Spring na inhoud

Wat God se Koninkryk gaan doen

Wat God se Koninkryk gaan doen

“Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—MATTEUS 6:10.

1. Wat sal die koms van God se Koninkryk beteken?

TOE Jesus sy volgelinge geleer het om vir God se Koninkryk te bid, het hy geweet dat die koms daarvan ’n einde sou maak aan duisende jare van menseheerskappy wat onafhanklik van God is. Gedurende daardie hele tyd het God se wil nie oor die algemeen op die aarde geskied nie (Psalm 147:19, 20). Maar ná die oprigting van die Koninkryk in die hemel, sou God se wil oral geskied. Die tyd vir die ontsagwekkende oorgang van menseheerskappy tot God se hemelse Koninkryk is baie naby.

2. Wat sal die oorgang van menseheerskappy tot Koninkryksheerskappy aandui?

2 Hierdie oorgang sal aangedui word deur die tydperk wat Jesus die “groot verdrukking” genoem het, “soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Die Bybel sê nie hoe lank hierdie tydperk sal wees nie, maar die onheil wat dan sal plaasvind, sal erger wees as enigiets wat die wêreld al ooit ondervind het. Aan die begin van die groot verdrukking sal iets gebeur wat ’n baie groot skok vir die meeste mense op die aarde sal wees: die vernietiging van alle valse godsdiens. Dit sal nie ’n skok vir Jehovah se Getuies wees nie, want hulle verwag dit al lank (Openbaring 17:1, 15-17; 18:1-24). Die groot verdrukking eindig met Armageddon wanneer God se Koninkryk die hele Sataniese stelsel vernietig.—Daniël 2:44; Openbaring 16:14, 16.

3. Hoe beskryf Jeremia die lot van ongehoorsame mense?

3 Wat sal dit beteken vir mense “wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus [oor sy hemelse Koninkryk in die hande van Christus] nie gehoorsaam nie”? (2 Tessalonisense 1:6-9). Bybelprofesie sê vir ons: “Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ’n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde. En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.”—Jeremia 25:32, 33.

Die einde van goddeloosheid

4. Waarom is Jehovah geregverdig om hierdie goddelose stelsel tot ’n einde te bring?

4 Jehovah God duld nou al duisende jare lank goddeloosheid—lank genoeg vir regskapenes om te sien dat menseheerskappy rampspoedig is. Daar is byvoorbeeld in die 20ste eeu alleen, volgens een bron, meer as 150 miljoen mense in oorloë, revolusies en ander burgerlike onluste doodgemaak. Die mens se wreedaardigheid is veral gedurende die Tweede Wêreldoorlog gesien toe ongeveer 50 miljoen doodgemaak is, waarvan baie ’n grusame dood in Nazi-konsentrasiekampe gesterf het. Net soos die Bybel voorspel het, het ‘goddelose mense en bedrieërs voortgegaan van kwaad tot erger’ in ons tyd (2 Timoteus 3:1-5, 13). Vandag vier onsedelikheid, misdaad, geweld, korrupsie en minagting vir God se standaarde hoogty. Jehovah is dus volkome geregverdig om hierdie goddelose stelsel tot ’n einde te bring.

5, 6. Beskryf die goddeloosheid wat in eertydse Kanaän bestaan het.

5 Die situasie wat nou bestaan, is soortgelyk aan dié van Kanaän sowat 3 500 jaar gelede. Die Bybel sê: “Alles wat vir die HERE ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode” (Deuteronomium 12:31). Jehovah het die nasie Israel ingelig: “Weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit” (Deuteronomium 9:5). Die Bybelgeskiedkundige Henry H. Halley het gesê: “Die aanbidding van Baäl, Astarot en ander Kanaänitiese gode het uit die buitensporigste orgieë bestaan; hulle tempels was sentrums van ontug.”

6 Halley het getoon hoe gruwelik hulle goddeloosheid geword het, want in een van baie sulke gebiede het argeoloë “talle kruike gevind waarin die oorskot van kinders was wat aan Baäl geoffer is”. Hy het gesê: “Die hele gebied was blykbaar ’n begraafplaas vir pasgebore babas. . . . Die Kanaäniete het aanbid deur losbandigheid, as ’n godsdiensritus, voor hulle gode te bedryf; en dan, deur hulle eersgebore kinders te vermoor as ’n offerande aan hierdie selfde gode. Dit wil voorkom asof die land Kanaän grotendeels ’n soort Sodom en Gomorra op ’n nasionale skaal geword het. . . . Het so ’n verfoeilik onsedelike en wrede beskawing enige verdere bestaansreg gehad? . . . Argeoloë wat in die puin van Kanaänitiese stede opgrawings doen, is verbaas dat God hulle nie vroeër vernietig het nie.”

Die aarde word beërf

7, 8. Hoe sal God hierdie aarde reinig?

7 Net soos God Kanaän gereinig het, sal hy binnekort die hele aarde reinig en dit gee aan diegene wat sy wil doen. “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei . . . word” (Spreuke 2:21, 22). En die psalmis sê: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:10, 11). Ook Satan sal verwyder word, sodat “hy die nasies nie meer [sal] mislei totdat die duisend jaar geëindig het nie” (Openbaring 20:1-3). Ja, “die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”.—1 Johannes 2:17.

8 Jesus het die wonderlike hoop vir diegene wat vir ewig op die aarde wil lewe só opgesom: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Hy het waarskynlik na Psalm 37:29 verwys, waar daar voorspel word: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Jesus het geweet dat dit Jehovah se voorneme is dat regskapenes vir ewig op ’n paradysaarde moet lewe. Jehovah sê: “Ek het die aarde, die mens en die diere wat op die aarde is, gemaak deur my grote krag . . . , en Ek gee dit aan wie dit reg is in my oë.”—Jeremia 27:5.

’n Wonderlike nuwe wêreld

9. Watter soort wêreld sal God se Koninkryk tot stand bring?

9 Ná Armageddon sal God se Koninkryk ’n wonderlike “nuwe aarde” tot stand bring waarin “regverdigheid [sal] woon” (2 Petrus 3:13). Wat ’n groot verligting sal dit tog vir Armageddon-oorlewendes wees om van hierdie onderdrukkende goddelose stelsel van dinge ontslae te wees! Hoe verheug sal hulle tog wees dat hulle die regverdige nuwe wêreld onder die hemelse Koninkryksregering kon ingaan, met wonderlike seëninge en ewige lewe in die vooruitsig!—Openbaring 7:9-17.

10. Watter slegte toestande sal nie meer onder die Koninkryksheerskappy bestaan nie?

10 Mense sal nie meer deur oorlog, misdaad, honger of selfs roofdiere bedreig word nie. “Ek sal ’n verbond van vrede met [my volk] sluit en die wilde diere uit die land laat verdwyn . . . En die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee, en hulle sal veilig wees in hul land.” “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik.”—Esegiël 34:25-28; Miga 4:3, 4.

11. Waarom kan ons vol vertroue wees dat fisiese kwale iets van die verlede sal wees?

11 Siekte, droefheid en selfs die dood sal iets van die verlede wees. “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe” (Jesaja 33:24). “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan. . . . ’Kyk! Ek maak alles nuut’” (Openbaring 21:4, 5). Toe Jesus op die aarde was, het hy getoon dat hy die vermoë het om daardie dinge te doen deur die krag wat God hom gegee het. Met die hulp van die heilige gees het Jesus deur die hele land gegaan en die kreupeles en die siekes genees.—Matteus 15:30, 31.

12. Watter hoop is daar vir die dooies?

12 Jesus het selfs meer gedoen. Hy het die dooies opgewek. Hoe het nederige mense gereageer? Toe hy ’n 12-jarige dogtertjie opgewek het, was haar ouers “buite hulleself van groot ekstase” (Markus 5:42). Dit was nog ’n voorbeeld van wat Jesus op die hele aarde onder die Koninkryksheerskappy sal doen, want dan gaan “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees” (Handelinge 24:15). Stel jou die groot ekstase voor wanneer die dooies groep na groep opgewek word en met hulle geliefdes herenig word! Daar sal ongetwyfeld ’n groot onderrigtingswerk onder die toesig van die Koninkryk gedoen word sodat ‘die aarde vol sal wees van die kennis van Jehovah soos die waters die seebodem oordek’.—Jesaja 11:9.

‘Daar gaan ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges wees’

Jehovah se soewereiniteit word geregverdig

13. Hoe sal die regmatigheid van God se heerskappy getoon word?

13 Aan die einde van die duisend jaar van Koninkryksheerskappy sal die mensdom tot volmaaktheid van verstand en liggaam herstel wees. Die aarde sal ’n wêreldwye tuin van Eden, ’n paradys, wees. Vrede, geluk, veiligheid en ’n liefdevolle mensegemeenskap sal ’n werklikheid wees. Nog nooit in die mensegeskiedenis voor die Koninkryksheerskappy is so iets al gesien nie. Hoe groot sal die teenstelling dan tog wees tussen die vorige duisende jare van ellendige menseheerskappy en die glorieryke heerskappy deur God se duisendjarige hemelse Koninkryk! Die heerskappy van God deur sy Koninkryk sal in alle opsigte uitstaan as die heel beste regering. God se reg om te regeer, sy soewereiniteit, sal heeltemal geregverdig wees.

14. Wat sal aan die einde van die duisend jaar met opstandelinge gebeur?

14 Aan die einde van die duisend jaar, sal Jehovah volmaakte mense toelaat om hulle keusevryheid uit te oefen deur te besluit wie hulle wil dien. Die Bybel toon dat “Satan uit sy gevangenis losgelaat [sal] word”. Hy sal weer eens mense probeer mislei, en party sal onafhanklikheid van God kies. Om te voorkom dat ‘benoudheid ’n tweede keer opkom’, sal Jehovah Satan, sy demone en almal wat teen Jehovah se soewereiniteit in opstand kom, vernietig. Niemand kan beswaar maak dat enige mense wat dan vir ewig vernietig word nie ’n kans gehad het of dat hulle verkeerde lewenswandel weens onvolmaaktheid was nie. Nee, hulle sal soos die volmaakte mense Adam en Eva wees, wat uit vrye wil gekies het om teen Jehovah se regverdige heerskappy in opstand te kom.—Openbaring 20:7-10; Nahum 1:9NW.

Lojale persone sal teruggebring word in ’n behoorlike verhouding met Jehovah

15. Watter verhouding sal lojale persone met Jehovah geniet?

15 Daarenteen sal die meeste mense waarskynlik kies om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun. Elke opstandeling sal vernietig wees, en die regverdiges sal voor Jehovah staan nadat hulle die finale toets van lojaliteit geslaag het. Hierdie lojale persone sal dan deur Jehovah aangeneem word as sy seuns en dogters. Hulle tree gevolglik weer in die verhouding wat Adam en Eva met God gehad het voordat hulle in opstand gekom het. Romeine 8:21 sal derhalwe vervul word: “Die skepping self [die mensdom, sal] ook van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak . . . word en die glorieryke vryheid van die kinders van God . . . hê.” Die profeet Jesaja voorspel: “[God] sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee.”—Jesaja 25:8.

Die hoop op ewige lewe

16. Waarom is dit gepas om na die beloning van ewige lewe uit te sien?

16 Wat ’n wonderlike vooruitsig het getroue mense tog om te weet dat God vir ewig geestelike en materiële voordele in oorvloed op hulle sal uitstort! Die psalmis het tereg gesê: “U maak u hand oop en bevredig die [gepaste] begeerte van alles wat lewe” (Psalm 145:16, NW). Jehovah moedig diegene van die aardse klas aan om hierdie hoop op lewe in die Paradys ’n deel van hulle geloof in hom te maak. Hoewel die geskil van Jehovah se soewereiniteit belangriker is, vra hy nie dat mense hom moet dien met geen vooruitsig op ’n beloning nie. Dwarsdeur die Bybel word lojaliteit teenoor God en die hoop op ewige lewe onafskeidelik aan mekaar verbind as noodsaaklike dele van ’n Christen se geloof in God. “Hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.”—Hebreërs 11:6.

17. Hoe het Jesus getoon dat dit gepas is om deur ons hoop onderskraag te word?

17 Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Hier verbind hy kennis van God en sy voornemens met die beloning wat dit meebring. Toe ’n kwaaddoener Jesus byvoorbeeld gevra het om aan hom te dink wanneer hy in sy Koninkryk kom, het Jesus gesê: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Hy het nie vir die man gesê om geloof te hê al ontvang hy nie ’n beloning nie. Hy het geweet Jehovah wil hê dat sy knegte die hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde moet hê om hulle te onderskraag wanneer hulle voor verskillende beproewinge in hierdie wêreld te staan kom. Om na die beloning uit te sien, is dus ’n noodsaaklike hulp om as ’n Christen te volhard.

Die toekoms van die Koninkryk

18, 19. Wat sal van die Koning en die Koninkryk aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy word?

18 Watter rol is daar vir die Koning Jesus Christus en die 144 000 konings en priesters ná die Millennium, aangesien die Koninkryk ’n sekondêre regering is wat Jehovah gebruik het om die aarde en sy mensebewoners tot volmaaktheid te bring en met hom te versoen? “Vervolgens die einde, wanneer hy die koninkryk aan sy God en Vader oorgee, wanneer hy alle regering en alle gesag en mag tot niet gemaak het. Want hy moet as koning heers totdat God alle vyande onder sy voete gestel het.”—1 Korintiërs 15:24, 25.

19 Hoe moet ons die tekste verstaan wat sê dat die Koninkryk vir ewig sal bestaan as Christus dit dan aan God gaan oorgee? Alles wat deur die Koninkryk tot stand gebring is, sal blywend wees. Christus sal vir ewig vereer word vir die rol wat hy gespeel het in die regverdiging van God se soewereiniteit. Maar aangesien sonde en die dood dan heeltemal verwyder sal wees en die mensdom dan losgekoop sal wees, bring dit die behoefte aan hom as ’n Loskoper tot ’n einde. Die Duisendjarige Heerskappy van die Koninkryk sal dan ook ten volle volbring wees; ’n sekondêre regering sal dus nie meer nodig wees om tussen Jehovah en gehoorsame mense op te tree nie. Sodoende sal “God alles vir elkeen kan wees”.—1 Korintiërs 15:28.

20. Hoe kan ons uitvind wat die toekoms vir Christus en die 144 000 inhou?

20 Watter toekomstige rol sal Christus en sy medeheersers hê nadat die Duisendjarige Heerskappy verby is? Die Bybel sê nie. Maar ons kan daarvan seker wees dat Jehovah hulle baie ander diensvoorregte in sy ganse skepping sal gee. Mag almal van ons vandag Jehovah se soewereiniteit ondersteun en die ewige lewe ontvang, sodat ons in die toekoms daar sal wees om uit te vind wat Jehovah vir die Koning en sy medekonings en -priesters in gedagte het, asook vir sy hele ontsagwekkende heelal!