Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Eindnotas

Eindnotas
  1.  Hoe om Babilon die Grote te identifiseer

  2.  Wanneer sou die Messias verskyn?

  3.  Mediese prosedures waarby bloed betrokke is

  4.  Skeiding van huweliksmaats

  5.  Vakansiedae en vieringe

  6.  Aansteeklike siektes

  7.  Besigheid en wetlike sake

 1. Hoe om Babilon die Grote te identifiseer

Hoe weet ons dat “Babilon die Grote” alle valse godsdiens verteenwoordig? (Openbaring 17:5). Kyk na die volgende dinge:

  • Sy is ’n organisasie wat regoor die wêreld aktief is. Daar word gesê dat Babilon die Grote op “skares en nasies” sit. Sy het “’n koninkryk oor die konings van die aarde”. – Openbaring 17:15, 18.

  • Sy kan nie ’n politieke of kommersiële mag wees nie. “Die konings van die aarde” en “die handelaars” word nie saam met haar vernietig nie. – Openbaring 18:9, 15.

  • Sy gee mense die verkeerde idee van God. Sy word ’n prostituut genoem omdat sy saam met regerings werk vir geld en ander gunste (Openbaring 17:1, 2). Sy mislei mense van alle nasies. En sy is verantwoordelik vir die dood van baie mense. – Openbaring 18:23, 24.

Gaan terug na les 13 punt 6

 2. Wanneer sou die Messias verskyn?

Die Bybel het voorspel dat daar 69 weke sou wees totdat die Messias sou kom. – Lees Daniël 9:25.

  • Wanneer het die 69 weke begin? In die jaar 455 VHJ. Op daardie tyd het goewerneur Nehemia in Jerusalem aangekom om die stad te “herstel en [te] herbou”. – Daniël 9:25; Nehemia 2:1, 5-8.

  • Hoe lank was die 69 weke? In party Bybelprofesieë stel ’n dag ’n jaar voor (Numeri 14:34; Esegiël 4:6). Elke week stel dan sewe jaar voor. In hierdie profesie is 69 weke gelyk aan 483 jaar (69 weke x 7 dae).

  • Wanneer het die 69 weke geëindig? As ons 483 jaar van 455 VHJ af tel, bring dit ons by die jaar 29 HJ. a Dit was presies die jaar waarin Jesus gedoop was en die Messias geword het! – Lukas 3:1, 2, 21, 22.

Gaan terug na les 15 punt 5

 3. Mediese prosedures waarby bloed betrokke is

Daar is mediese prosedures waarin ’n pasiënt se eie bloed gebruik word. Party van hierdie prosedures is nie aanvaarbaar vir Christene nie. Byvoorbeeld, party mense skenk hulle eie bloed of stoor hulle eie bloed sodat dit later gedurende ’n operasie gebruik kan word, maar Christene sal dit nie doen nie. – Deuteronomium 15:23.

Maar ander prosedures is dalk aanvaarbaar. Dit sluit bloedtoetse, hemodialise, bloedverdunning of die gebruik van ’n selherwinningmasjien of ’n hart-longmasjien in. Elke Christen moet self besluit hoe sy eie bloed gebruik sal word gedurende ’n prosedure, mediese toets of huidige terapie. Elke dokter sal dalk hierdie prosedures ’n bietjie anders doen. So voordat ’n Christen enige operasie, mediese toets of terapie aanvaar, moet hy eers presies uitvind wat die dokter met sy bloed sal doen. Kyk na die volgende vrae:

  • Wat as van my bloed uit my liggaam gelei word en dit dalk ’n tyd lank selfs ophou vloei? Sal ek voel dat hierdie bloed nog steeds deel van my liggaam is, of sal my gewete vereis dat dit “op die grond [uitgegooi]” moet word? – Deuteronomium 12:23, 24.

  • Wat as van my eie bloed gedurende ’n mediese prosedure getrek, aangepas en in (of op) my liggaam teruggesit word? Pla dit my Bybelopgeleide gewete, of kan ek so ’n prosedure aanvaar?

Gaan terug na les 39 punt 3

 4. Skeiding van huweliksmaats

Die Bybel sê vir mans en vrouens om nie uitmekaar uit te gaan nie en maak dit duidelik dat nie die man of die vrou die reg het om weer te trou as hulle uitmekaar uit gaan nie (1 Korintiërs 7:10, 11). Maar daar is situasies waar party Christene dit al oorweeg het om uitmekaar uit te gaan.

  • Die man weier om vir sy gesin te sorg: ’n Man wil nie materieel vir sy gesin sorg nie en as gevolg daarvan het die gesin glad nie geld of kos nie. – 1 Timoteus 5:8.

  • Ernstige fisiese mishandeling: Mishandeling kan veroorsaak dat ’n huweliksmaat se gesondheid of lewe in gevaar is. – Galasiërs 5:19-21.

  • ’n Persoon se verhouding met Jehovah word heeltemal in gevaar gestel: Iemand se huweliksmaat maak dit onmoontlik vir hom of haar om Jehovah te dien. – Handelinge 5:29.

Gaan terug na les 42 punt 3

 5. Vakansiedae en vieringe

Christene neem nie deel aan vakansiedae waarmee Jehovah nie tevrede is nie. Maar elke Christen moet sy eie Bybelopgeleide gewete gebruik om te besluit wat om in sekere situasies te doen waar ander mense vakansiedae vier. Kyk na ’n paar voorbeelde.

  • Iemand wens jou ’n geseënde vakansiedag toe. Jy kan dalk net sê: “Dankie.” As die persoon meer wil leer, kan jy verduidelik hoekom jy nie die vakansiedag vier nie.

  • Jou huweliksmaat, wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, nooi jou om ’n ete saam met familie te geniet op ’n vakansiedag. As jou gewete jou toelaat om te gaan, kan jy voor die tyd vir jou huweliksmaat verduidelik dat jy nie aan heidense gebruike sal deelneem as dit deel van die ete is nie.

  • Jou werkgewer gee jou ’n bonus gedurende die vakansieseisoen. Moet jy weier om die bonus te aanvaar? Nie noodwendig nie. Sien jou werkgewer die bonus as deel van die viering, of sien hy dit net as ’n manier om te wys dat hy jou goeie werk waardeer?

  • Iemand gee vir jou ’n geskenk gedurende die vakansieseisoen. Die persoon wat vir jou die geskenk gee, sê dalk: “Ek weet dat jy nie die vakansiedag vier nie, maar ek wil dit vir jou gee.” Miskien is die persoon net vriendelik. Of is daar rede om te dink dat hy jou geloof probeer toets of jou probeer kry om die vakansiedag te vier? Nadat jy hieroor gedink het, moet jy self besluit of jy die geskenk sal aanvaar of nie. Ons wil in al ons besluite ’n skoon gewete hê en lojaal wees aan Jehovah. – Handelinge 23:1.

Gaan terug na les 44 punt 1

 6. Aansteeklike siektes

Omdat ons lief is vir mense, is ons baie versigtig dat ons nie aansteeklike siektes aan ander oordra nie. So as ons weet dat ons ’n aansteeklike siekte het, of as ons rede het om te glo dat ons dalk ’n aansteeklike siekte het, sal ons baie versigtig wees. Ons doen dit omdat die Bybel sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” – Romeine 13:8-10.

Hoe kan ’n persoon wat ’n aansteeklike siekte het, wys dat hy lief is vir ander? ’n Persoon wat ’n aansteeklike siekte het, moet fisiese kontak met mense vermy, soos om hulle drukkies te gee of hulle te soen. Hy moenie aanstoot neem as party mense hom nie na hulle huis toe nooi omdat hulle hulle gesin wil beskerm nie. En voordat hy gedoop word, moet hy vir die koördineerder van die liggaam van ouermanne van sy siekte vertel sodat reëlings gemaak kan word om ander te beskerm wat ook gedoop gaan word. Voordat iemand wat dalk aan ’n aansteeklike siekte blootgestel is, met iemand begin uitgaan, moet hy gewillig ’n bloedtoets laat doen. As jy dit doen, wys jy dat jy omgee vir ander “terwyl [jy] nie net aan [jou] eie belange dink nie, maar ook aan die belange van ander”. – Filippense 2:4.

Gaan terug na les 56 punt 2

 7. Besigheid en wetlike sake

Ons kan baie probleme vermy deur alle kontrakte oor geld en besigheidstransaksies op skrif te stel – selfs al is die ooreenkoms met ’n ander Christen (Jeremia 32:9-12). Maar Christene sal dalk soms klein probleme onder mekaar hê oor geld of ander dinge. Hulle moet sulke probleme vinnig, op ’n mooi manier en privaat oplos.

Maar hoe moet ons ernstige probleme soos bedrog of laster oplos? (Lees Matteus 18:15-17.) Jesus het ons drie stappe gegee om te volg:

  1. Probeer om die probleem privaat tussen julle op te los. – Sien vers 15.

  2. As dit nie werk nie, vra een of twee volwasse Christene in die gemeente om saam met jou te gaan. – Sien vers 16.

  3. Net as die probleem dan nog steeds nie opgelos is nie, moet jy na die ouermanne toe gaan. – Sien vers 17.

In die meeste gevalle moet ons nie ons broers hof toe vat nie, want dit kan veroorsaak dat mense sleg dink van Jehovah en van die gemeente (1 Korintiërs 6:1-8). Maar daar is party situasies wat dalk in die hof opgelos moet word: egskeidings, toesig oor kinders, onderhoudsgeld, versekeringseise, bankrotskapsake of wanneer die egtheid van ’n testament bepaal moet word. ’n Christen wat hof toe gaan om sulke situasies so vreedsaam as moontlik op te los, doen nie iets wat teen die Bybel se raad is nie.

As ’n ernstige misdaad gepleeg is – soos verkragting, kindermishandeling, aanranding, ernstige diefstal of moord – en ’n Christen dit by die owerheid rapporteer, doen hy nie iets wat teen die Bybel se raad is nie.

Gaan terug na les 56 punt 3

a Vanaf 455 VHJ tot 1 VHJ is 454 jaar. Vanaf 1 VHJ tot 1 HJ is een jaar (daar was nie ’n jaar nul nie). En vanaf 1 HJ tot 29 HJ is 28 jaar. Dit gee ons ’n totaal van 483 jaar.