Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Tydige onderrigting om jongmense te help

Tydige onderrigting om jongmense te help

Staan in volkomenheid en met vaste oortuiging

Tydige onderrigting om jongmense te help

EPAFRAS was ’n eerste-eeuse Christen wat na Rome gereis het. Hy het egter met goeie rede bly dink aan Kolosse, ’n stad in Klein-Asië. Hy het die goeie nuus daar verkondig en het ongetwyfeld sommige Kolossense gehelp om dissipels van Jesus Christus te word (Kolossense 1:7). Epafras was diep besorg oor medegelowiges in Kolosse, want die apostel Paulus het uit Rome aan hulle geskryf: “Epafras . . . stuur vir julle groete en span hom altyd in ten behoewe van julle in sy gebede, sodat julle uiteindelik in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God kan staan.”—Kolossense 4:12.

Vandag bid Christenvaders en -moeders ook vurig vir die geestelike welsyn van hulle kinders. Hierdie ouers probeer liefde vir God in die harte van hulle kinders inskerp sodat hulle standvastig in die geloof sal word.

Baie Christenjongmense het hulp gevra om die uitdagings te bowe te kom waarmee hulle op skool en elders te kampe het. Een 15-jarige meisie het gesê: “Ons probleme word al hoe erger. Die lewe maak my baie bang. Ons het hulp nodig!” Is daar aan die versoeke van sulke jongmense voldoen, en is die gebede van godvrugtige ouers verhoor? Ja! Bybelonderrig is deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien (Matteus 24:45). Op die foto’s kan van die lektuur gesien word wat honderdduisende jongmense al gehelp het om ‘in volkomenheid en met vaste oortuiging te staan’. Kom ons kyk na ’n paar van hierdie publikasies.

“Kyk . . . 15 000 nuwe getuies”!

In Augustus 1941 het ’n gehoor van 115 000 in St. Louis, Missouri, VSA, bymekaargekom vir die grootste byeenkoms van Jehovah se Getuies wat tot op daardie tyd gehou is. Op die laaste dag van die byeenkoms—“Kinderdag”—het ongeveer 15 000 kinders wat naby die verhoog gesit het, aandagtig geluister terwyl Joseph F. Rutherford die onderwerp “Kinders van die Koning” bespreek het. Na aan die einde van sy toespraak het die 71-jarige Rutherford op ’n vaderlike toon gesê:

“Al julle . . . kinders wat ingestem het . . . om God en sy Koning te gehoorsaam, staan asseblief op.” Die kinders het soos een man opgestaan. “Kyk”, het broer Rutherford uitgeroep, “meer as 15 000 nuwe getuies vir die Koninkryk!” Daar was dawerende applous. Die spreker het bygevoeg: “Almal van julle wat sal doen wat julle kan om ander van God se koninkryk . . . te vertel, sê asseblief Ja.” Die kinders het met ’n harde “Ja!” geantwoord. Toe het hy die nuwe boek Kinders vrygestel, wat met lang applous ontvang is.

Ná hierdie roerende toespraak het ’n lang ry jongmense op die verhoog geloop, waar broer Rutherford hulle ’n geskenkeksemplaar van die nuwe boek gegee het. Die toneel het die gehoor tot trane beweeg. ’n Ooggetuie van die gebeurtenis het gesê: “Slegs ’n hart van klip sou nie beweeg word deur die toneel van kinders wat algehele vertroue en geloof in hulle God, Jehovah, [toon] nie.”

By daardie onvergeetlike byeenkoms is 1 300 jongmense gedoop as ’n simbool van hulle toewyding aan Jehovah. Baie van hulle het tot vandag toe standvastig in die geloof gebly. Hulle ondersteun plaaslike gemeentes, is Bethelvrywilligers of dien as sendelinge in ander lande. Ja, “Kinderdag” en die boek Kinders het ’n blywende indruk op talle jong harte gemaak!

“Hulle kom, lyk dit my, op net die regte tyd”

Gedurende die 1970’s het Jehovah se Getuies nog drie boeke uitgegee wat die harte van honderdduisende jongmense bereik het. Dit is Luister na die Groot Onderwyser, Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut en My boek met Bybelverhale. In 1982 het die reeks “Jongmense vra . . . ” in die Ontwaak! begin verskyn. Hierdie artikels het die harte van oud en jonk geraak. “Ek dank God elke aand daarvoor”, het ’n 14-jarige gesê. “Ek hou baie van die artikels”, het ’n 13-jarige gesê, “hulle kom, lyk dit my, op net die regte tyd.” Ouers en aangestelde Christen- ouer manne stem saam dat hierdie artikels tydig en nuttig was.

Ongeveer 200 “Jongmense vra . . . ”-artikels het al teen 1989 in die Ontwaak! verskyn. By die “Godvrugtige Toegewydheid”-streekbyeenkoms daardie jaar is die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk vrygestel. Het dit jongmense gehelp om standvastig in die geloof te bly? Drie jongmense het geskryf: “Hierdie boek is ’n wonderlike middel wat ons gehelp het om ons probleme te verstaan en dit die hoof te bied. Dankie dat julle oor ons welsyn besorg is.” Talle jongmense regoor die wêreld stem hiermee saam.

“Dit het ons honger bevredig”

In 1999 het Jehovah se Getuies nog ’n tydige onderrigmiddel vir jongmense vrygestel—die video Young People Ask—How Can I Make Real Friends? Dit het ’n positiewe reaksie uitgelok. “Hierdie video het my diep getref”, het ’n 14-jarige gesê. “Dit sal ’n gereelde deel van ons geestelike dieet wees”, het ’n enkelmoeder gesê. “Dit is hartverblydend om te weet dat ons beste Vriend, Jehovah, werklik lief is en omgee vir die jongmense in sy wêreldwye organisasie”, het ’n jong vrou gesê.

Wat het die video bereik? Jongmense sê: “Dit het my gehelp om versigtig te wees met wie ek assosieer, om my vriendekring in die gemeente te vergroot en om Jehovah my vriend te maak.” “Dit het my gehelp om portuurdwang die hoof te bied.” “Dit het my vasbeslote gemaak om Jehovah tot die beste van my vermoë te dien.” En ’n egpaar het geskryf: “Ons wil julle van harte bedank vir hierdie ‘voedsel’ wat julle ons gee. Dit het ons honger bevredig.”

Die gesalfde “getroue en verstandige slaaf” voer sy godgegewe opdrag getrou uit deur tydige geestelike voedsel vir almal te voorsien wat dit wil hê. En wat ’n vreugde is dit tog om te sien hoe hierdie skriftuurlike onderrigting jongmense vandag help om “in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God [te] staan”!