Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 50

Hoe kan jou gesin gelukkig wees? – Deel 2

Hoe kan jou gesin gelukkig wees? – Deel 2

Kinders is ’n geskenk van Jehovah. Hy verwag dat ouers goed na daardie geskenk moet kyk. Jehovah gee goeie raad wat ouers kan help om dit te doen. Sy raad wys ook wat kinders kan doen om te help om hulle gesin gelukkig te maak.

1. Watter raad gee Jehovah vir ouers?

Jehovah verwag van ouers om hulle kinders lief te hê en om soveel tyd as moontlik met hulle te spandeer. Hy wil ook hê dat ouers hulle kinders moet beskerm en dat hulle Bybelbeginsels moet gebruik om hulle op te lei (Spreuke 1:8). Hy sê vir pa’s: “Hou aan om [julle kinders] in die . . . riglyne van Jehovah op te voed.” (Lees Efesiërs 6:4.) Jehovah is bly wanneer ouers sy riglyne volg terwyl hulle hulle kinders grootmaak en nie daardie verantwoordelikheid aan iemand anders gee nie.

2. Watter raad gee Jehovah vir kinders?

Jehovah sê vir kinders: “Wees . . . gehoorsaam aan julle ouers.” (Lees Kolossense 3:20.) Wanneer kinders hulle ouers respekteer en gehoorsaam is aan hulle, maak hulle Jehovah en hulle ouers gelukkig (Spreuke 23:22-25). Jesus het ’n goeie voorbeeld gestel toe hy ’n kind was. Al was hy volmaak, was hy gehoorsaam aan sy ouers en het hy hulle gerespekteer. – Lukas 2:51, 52.

3. Hoe kan julle as ’n gesin nader aan God kom?

As jy ’n ouer is, wil jy natuurlik graag hê dat jou kinders net so lief vir Jehovah moet wees soos wat jy is. Hoe kan jy dit regkry? Deur te doen wat die Bybel sê: “Jy moet [Jehovah se woorde] vir jou kinders herhaal en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop” (Deuteronomium 6:7). Jy weet heel moontlik dat jy baie keer iets vir jou kinders moet herhaal sodat hulle dit sal onthou. Hierdie vers beteken dat jy gereeld na geleenthede moet soek om met jou kinders oor Jehovah te praat. Dis ’n goeie idee om elke week tyd te maak om die Bybel saam as ’n gesin te studeer. As jy nie kinders het nie, sal dit nog steeds vir jou goed wees om elke week tyd te maak om God se Woord te studeer.

SOEK DIEPER

Kyk na ’n paar dinge wat almal in die gesin kan help om veilig te voel en gelukkig te wees.

4. Lei jou kinders op met liefde

Dit kan moeilik wees om ’n kind op te lei. Hoe kan die Bybel help? Lees Jakobus 1:19, 20, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Hoe kan ouers wys dat hulle lief is vir hulle kinders wanneer hulle met hulle kinders praat?

  • Hoekom moet ’n ouer nooit sy kinders dissiplineer wanneer hy kwaad is nie? a

5. Beskerm jou kinders

As jy jou kinders wil beskerm, is dit baie belangrik dat jy met elke kind oor seks moet praat. Dit kan dalk ongemaklik wees. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

  • Hoekom is dit vir party ouers moeilik om met hulle kinders oor seks te praat?

  • Hoe het party ouers seks aan hulle kinders verduidelik?

Soos voorspel is, word Satan se wêreld net slegter en slegter. Lees 2 Timoteus 3:1, 13, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Party van die goddelose mense wat in vers 13 genoem word, molesteer kinders. So hoekom is dit belangrik dat ouers hulle kinders leer oor seks en hoe om hulleself teen molesteerders te beskerm?

Het jy geweet?

Jehovah se Getuies het baie hulpmiddele wat ouers help om hulle kinders te leer oor seks en hoe om hulle teen molestering te beskerm. Byvoorbeeld, kyk na:

6. Respekteer jou ouers

Kinders en tieners kan wys dat hulle hulle ouers respekteer deur die manier waarop hulle met hulle ouers praat. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

  • Hoekom is dit die moeite werd vir ’n jong persoon om op ’n respekvolle manier met sy ouers te praat?

  • Hoe kan ’n jong persoon met sy ouers praat op ’n manier wat wys dat hy hulle respekteer?

Lees Spreuke 1:8, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoe moet ’n jong persoon reageer wanneer sy ouers vir hom sê wat om te doen?

7. Aanbid Jehovah as ’n gesin

Gesinne wat Jehovah se Getuies is, het elke week ’n spesifieke tyd wanneer hulle Jehovah saam aanbid. Wat kan by hierdie gesinsaanbidding gedoen word? Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

  • Hoe kan ’n gesin ’n gereelde program vir Gesinsaanbidding hê?

  • Wat kan ’n ouer doen om gesinsaanbidding prakties en lekker te maak? – Sien prent aan begin van hierdie les.

  • Wat kan dit moeilik maak vir jou gesin om saam te studeer?

In eertydse Israel het Jehovah van gesinne verwag om gereeld oor die Skrif te praat. Lees Deuteronomium 6:6, 7, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoe kan jy hierdie beginsel toepas?

Idees vir gesinsaanbidding:

  • Berei vir vergaderinge voor.

  • Lees en bespreek ’n Bybelverslag wat jou gesin sal geniet.

  • As jy jong kinders het, laai ’n aktiwiteit vir kinders van jw.org af of druk dit.

  • As jy tieners het, bespreek ’n artikel vir tieners op jw.org.

  • Voer ’n storie uit die Bybel saam met jou kinders op.

  • Kyk en bespreek ’n video op jw.org.

PARTY MENSE SÊ: “Die Bybel is te moeilik vir kinders.”

  • Wat sal jy sê?

WAT ONS GELEER HET

Jehovah wil hê dat ouers hulle kinders moet liefhê, oplei en beskerm. Hy wil ook hê dat kinders hulle ouers moet respekteer en gehoorsaam. En hy wil hê dat gesinne hom saam moet aanbid.

Hersiening

  • Hoe kan ouers hulle kinders oplei en beskerm?

  • Hoe kan kinders wys dat hulle hulle ouers respekteer?

  • Hoe help dit gesinne as hulle elke week tyd maak om Jehovah saam as ’n gesin te aanbid?

Doelwit

LEER MEER

Watter lesse sal jou kind voorberei vir die lewe as ’n volwassene?

“Ses lesse wat kinders moet leer” (Ontwaak!, nr. 2 2019)

Leer watter goeie raad die Bybel vir versorgers gee.

“Wat sê die Bybel oor die versorging van bejaarde ouers?” (Web-artikel)

Kyk hoe ’n man wat nie geweet het hoe om kinders groot te maak nie, ’n goeie pa geword het.

Deur Jehovah geleer om ons kinders groot te maak (5:58)

Kyk hoe pa’s hulle verhouding met hulle seuns sterker kan maak.

“Hoe kan vaders na aan hulle seuns bly?” (Die Wagtoring, 1 November 2011)

a In die Bybel verwys “dissipline” na onderrigting, leiding en om iemand reg te help. Dit beteken nooit mishandeling of wreedheid nie. – Spreuke 4:1.