.) Jy moet natuurlik sekere dinge doen voordat jy gedoop word. Jy moet oor Jehovah leer, jy moet lief wees vir hom en jy moet geloof in sy Seun hê. En dan moet jy jou lewe aan Jehovah toewy. As jy hierdie dinge doen en dan gedoop word, sal dit vir jou moontlik wees om die ewige lewe te geniet. God se Woord sê: “Doop . . . red julle ook nou.” – 1 Petrus 3:21.

SOEK DIEPER

Kyk hoekom dit belangrik is om jou aan Jehovah toe te wy en gedoop te word.

3. Ons almal moet kies wie ons sal dien

In eertydse Israel het party mense gedink dat hulle Jehovah en die valse god Baäl kan aanbid. Maar Jehovah het sy profeet Elia gestuur om hierdie verkeerde idee reg te stel. Lees 1 Konings 18:21, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Watter keuse moes die Israeliete maak?

Net soos die Israeliete moet ons ook kies wie ons sal dien. Lees Lukas 16:13, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Hoekom kan ons nie Jehovah en iemand of iets anders aanbid nie?

  • Hoe wys ons vir Jehovah dat ons kies om hom te aanbid?

4. Dink na oor Jehovah se liefde vir jou

Jehovah het vir ons baie kosbare geskenke gegee. Wat kan ons vir hom gee? Speel die VIDEO.

Wat is party maniere hoe Jehovah sy liefde vir jou gewys het? Lees Psalm 104:14, 15 en 1 Johannes 4:9, 10, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Watter geskenke van Jehovah waardeer jy die meeste?

  • Hoe laat daardie geskenke jou oor hom voel?

Wanneer ons ’n geskenk kry waarvan ons regtig hou, wil ons vir die een wat dit vir ons gegee het, wys dat ons dit waardeer. Lees Deuteronomium 16:17, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Wat wil jy graag vir Jehovah gee as jy dink aan alles wat hy vir jou gedoen het?

5. Wanneer jy jou toewy, sal jy baie seëninge kry

Baie mense glo dat beroemdheid, ’n goeie werk of geld hulle gelukkig sal maak. Is dit waar? Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

  • Al was die atleet in die video lief daarvoor om sokker te speel, hoekom het hy daardie loopbaan verlaat?

  • Hy het besluit om homself aan Jehovah toe te wy, nie aan sokker nie. Dink jy dat hy die regte besluit gemaak het? Hoekom?

Voordat die apostel Paulus ’n Christen geword het, wou hy graag ’n belangrike loopbaan hê. Hy het die Joodse wet gestudeer, en hy het ’n beroemde onderrigter gehad. Maar hy het dit agtergelaat om ’n Christen te word. Was Paulus spyt oor sy besluit? Lees Filippense 3:8, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Hoekom het Paulus gesê dat die dinge wat hy gedoen het voordat hy ’n Christen was, “’n klomp vullis” was?

  • Wat het hy eerder gewen, of gekry?

  • Hoe sal jy diens aan Jehovah vergelyk met enige ander manier waarop jy jou lewe kan gebruik?

Toe Paulus ’n Christen geword het, het hy baie meer gekry as wat hy opgegee het

PARTY MENSE SÊ: “Ek weet dis die waarheid, maar ek sien nie kans vir die verantwoordelikheid nie.”

  • Hoekom dink jy maak dit sin om jou aan Jehovah toe te wy?

WAT ONS GELEER HET

Liefde motiveer ons om onsself aan Jehovah toe te wy en gedoop te word.

Hersiening

  • Hoekom verdien Jehovah dat ons hom met ons hele hart moet liefhê en moet aanbid?

  • Hoe seën Jehovah sy gedoopte Getuies?

  • Sal jy jou graag aan Jehovah wil toewy?

Doelwit

LEER MEER

Kyk hoekom ’n musikant en ’n atleet gekies het om hulle aan Jehovah toe te wy.

Jongmense vra—Wat sal ek met my lewe doen?—Wanneer hulle terugkyk (6:54)

Kyk in hierdie musiekvideo hoe gelukkig mense is wat hulleself aan Jehovah toegewy het.

Ek gee myself aan u (4:30)

In die lewensverhaal “Ek het jare lank gewonder: ‘Waarom is ons hier?’” lees wat ’n vrou gemotiveer het om te kyk na haar prioriteite.

“Die Bybel verander lewens” (Die Wagtoring, 1 November 2012)