Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Hasmoneërs en hulle nalatenskap

Die Hasmoneërs en hulle nalatenskap

Die Hasmoneërs en hulle nalatenskap

TOE Jesus op aarde was, was Judaïsme in faksies verdeel wat almal meegeding het om invloed oor die volk uit te oefen. Dit is die prentjie wat in die Evangelieverslae geskilder word, sowel as in die geskrifte van die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Josefus.

Die Fariseërs en die Sadduseërs verskyn op hierdie toneel as ’n invloedryke mag, wat die openbare mening in so ’n mate kon beïnvloed dat hulle Jesus as die Messias verwerp (Matteus 15:1, 2; 16:1; Johannes 11:47, 48; 12:42, 43). Daar word egter nêrens in die Hebreeuse Geskrifte van hierdie twee invloedryke groepe melding gemaak nie.

Die eerste keer dat Josefus die Sadduseërs en die Fariseërs meld, is in die konteks van die tweede eeu v.G.J. Gedurende hierdie tydperk het baie Jode hulle laat beïnvloed deur Hellenisme, dit wil sê die Griekse kultuur en filosofie. Die spanning tussen Hellenisme en Judaïsme het ’n hoogtepunt bereik toe die Seleukiede heersers die tempel in Jerusalem verontreinig en aan Zeus toegewy het. ’n Dinamiese Joodse leier, Judas Makkabeër, van ’n familie wat as die Hasmoneërs bekend gestaan het, het ’n rebelleleër gelei wat die tempel uit Griekse hande bevry het. a

Die jare direk ná die Makkabese opstand en oorwinning is gekenmerk deur ’n neiging om sektes te vorm wat op botsende ideologieë gegrond was, en elkeen het met die ander meegeding om die groter Joodse gemeenskap aan hulle kant te kry. Maar waarom het hierdie neiging ontwikkel? Waarom het Judaïsme so verdeeld geraak? Kom ons ondersoek die geskiedenis van die Hasmoneërs om dit te beantwoord.

Toenemende onafhanklikheid en onenigheid

Nadat Judas Makkabeër sy godsdienstige doelwit bereik het om aanbidding by Jehovah se tempel te herstel, het hy by die politiek betrokke geraak. Gevolglik het baie Jode opgehou om hom te volg. Hy het nogtans sy stryd teen die Seleukiede heersers voortgesit, ’n verdrag met Rome gesluit en ’n onafhanklike Joodse Staat probeer stig. Nadat Judas in ’n veldslag gesterf het, het sy broers Jonatan en Simon die stryd voortgesit. Die Seleukiede heersers het die Makkabeërs aanvanklik kragtig teëgestaan. Maar die heersers het mettertyd politieke toegewings gemaak en die Hasmoneër-broers ’n mate van selfregering toegelaat.

Hoewel die Hasmoneërs van priesterlike afkoms was, het nie een van hulle ooit in die posisie van hoëpriester gedien nie. Baie Jode het gemeen dat hierdie posisie deur priesters beklee moet word wat in die lyn van Sadok was, wat deur Salomo as hoëpriester aangestel is (1 Konings 2:35; Esegiël 43:19). Jonatan het oorlogvoering en diplomasie gebruik om die Seleukiede te oortuig om hom as hoëpriester aan te stel. Maar ná Jonatan se dood het sy broer Simon nog meer bereik. In September 140 v.G.J. is ’n belangrike bevel in Jerusalem uitgevaardig, wat in Griekse skrif op bronsplate bewaar is: “Koning Demetrius [die Griekse Seleukiede heerser] het hom [Simon] . . . in die hoëpriesterskap bevestig en hom een van sy vriende gemaak en met onderskeiding behandel. . . . Dit het die Jode en die priesters geval dat Simon vir altyd hulle leier en hoëpriester sou wees totdat ’n betroubare profeet sou verskyn.”—1 Makkabeërs 14:38-41 (’n geskiedkundige boek wat in die Apokriewe geskrifte gevind word).

Simon se posisie as heerser sowel as hoëpriester—vir homself en sy nakomelinge—is dus nie net deur die uitlandse Seleukiede gesag bevestig nie, maar ook deur “die Groot Vergadering” van sy eie volk. Dit was ’n belangrike keerpunt. Toe die Hasmoneërs, volgens die geskiedskrywer Emil Schürer, eers ’n politieke dinastie gestig het, “was dit nie meer vir hulle van die grootste belang om die Tora [Joodse Wet] na te kom nie, maar om hulle politieke mag te behou en uit te brei”. Aangesien Simon egter versigtig was om nie die Jode te krenk nie, het hy die titel “etnarg”, of “leier van die volk”, pleks van “koning” gebruik.

Nie almal was gelukkig met die Hasmoneërs se toe-eiening van godsdienstige sowel as politieke beheer nie. Volgens baie geleerdes was dit gedurende hierdie tydperk dat die Qumran-gemeenskap gevorm is. ’n Priester in die lyn van Sadok, wat glo die een is waarna die Qumran-geskrifte verwys as “die Onderrigter van Regverdigheid”, het Jerusalem verlaat en ’n opposisiegroep in die Judese woestyn by die Dooie See ingelei. Een van die Dooie See-rolle, ’n kommentaar op die boek Habakuk, veroordeel “die goddelose Priester wat aan die begin met die waarheid geassosieer is, maar toe hy oor Israel geheers het, het sy hart trots geraak”. Baie geleerdes meen dat Jonatan of Simon kon beantwoord aan die sekte se beskrywing van die “goddelose Priester” wat aan bewind was.

Simon het nog militêre veldtogte onderneem om die gebied onder sy beheer uit te brei. Maar sy heerskappy het skielik geëindig toe sy skoonseun, Ptolemeus, hom saam met twee van sy seuns vermoor het terwyl hulle naby Jerigo feesgevier het. Hierdie poging om beheer te verkry, het misluk. Johannes Hyrkanus, Simon se oorblywende seun, is gewaarsku dat sy lewe ook in gevaar is. Hy het dié wat hom wou doodmaak, gevange geneem en die leierskap en hoëpriesterskap in die plek van sy vader oorgeneem.

Verdere uitbreiding en onderdrukking

Aanvanklik het Johannes Hyrkanus voor ernstige bedreigings van Siriese magte te staan gekom, maar toe het die Seleukiede dinastie in 129 v.G.J. ’n beslissende stryd teen die Parters verloor. Aangaande die uitwerking van hierdie oorlog op die Seleukiede het die Joodse geleerde Menahem Stern geskryf: “Die hele struktuur van die koninkryk het feitlik ineengestort.” Daarom kon Hyrkanus “Judea weer heeltemal polities onafhanklik maak en in verskillende rigtings begin uitbrei”. En hy het met mening uitgebrei.

Toe Hyrkanus nie meer deur enige Siriese bedreigings verhinder is nie, het hy gebiede buite Judea begin inval en onderwerp. Die inwoners moes hulle tot Judaïsme bekeer of anders sou hulle stede vernietig word. Een van hierdie veldtogte was teen die inwoners van Idumea (Edomiete). Hieroor het Stern gesê: “Die bekering van die inwoners van Idumea was die eerste van sy soort, aangesien dit van ’n hele ras en nie net van ’n paar individue was nie.” Een van die ander gebiede wat verower is, was Samaria, waar Hyrkanus die Samaritaanse tempel op die berg Gerisim vernietig het. Die geskiedskrywer Solomon Grayzel het getoon hoe ironies hierdie beleid van gedwonge bekering deur die Hasmoneër-dinastie was toe hy geskryf het: “Hier is ’n kleinseun van Mattatias [Judas Makkabeër se vader] wat juis dié beginsel—godsdiensvryheid—geskend het wat die vorige geslag so edelmoedig verdedig het.”

Fariseërs en Sadduseërs verskyn

Dit is wanneer Josefus oor Hyrkanus se bewind skryf dat hy die toenemende invloed van die Fariseërs en die Sadduseërs vir die eerste keer bespreek. (Josefus het die Fariseërs gemeld wat gedurende die bewind van Jonatan gelewe het.) Hy sê nie wat hulle oorsprong was nie. Party geleerdes beskou hulle as ’n groep wat uit die Chassidim gekom het, ’n vroom sekte wat Judas Makkabeër in sy godsdienstige doelwitte ondersteun het, maar hom verlaat het toe sy ambisies hom na die politiek gedryf het.

Die naam Fariseërs word gewoonlik verbind met die Hebreeuse grondwoord wat “afgeskeidenes” beteken, hoewel party meen dat dit verwant is aan die woord “verklaarders”. Fariseërs was geleerdes uit die gewone mense, met geen spesiale herkoms nie. Hulle het hulle afgeskei van rituele onreinheid deur ’n filosofie van spesiale vroomheid, en hulle het tempelwette van priesterlike heiligheid op alledaagse situasies toegepas. Die Fariseërs het ’n nuwe manier ontwikkel om die Skrif uit te lê, asook ’n konsep wat later as die mondelinge wet bekend gestaan het. Gedurende Simon se bewind het hulle meer invloed verkry toe party van hulle aangestel is as lede van die Gerousia (raad van ouer manne), wat later as die Sanhedrin bekend geword het.

Josefus vertel dat Johannes Hyrkanus aanvanklik ’n leerling en ondersteuner van die Fariseërs was. Maar op ’n sekere stadium het die Fariseërs hom tereggewys omdat hy nie van die hoëpriesterskap wou afsien nie. Dit het tot ’n dramatiese skeuring gelei. Hyrkanus het die Fariseërs se godsdiensverordeninge onwettig verklaar. As ’n bykomende straf het hy hom by die Fariseërs se godsdiensteenstanders, die Sadduseërs, geskaar.

Die naam Sadduseërs hou waarskynlik verband met die hoëpriester Sadok, wie se nakomelinge sedert Salomo se tyd die priesteramp beklee het. Maar nie al die Sadduseërs was in hierdie lyn nie. Volgens Josefus was die Sadduseërs die edelmanne en welgesteldes van die nasie, en hulle het nie die steun van die volksmassa gehad nie. Professor Schiffman sê: “Die meeste van hulle . . . was blykbaar priesters of diegene wat in die hoëpriesterlike families ingetrou het.” Hulle het dus lank ’n noue band gehad met diegene wat die magsposisies beklee het. Die feit dat die Fariseërs ’n al hoe groter rol in die openbare lewe gespeel het en die beskouing wat die Fariseërs voorgestaan het dat die hele volk priesterlike heiligheid kon bereik, is derhalwe as ’n bedreiging gesien wat die Sadduseërs se natuurlike gesag kon ondermyn. Toe, in die laaste jare van Hyrkanus se bewind, het die Sadduseërs weer die beheer oorgeneem.

Meer politiek, minder vroomheid

Hyrkanus se oudste seun, Aristobulus, het net een jaar geheers voordat hy gesterf het. Hy het die beleid van gedwonge bekering onder die mense van Iturea voortgesit en Bo-Galilea onder die beheer van die Hasmoneërs gebring. Maar dit was gedurende die bewind van sy broer Aleksander Jannaeus, wat van 103-76 v.G.J. geheers het, wat die Hasmoneër-dinastie die toppunt van sy mag bereik het.

Aleksander Jannaeus het die vorige beleid geïgnoreer en homself openlik hoëpriester sowel as koning verklaar. Die konflikte tussen die Hasmoneërs en die Fariseërs het toegeneem en selfs tot ’n burgeroorlog gelei waarin 50 000 Jode gesterf het. Nadat die opstand onderdruk is, het Jannaeus, in ’n daad wat ’n mens aan heidense konings laat dink, 800 van die rebelle aan pale gehang. In hulle sterwensoomblikke is hulle vrouens en kinders voor hulle oë vermoor, terwyl Jannaeus openlik saam met sy byvrouens feesgevier het. b

Ondanks sy vyandigheid teenoor die Fariseërs was Jannaeus ’n pragmatiese politikus. Hy het gesien dat die Fariseërs al hoe meer steun geniet het. Op sy sterfbed was sy instruksie aan sy vrou, Salome Aleksandra, om kragte met hulle saam te snoer. Jannaeus het haar bo sy seuns as opvolger in sy koninkryk verkies. Sy was ’n bekwame heerser, en gedurende haar bewind (76-67 v.G.J.) het die nasie een van die vreedsamer tydperke onder Hasmoneër-heerskappy geniet. Die Fariseërs is weer gesagsposisies gegee, en die wette teen hulle godsdiensverordeninge is opgehef.

Met Salome se dood het haar seuns Hyrkanus II, wat as hoëpriester gedien het, en Aristobulus II in ’n magstryd gewikkel geraak. Nie een van hulle het die politieke en militêre insig van hulle voorvaders gehad nie, en hulle het blykbaar ook nie die volle betekenis verstaan van die toenemende Romeinse teenwoordigheid in die gebied ná die algehele ineenstorting van die Seleukiede koninkryk nie. In 63 v.G.J. het albei broers hulle tot die Romeinse heerser Pompejus gewend terwyl hy in Damaskus was en hom gevra om as bemiddelaar in hulle twis op te tree. Daardie selfde jaar het Pompejus en sy troepe Jerusalem binnegeval en beheer van die stad oorgeneem. Dit was die begin van die einde vir die Hasmoneër-koninkryk. In 37 v.G.J. is Jerusalem oorgeneem deur die Idumese koning Herodes die Grote, wat deur die Romeinse Senaat goedgekeur is as “Koning van Judea”, “bondgenoot en vriend van die Romeinse volk”. Die Hasmoneër-koninkryk het nie meer bestaan nie.

Die Hasmoneërs se nalatenskap

Die tydperk van die Hasmoneërs, van Judas Makkabeër tot Aristobulus II, het die grondslag gelê vir die verdeelde godsdienstoneel wat bestaan het toe Jesus op aarde was. Die Hasmoneërs het begin met ywer vir die aanbidding van God, maar dit het ontaard in ’n onderdrukkende bevordering van hulle eie belange. Hulle priesters, wat die geleentheid gehad het om die mense te verenig in die nakoming van God se Wet, het die nasie in die afgrond van politieke binnegevegte gestort. In hierdie milieu het verdelende godsdiensbeskouings gefloreer. Die Hasmoneërs het nie meer bestaan nie, maar die stryd om godsdiensbeheer tussen die Sadduseërs, die Fariseërs en ander sou ’n kenmerk wees van die nasie wat toe onder Herodes en Rome se bewind was.

[Voetnote]

a Sien die artikel “Wie was die Makkabeërs?” in Die Wagtoring van 15 November 1998.

b Een van die Dooie See-rolle, “Kommentaar op Nahum”, meld “die Leeu van Toorn” deur wie “manne lewendig gehang is”, wat moontlik na die bogenoemde geval verwys.

[Tabel op bladsy 30]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die dinastie van die Hasmoneërs

Judas Makkabeër

Jonatan Makkabeër

Simon Makkabeër

Johannes Hyrkanus

↓ ↓

Salome Aleksandra—is getroud met—Aleksander Jannaeus Aristobulus

↓ ↓

Hyrkanus II

Aristobulus II

[Prent op bladsy 27]

Judas Makkabeër wou Joodse onafhanklikheid hê

[Erkenning]

The Doré Bible Illustrations/Dover Publications, Inc.

[Prent op bladsy 29]

Die Hasmoneërs het geveg om hulle beheer oor nie-Joodse stede uit te brei

[Erkenning]

The Doré Bible Illustrations/Dover Publications, Inc.