Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ware aanbidding verenig mense

Ware aanbidding verenig mense

Ware aanbidding verenig mense

HOEWEL godsdiens oor die algemeen geneig is om die mensdom te verdeel, het die aanbidding van die enigste ware God die krag om mense te verenig. Toe Israel God se uitverkore nasie was, is talle opregte nie-Jode deur ware aanbidding aangetrek. Rut het byvoorbeeld die gode van haar geboorteland Moab agtergelaat en vir Naomi gesê: “U volk is my volk, en u God is my God” (Rut 1:16). Teen die eerste eeu G.J. het ’n groot aantal nie-Jode aanbidders van die ware God geword (Handelinge 13:48; 17:4). Toe Jesus se apostels later met die goeie nuus na verafgeleë plekke begin reis het, is ander opregte mense in die aanbidding van die ware God verenig. “Julle [het] julle van julle afgode tot God gekeer . . . om ’n lewende en ware God as slawe te dien”, het die apostel Paulus geskryf (1 Tessalonisense 1:9). Het aanbidding van die ware God vandag sulke verenigende krag?

Skeptici hou vol dat dit verkeerd is om te praat van “ware aanbidders” of “die ware God”. Hulle voel dalk so omdat hulle onbewus is van enige bron waaruit waarheid geleer kan word. Maar waarheidsoekers uit talle agtergronde het besef dat aanbidding nie ’n saak van voorkeur is nie. Die enigste een wat ons aanbidding waardig is, is die Skepper van alle dinge—Jehovah God (Openbaring 4:11). Hy is die ware God, en hy het die reg om te besluit hoe hy aanbid moet word.

Jehovah het deur middel van sy Woord, die Bybel, met ons gekommunikeer om ons te help om sy vereistes te verstaan. Bykans almal op aarde het vandag toegang tot die Bybel in sy geheel of dele daarvan. Bowendien het God se Seun gesê: “As julle in my woord bly, . . . sal [julle] die waarheid ken” (Johannes 8:31, 32). Ons kan dus weet wat die waarheid is. En miljoene opregtes van hart van verskillende godsdiensagtergronde neem hierdie waarheid moedig aan en word in ware aanbidding verenig.—Matteus 28:19, 20; Openbaring 7:9, 10.

Wêreldwye eenheid in ons tyd!

’n Merkwaardige profesie in die Bybelboek Sefanja praat van mense van uiteenlopende agtergronde wat byeenkom. Dit sê: “Dan sal ek [Jehovah God] volke tot ’n suiwer taal laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep, om hom skouer aan skouer te dien” (Sefanja 3:9, NW). Wat ’n pragtige gesig is dit tog van mense wat verander het en God in eenheid dien!

Wanneer sou dit gebeur? Sefanja 3:8 sê: “Verwag My, spreek die HERE, op die dag wat Ek My gereed maak vir die buit; want dit is my strafoordeel om nasies te versamel, koninkryke te vergader om my grimmigheid oor hulle uit te stort, al die gloed van my toorn. Want die ganse aarde sal deur die vuur van my ywer verteer word!” Ja, gedurende die tyd dat Jehovah die nasies versamel, maar voordat hy die gloed van sy toorn oor hulle uitstort, laat hy die sagmoediges van die aarde tot ’n suiwer taal oorgaan. Ons is nou in daardie tyd, want die insameling van alle nasies na die oorlog van die groot dag van God die Almagtige by Armageddon is reeds aan die gang.—Openbaring 16:14, 16.

Jehovah gee aan sy volk ’n suiwer taal om hulle te verenig. Hierdie nuwe taal sluit ’n juiste begrip van Bybelwaarhede oor God en sy voornemens in. Om die suiwer taal te praat, behels dat ons die waarheid glo, dit aan ander leer en in ooreenstemming met God se wette en beginsels lewe. Dit vereis dat ons verdelende politiek verwerp en ons hart reinig van selfsugtige gesindhede, soos rassisme en verdelende nasionalisme wat so kenmerkend van hierdie wêreld is (Johannes 17:14; Handelinge 10:34, 35). Alle opregtes van hart wat die waarheid liefhet, kan hierdie taal aanleer. Kyk hoe die vyf mense wat in die vorige artikel gemeld is—wat vantevore op godsdiensgebied so verdeeld was—nou in die aanbidding van die enigste ware God, Jehovah, verenig is.

Hulle is verenig in ware aanbidding

Toe Fidelia, die vroom Rooms-Katoliek, ’n Bybel vir haar dogter se skoolwerk gekoop het, het sy haar priester gevra om vir haar daaruit te verduidelik wat met haar vyf kinders gebeur het wat gesterf het. “Wat ’n teleurstelling!” sê sy. Toe Jehovah se Getuies haar dus besoek het, het sy hulle ’n soortgelyke vraag gevra. Nadat sy in haar eie Bybel die waarheid oor die toestand van die dooies gelees het, het sy besef hoe die kerk haar mislei het. Sy het geleer dat die dooies nie van enigiets bewus is nie en dus nie in Limbo of enige ander plek ly nie (Psalm 146:4; Prediker 9:5). Fidelia het van al haar godsdiensbeelde ontslae geraak, die kerk verlaat en die Bybel begin studeer (1 Johannes 5:21). Sy geniet dit al die afgelope tien jaar om skriftuurlike waarheid aan ander te leer.

Tara van Katmandoe het na ’n land verhuis waar daar min Hindoetempels was. Sy het gevolglik na ’n Metodistekerk gegaan met die hoop om haar geestelike behoeftes te bevredig. Maar sy het geen antwoord op haar vraag oor menselyding gevind nie. Toe het Jehovah se Getuies met haar in aanraking gekom en aangebied om die Bybel met haar te studeer. Tara sê: “Ek het tot die besef gekom dat ’n God van liefde nie vir al die lyding in die wêreld verantwoordelik kan wees nie . . . Ek was verheug oor die vooruitsig van ’n nuwe wêreld van vrede en harmonie” (Openbaring 21:3, 4). Tara het van haar Hindoebeelde ontslae geraak, die godsdiensgebruike van haar geboorteland gestaak en ware geluk gevind deur as ’n Getuie van Jehovah ander se geestelike behoeftes te help bevredig.

Panja, die Boeddhis, was ’n waarsêer toe Jehovah se Getuies hom die eerste keer in Bangkok besoek het, en gevolglik het die profesieë in die Bybel hom gefassineer. Panja het gesê: “Toe ek leer dat die huidige toestande nie met die Skepper se oorspronklike voorneme ooreenstem nie en hoe hy gereël het om die skade reg te stel wat veroorsaak is deur diegene wat hom en sy soewereiniteit verwerp, was dit asof daar ’n sluier voor my oë gelig is. Alles omtrent die Bybel se boodskap het van soveel harmonie getuig. Ek het Jehovah as ’n persoon leer liefkry; dit het my gemotiveer om te doen wat ek geweet het reg is. Ek was gretig om ander te help om die verskil tussen mensewysheid en Goddelike wysheid te sien. Ware wysheid het werklik my lewe verander.”

Virgil het mettertyd ernstig begin twyfel oor sy godsdiensoortuiging. Hy het nie meer gebid dat God swart mense sal help en vir wat hy as ’n rassistiese organisasie beskou het wat haat teen blankes aanblaas nie, maar hy het eerder gebid om die waarheid te vind, wat dit ook al was, waar dit ook al gevind kon word. “Toe ek die volgende oggend wakker geword het ná my vurige gebed tot God”, onthou Virgil, “het ek ’n Wagtoring in die huis gekry. . . . Iemand moes dit onder die deur ingestoot het.” Kort daarna het hy die Bybel ywerig saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Hy gaan voort: “Vir die eerste keer in my lewe het ek tevrede gevoel. . . . ’n Straal van hoop het vir my begin skyn.” Virgil is kort daarna met diegene verenig wat mense die enigste ware hoop bied wat in God se Woord, die Bybel, uiteengesit word.

Charo van Latyns-Amerika was beïndruk toe ’n Getuie met die naam Gladys gesien het dat sy haar hande vol het met haar klein kindertjies en haar begin help het deur haar mark toe te neem. Mettertyd het Charo ’n aanbod van Gladys aanvaar—’n gratis tuisbybelstudie. Toe Charo uit haar eie Bybel geleer het dat nie alle goeie mense hemel toe gaan nie, maar dat Jehovah ook mense op aarde sal seën met ewige lewe, was sy verstom (Psalm 37:11, 29). Charo vertel ander al die afgelope 15 jaar van hierdie hoop.

Stel jou voor dat die hele aarde deur opregte mense bewoon word wat verenig is in die aanbidding van Jehovah, die enigste ware God! Dit is nie ’n fantasie nie. Dit is wat Jehovah belowe het. Deur sy profeet Sefanja het God verklaar: “Ek sal tussen jou in laat oorbly ’n ellendige en geringe volk wat by die Naam van die HERE skuiling soek. . . . [Hulle] sal geen onreg doen en geen leuentaal spreek nie, en in hulle mond sal geen bedrieglike tong gevind word nie; . . . en niemand sal hulle verskrik nie” (Sefanja 3:12, 13). As hierdie belofte tot jou hart spreek, moet jy op die Bybel se vermaning ag slaan: “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”—Sefanja 2:3.