Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 57

Wat as jy ’n ernstige sonde pleeg?

Wat as jy ’n ernstige sonde pleeg?

Al is jy baie lief vir Jehovah, en al probeer jy hard om niks te doen wat hom sal seermaak nie, sal jy nou en dan foute maak. Maar party sondes is ernstiger as ander (1 Korintiërs 6:9, 10). As jy ’n ernstige sonde pleeg, moet jy onthou dat Jehovah nog steeds lief is vir jou. Hy is bereid om jou te vergewe en om jou te help.

1. Wat moet ons doen sodat Jehovah ons sal vergewe?

Dié wat lief is vir Jehovah, is baie hartseer wanneer hulle besef dat hulle ’n ernstige sonde gepleeg het. Maar Jehovah vertroos hulle met sy belofte aan sy aanbidders: “Al is julle sondes so rooi soos skarlaken, sal dit so wit soos sneeu gemaak word” (Jesaja 1:18). As ons uit die hart uit berou toon, sal Jehovah ons heeltemal vergewe. Hoe toon ons berou? Ons hou op om te doen wat sleg is en smeek Jehovah om ons te vergewe omdat ons regtig jammer is oor wat ons gedoen het. Dan werk ons hard om die verkeerde gedagtes of gewoontes te verander wat veroorsaak het dat ons sondig, en ons probeer om volgens Jehovah se rein standaarde te lewe. – Lees Jesaja 55:6, 7.

2. Hoe gebruik Jehovah die ouermanne om ons te help wanneer ons sondig?

As ons ’n ernstige sonde pleeg, sê Jehovah vir ons om “die ouermanne van die gemeente [te] roep”. (Lees Jakobus 5:14, 15.) Hierdie ouermanne is lief vir Jehovah en vir dié wat hom dien. Hulle is gekwalifiseerd om ons te help om ons verhouding met Jehovah te herstel. – Galasiërs 6:1.

Hoe help die ouermanne ons as ons ’n ernstige sonde pleeg? Twee of drie ouermanne sal ons reghelp deur vir ons raad uit die Bybel te gee. Hulle sal ook vir ons praktiese wenke en aanmoediging gee om ons te help om nie weer te sondig nie. Hulle sal dalk besluit dat ons ’n ruk lank nie aan sekere aktiwiteite in die gemeente kan deelneem totdat ons verhouding met Jehovah weer sterk is nie. As iemand wat ’n ernstige sonde gepleeg het, nie berou toon nie, sal die ouermanne hom uitsit sodat hy nie ’n slegte invloed op ander in die gemeente het nie.

SOEK DIEPER

Kry meer waardering vir die manier waarop Jehovah ons help as ons ’n ernstige sonde pleeg.

3. Wanneer ons ons sondes erken, help dit ons om te herstel

Enige sonde wat ons pleeg, raak Jehovah, en daarom is dit net reg dat ons ons sondes aan hom erken. Lees Psalm 32:1-5, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoekom is dit goed vir ons om ons sondes aan Jehovah te erken eerder as om dit te probeer wegsteek?

As ons ook die ouermanne vra om ons te help nadat ons ons sondes aan Jehovah erken het, sal ons baie beter voel. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.

  • Hoe het die ouermanne Canon gehelp om terug te keer na Jehovah?

Ons moet eerlik wees met die ouermanne. Hulle is daar om ons te help. Lees Jakobus 5:16, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoekom is dit makliker vir die ouermanne om ons te help as ons eerlik is met hulle?

Erken jou sonde, wees eerlik met die ouermanne en aanvaar Jehovah se liefdevolle hulp

4. Hoe uitsetting help

As ’n persoon wat ’n ernstige sonde gepleeg het, weier om Jehovah se standaarde te volg, kan hy nie meer deel van die gemeente wees nie. Hy word uitgesit, en ons assosieer nie met hom nie of praat nie eers met hom nie. Lees 1 Korintiërs 5:6, 11 en 2 Johannes 9-11, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Net soos suurdeeg deeg laat gis, hoe sal dit die gemeente affekteer as hulle met ’n onberouvolle sondaar assosieer?

Baie wat al uitgesit is, het later na die gemeente toe teruggekeer omdat die dissipline, al het dit seergemaak, hulle gehelp het om te besef dat wat hulle gedoen het, verkeerd was (Psalm 141:5). Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.

VIDEO: Onderwerp jou lojaal aan Jehovah se oordele (9:28)

  • Hoe het die feit dat Sonja uitgesit was, haar gehelp?

Wanneer iemand uitgesit word, hoekom . . .

  • eer dit Jehovah se naam?

  • wys dit dat Jehovah redelik en liefdevol is?

5. Jehovah vergewe ons wanneer ons berou toon

Jesus het ’n illustrasie gebruik wat ons help om te verstaan hoe Jehovah voel wanneer ’n persoon berou toon. Lees Lukas 15:1-7, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Wat leer dit jou oor Jehovah?

Lees Esegiël 33:11, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Watter belangrike stap moet ons neem om te wys dat ons berou toon?

Soos ’n herder, gee Jehovah baie om vir sy skape

PARTY MENSE SÊ: “Ek’s bang dat ek uitgesit sal word as ek vir die ouermanne van my sonde vertel.”

  • Wat sal jy vir iemand sê wat so voel?

WAT ONS GELEER HET

As ons ’n ernstige sonde pleeg, maar regtig jammer is daaroor en vasbeslote is om op te hou doen wat sleg is, sal Jehovah ons vergewe.

Hersiening

  • Hoekom is dit goed vir ons om ons sondes aan Jehovah te erken?

  • Wat moet ons doen sodat Jehovah ons sondes sal vergewe?

  • As ons ’n ernstige sonde pleeg, hoekom moet ons die ouermanne vra om ons te help?

Doelwit

LEER MEER

Kyk hoe een man Jehovah se genade wat in Jesaja 1:18 beskryf word, ondervind het.

Moet nooit twyfel aan Jehovah se genade nie (5:02)

Wanneer iemand uitgesit word, hoe help dit almal wat daarby betrokke is?

“Waarom uitsetting ’n liefdevolle voorsiening is” (Die Wagtoring, 15 Mei 2015)

Leer hoe jy vir iemand wat nie ’n Getuie is nie, kan verduidelik hoekom ’n persoon soms uitgesit word.

“Verstoot Jehovah se Getuies voormalige lede van hulle godsdiens?” (Web-artikel)

In die lewensverhaal “Ek moes na Jehovah terugkeer”, leer hoekom ’n man wat van die waarheid af weggedryf het, gevoel het dat Jehovah hom weer na Hom toe getrek het.

“Die Bybel verander lewens” (Die Wagtoring, 1 April 2012)