Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Streekbyeenkomste—’n vreugdevolle bevestiging van ons broederskap

Streekbyeenkomste—’n vreugdevolle bevestiging van ons broederskap

Staan in volkomenheid en met vaste oortuiging

Streekbyeenkomste—’n vreugdevolle bevestiging van ons broederskap

DIE 50-jarige Joseph F. Rutherford, wat met sy gesondheid gesukkel het nadat hy byna ’n jaar lank ten onregte in die tronk was, werk opgewek as hoteljoggie. Hy help fluks tasse dra en lei mede-Christene na hulle hotelkamers. Twee van sy voormalige tronkmaats—mede-Bybelstudente—deel kamertoewysings uit aan ’n groot groep mense wat staan en wag. Hulle bly bedrywig tot lank ná middernag. Daar heers ’n aansteeklike opgewondenheid onder almal. Wat is die geleentheid?

Dit is die jaar 1919, en die Bybelstudente (vandag bekend as Jehovah se Getuies) is besig om te herstel ná ’n tydperk van wrede vervolging. Om hulle geledere te versterk, hou hulle van 1 tot 8 September 1919 ’n byeenkoms in Cedar Point, Ohio, VSA. Op die laaste dag van die byeenkoms het ’n opgewonde skare van 7 000 aandagtig geluister terwyl broer Rutherford elkeen van die byeenkomsgangers aangespoor het met die woorde: “Jy is ’n ambassadeur van die Koning van die konings en die Here van die here, wat vir die mense vertel van . . . die glorieryke koninkryk van ons Heer.”

Onder Jehovah se volk gaan byeenkomste terug na die tyd van eertydse Israel (Exodus 23:14-17; Lukas 2:41-43). Sulke samekomste was vreugdevolle geleenthede wat almal wat teenwoordig was, gehelp het om hulle gedagtes op die Woord van God gevestig te hou. Die byeenkomste van Jehovah se Getuies in hedendaagse tye draai eweneens om geestelike belange. Vir opregte waarnemers lewer hierdie vreugdevolle byeenkomste onweerlegbare bewys dat die Getuies deur sterk bande van Christenbroederskap verenig word.

Party se pogings om teenwoordig te wees

Hedendaagse Christene besef dat hulle byeenkomste tye van geestelike verkwikking en onderrigting uit God se Woord is. Hulle beskou hierdie groot vergaderinge as ’n onontbeerlike hulpmiddel sodat hulle “in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God kan staan” (Kolossense 4:12). Daarom ondersteun die Getuies hierdie vergaderinge heelhartig, en hulle wend ’n groot poging aan om dit by te woon.

Om bloot by sulke byeenkomste teenwoordig te wees, verg van sommige dat hulle geloof moet beoefen en hindernisse moet oorkom wat soos berge lyk. Neem byvoorbeeld ’n bejaarde Getuie in Oostenryk. Hoewel sy suikersiekte het en daagliks insulieninspuitings nodig het, het sy seker gemaak dat sy die streekbyeenkoms in haar land elke dag bywoon. In Indië was dit vir ’n groot Getuie-gesin wat brandarm is, feitlik onmoontlik om ’n byeenkoms by te woon. Een van die gesinslede het ’n oplossing gehad. “Omdat ek nie die geleentheid wou misloop nie”, het sy gesê, “het ek my goue oorbelle verkoop om vir die reis te betaal. Dit was die opoffering werd, aangesien die assosiasie en ondervindinge ons geloof versterk het.”

In Papoea-Nieu-Guinee was ’n groep ongedoopte belangstellendes vasbeslote om ’n streekbyeenkoms in die hoofstad by te woon. Hulle het ’n man in hulle dorpie genader wat ’n huurmotor gehad het en wou van hom weet hoeveel hy hulle sou vra om hulle na die byeenkoms toe te neem. Aangesien die bedrag meer was as wat hulle kon betaal, het hulle reëlings getref om aan die man se huis te werk en sy kombuis op te knap. Sodoende kon hulle by die streekbyeenkoms uitkom en daarby baat vind om die hele program by te woon.

Afstand is nie ’n onoorkomelike probleem vir Getuies van Jehovah wat vasbeslote is om by byeenkomste teenwoordig te wees nie. In 1978 het ’n jong byeenkomsganger van Pole in ses dae 1 200 kilometer met ’n fiets gery om ’n byeenkoms in Lille, Frankryk, by te woon. Gedurende die somer van 1997 het twee Getuies van Mongolië 1 200 kilometer gereis om ’n Christelike samekoms in Irkoetsk, Rusland, by te woon.

Ware broederskap in aksie

Die eenheid en broederskap wat die Getuies by hulle byeenkomste openbaar, is vir opregte waarnemers duidelik. Baie mense is al beïndruk deur die feit dat daar geen partydigheid onder die byeenkomsgangers is nie en dat daar ware hartlikheid selfs onder diegene bestaan wat mekaar die eerste keer ontmoet.

Gedurende ’n onlangse internasionale byeenkoms in Australië wou ’n toergids wat die besoekende byeenkomsgangers ’n week lank vergesel het, ’n bietjie langer by hulle bly om hulle geselskap te geniet. Hy was beïndruk deur hulle liefde en eenheid, en hy kon nie glo dat hulle so goed oor die weg gekom het nie, aangesien die meeste van hulle mekaar nie geken het nie. Toe dit tyd geword het vir hom om te vertrek, het hy gevra of hy iets kon sê. Hy het hulle begin bedank deur hulle as “broers en susters” aan te spreek, maar kon nie verder praat nie, want sy keel het toegetrek en hy het begin huil.

In 1997 het Sri Lanka hulle eerste drietalige streekbyeenkoms in ’n groot stadion gehou. Die hele program is tegelykertyd in Engels, Singalees en Tamil aangebied. In ’n wêreld waar etniese spanning voortdurend toeneem, het so ’n samekoms van drie taalgroepe nie ongesiens verbygegaan nie. Een polisieman het ’n broer gevra: “Wie is in beheer van hierdie byeenkoms—die Singalese, die Tamils of die Engelse?” “Nie een van die groepe is in beheer van die byeenkoms nie”, het die broer geantwoord. “Ons almal doen dit saam.” Die polisieman kon dit nie glo nie. Toe al drie taalgroepe saam ná die slotgebed geluister het en ’n gesamentlike “Amen” deur die stadion weerklink het, het die byeenkomsgangers spontaan begin hande klap. Feitlik die hele gehoor was in trane. Ja, byeenkomste is inderdaad ’n vreugdevolle bevestiging van ons broederskap.—Psalm 133:1. a

[Voetnoot]

a Sien bladsye 66-77, 254-82 van die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.