Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 58

Bly lojaal aan Jehovah

Bly lojaal aan Jehovah

Ware Christene is vasbeslote om nooit toe te laat dat enige iets of enige iemand inmeng met hulle aanbidding van Jehovah nie. Jy voel natuurlik ook so. Jehovah waardeer jou lojaliteit. (Lees 1 Kronieke 28:9.) Watter situasies kan jou lojaliteit aan hom toets, en hoe kan jy dit hanteer?

1. Hoe kan ander ons lojaliteit aan Jehovah toets?

Party mense sal ons probeer keer om Jehovah te dien. Wie sal so iets doen? Party wat die waarheid verlaat het, vertel leuens oor God se organisasie om ons geloof te vernietig. Hulle word afvalliges genoem. En party godsdiensleiers versprei valse inligting oor ons om te veroorsaak dat dié wat nie versigtig is nie, die waarheid verlaat. Dit is gevaarlik vir ons om met enige teenstanders te stry, om hulle boeke of blogs te lees, om na hulle webwerwe te gaan of om hulle video’s te kyk. Jesus het die volgende gesê oor dié wat probeer keer dat ander Jehovah lojaal dien: “Los hulle. Hulle is blinde gidse. As een blinde man ’n ander blinde man lei, sal hulle albei in ’n gat val.” – Matteus 15:14.

Wat as iemand wat ons ken, besluit het dat hy nie meer een van Jehovah se Getuies wil wees nie? Dit kan baie hartseer wees wanneer iemand na aan ons dit doen. Daardie persoon sal ons dalk dwing om tussen hom en Jehovah te kies. Ons moet vasbeslote wees om bo alle ander dinge lojaal aan God te bly (Matteus 10:37). So ons is gehoorsaam aan Jehovah se opdrag om nie met sulke mense te assosieer nie. – Lees 1 Korintiërs 5:11.

2. Watter persoonlike besluite kan ons lojaliteit aan Jehovah toets?

Liefde vir Jehovah sal ons motiveer om niks met valse godsdiens te doen te hê nie. Nie ons werk of die organisasies waaraan ons behoort of enige van ons aktiwiteite moet enige iets met valse godsdiens te doen hê nie. Jehovah waarsku ons: “Gaan uit [Babilon die Grote] uit, my volk.” – Openbaring 18:2, 4.

SOEK DIEPER

Leer hoe jy kan keer dat enige iemand jou lojaliteit aan Jehovah laat verswak. Kyk ook hoe jy kan wys dat jy lojaal is deur uit Babilon die Grote uit te gaan.

3. Pasop vir valse onderrigters

Hoe moet ons reageer as ons negatiewe dinge oor Jehovah se organisasie hoor? Lees Spreuke 14:15, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoekom moet ons nie alles glo wat ons hoor nie?

Lees 2 Johannes 10, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Hoe moet ons afvalliges behandel?

  • Al is ons nie direk in kontak met afvalliges nie, hoe kan ons in kontak kom met die dinge wat hulle leer?

  • Hoe dink jy sal Jehovah voel as ons luister na negatiewe dinge wat mense oor hom of sy organisasie sê?

4. Bly lojaal aan God wanneer ’n broer sondig

Wat is ons verplig om te doen as ons uitvind dat iemand in die gemeente ’n ernstige sonde gepleeg het? Kyk na ’n beginsel uit God se Wet aan eertydse Israel. Lees Levitikus 5:1.

Soos hierdie vers sê, moet ons vir die ouermanne vertel wat ons weet as ons uitvind dat ’n persoon ’n ernstige sonde gepleeg het. Maar voordat ons dit doen, sal dit liefdevol wees om daardie persoon aan te moedig om self na die ouermanne toe te gaan en sy sonde te erken. As hy dit nie doen nie, moet ons lojaliteit aan Jehovah ons motiveer om vir die ouermanne te vertel wat ons weet. As ons hierdie situasie so hanteer, hoe wys dit lojale liefde vir . . . 

  • Jehovah God?

  • die persoon wat gesondig het?

  • ander in die gemeente?

As ’n mede-aanbidder in die moeilikheid is, help hom!

5. Bly weg van Babilon die Grote

Lees Lukas 4:8 en Openbaring 18:4, 5, en beantwoord dan hierdie vrae:

  • Is my naam nog steeds op die lys van lidmate van ’n valse godsdiens?

  • Behoort ek aan ’n organisasie wat verbind is aan ’n ander godsdiens?

  • Ondersteun my werk valse godsdiens op enige manier?

  • Is daar enige ander gebiede in my lewe waar ek van valse godsdiens af moet wegbly?

  • As ek ja op enige van hierdie vrae geantwoord het, watter veranderinge moet ek maak?

Maak in alle gevalle ’n besluit wat jou ’n skoon gewete sal gee en sal wys dat jy lojaal is aan Jehovah.

Wat sal jy doen as jy gevra word om ’n donasie te gee vir ’n godsdienstige liefdadigheidsorganisasie?

PARTY MENSE SÊ: “Ek moet weet wat afvalliges oor Jehovah se Getuies sê sodat ek die waarheid kan verdedig.”

  • Sal dit wys wees? Hoekom, of hoekom nie?

WAT ONS GELEER HET

Om lojaal aan Jehovah te bly, moet ons nie assosieer met dié wat dislojaal aan hom is nie. Ons moet ook heeltemal van valse godsdiens af wegbly.

Hersiening

  • Hoekom moet ons nie na die idees van afvalliges luister, daarna kyk of dit lees nie?

  • Hoe moet ons dié behandel wat nie meer Jehovah se Getuies wil wees nie?

  • Hoe kan ons gehoorsaam wees aan die waarskuwing om uit valse godsdiens uit te gaan?

Doelwit

LEER MEER

Leer hoe om te reageer wanneer ander leuens oor Jehovah se Getuies versprei.

“Het jy al die feite?” (Die Wagtoring, Augustus 2018)

Hoe kan jy uitvind of organisasies of aktiwiteite Babilon die Grote ondersteun?

“Bly besig gedurende die laaste van ‘die laaste dae’” (Die Wagtoring, Oktober 2019, paragraaf 16-18)

Wat het party teenstanders gedoen om ons geloof te probeer verswak?

Pasop dat jy nie mislei word nie (9:32)

In die lewensverhaal “Ek het van my kinderdae af na God gesoek”, lees oor ’n Sjinto-priester wat van valse godsdiens af weggebreek het.

“Die Bybel verander lewens” (Die Wagtoring, 1 Julie 2011)