Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wandel op ‘die pad van regskapenheid’

Wandel op ‘die pad van regskapenheid’

Wandel op ‘die pad van regskapenheid’

‘DIT sal met die regverdige goed gaan’, het die profeet Jesaja gesê, “want die vrug van hul handelinge sal hulle eet.” Jesaja het ook gesê: “Die pad van die regverdige is regskapenheid” (Jesaja 3:10; 26:7, NW). Dit is duidelik dat ons moet doen wat reg is in God se oë as ons wil hê ons handelinge moet goeie vrug voortbring.

Maar hoe kan ons op die pad van regskapenheid wandel? Watter seëninge kan ons verwag as ons dit doen? En hoe kan ander daarby baat vind as ons volgens God se regverdige standaarde lewe? In hoofstuk 10 van die Bybelboek Spreuke gee koning Salomo van eertydse Israel antwoorde op hierdie vrae wanneer hy die regverdige met die goddelose vergelyk. Hierin gebruik hy die uitdrukking “regverdige[s]” 13 keer. Nege hiervan kom in verse 15 tot 32 voor. Daarom sal dit bemoedigend wees om Spreuke 10:15-32 te ondersoek. a

Hou vas aan dissipline

Salomo toon hoe belangrik regverdigheid is. Hy sê: “Die waardevolle dinge van ’n ryke is sy sterk stad. Die ondergang van die geringes is hulle armoede. Die werk van die regverdige lei tot die lewe; die opbrengs van die goddelose lei tot sonde.”Spreuke 10:15, 16NW.

Rykdom kan as ’n beskerming dien teen sommige onsekerhede in die lewe, net soos ’n versterkte stad ’n mate van veiligheid bied vir diegene wat daarin woon. En armoede kan jou ondergang beteken wanneer daar onverwagte verwikkelinge is (Prediker 7:12). Die wyse koning kon egter ook gesinspeel het op ’n gevaar waarby rykdom sowel as armoede betrokke is. ’n Ryk man stel dalk sy volle vertroue in sy rykdom en verbeel hom dat sy waardevolle dinge “soos ’n beskermende muur” is (Spreuke 18:11, NW). En ’n arm persoon het dalk verkeerdelik die beskouing dat sy armoede sy toekoms hopeloos maak. Albei versuim dus om ’n goeie naam by God te maak.

Aan die ander kant lei ’n regverdige persoon se regskape gedrag tot die lewe, hetsy hy materieel baie of min het. Hoe? Wel, hy is vergenoeg met wat hy het. Hy laat nie toe dat sy finansiële situasie sy goeie posisie voor God skaad nie. Hetsy ryk of arm, ’n regverdige man se lewenswandel bring hom geluk nou en die vooruitsig op ewige lewe in die toekoms (Job 42:10-13). Al verkry die goddelose rykdom, baat hy nie daarby nie. Pleks dat hy die beskermende waarde daarvan waardeer en in ooreenstemming met God se wil lewe, gebruik hy sy rykdom om ’n lewe van sonde te bevorder.

“Hy wat aan dissipline vashou, is ’n pad na die lewe”, sê die koning van Israel voorts, “maar hy wat teregwysing verlaat, veroorsaak dat daar gedwaal word” (Spreuke 10:17, NW). Een Bybelkenner is van mening dat hierdie vers op twee maniere verstaan kan word. Een moontlikheid is dat die persoon wat hom aan dissipline onderwerp en regverdigheid nastreef, op die pad na die lewe is, terwyl die een wat teregwysing verlaat, van daardie pad afdwaal. Die vers kan ook die volgende beteken: “Hy wat op dissipline ag slaan, wys die weg na die lewe [aan ander omdat hulle by sy goeie voorbeeld baat vind], maar wie ook al regstelling ignoreer, bring ander op ’n dwaalspoor” (Spreuke 10:17, New International Version). Hoe dit ook al sy, dit is uiters noodsaaklik dat ons aan dissipline vashou en nie teregwysing versaak nie!

Vervang haat met liefde

Salomo meld vervolgens ’n tweeledige spreuk wat ’n gelyksoortige gedagte bevat, en waar die tweede deel die eerste bekragtig. Hy sê: “Waar daar iemand is wat haat bedek, is daar leuenagtige lippe.” As ’n man vir iemand haat in sy hart het en dit agter mooipraatjies of vleiery verberg, is hy bedrieglik—hy het “leuenagtige lippe”. Hierby voeg die wyse koning by: “Wie ’n slegte berig versprei, is dwaas” (Spreuke 10:18, NW). Sommige mense verberg nie hulle haat nie, maar maak valse aantygings of neerhalende aanmerkings oor die een wat hulle haat. Dit is dwaas, want die lasterlike berig verander nie werklik wat daardie persoon is nie. En ’n hoorder met insig sal later die kwaadwilligheid sien en minder van die lasteraar dink. Sodoende benadeel iemand homself as hy ’n slegte berig versprei.

’n Mens tree regverdig op as jy niemand bedrieg of laster nie. God het vir die Israeliete gesê: “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie” (Levitikus 19:17). En Jesus het sy luisteraars gemaan: “Hou aan om [selfs] julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; sodat julle julle seuns kan betoon van julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:44, 45). Hoeveel beter is dit om jou hart eerder met liefde as haat te vul!

‘Hou jou lippe in toom’

Die wyse koning het beklemtoon hoe belangrik dit is om die tong te beheer en gesê: “In die oorvloed van woorde ontbreek die oortreding nie, maar wie sy lippe in toom hou, tree verstandig op.”Spreuke 10:19NW.

“Die dwaas gebruik baie woorde” (Prediker 10:14). Sy mond “laat sotheid uitborrel” (Spreuke 15:2). Dit beteken nie dat elke spraaksame persoon ’n dwaas is nie. Maar hoe maklik is dit vir iemand wat te veel praat om ’n kanaal te wees waardeur skadelike skinderpraatjies of gerugte versprei word! ’n Geskende reputasie, seergemaakte gevoelens, gespanne verhoudings en selfs fisiese leed kan dikwels aan dwase praatjies toegeskryf word. “Met baie praat bly die sonde nie uit nie” (Spreuke 10:19, NAV). Daarbenewens is dit irriterend om by iemand te wees wat oor alles iets te sê het. Mag ons nie ’n oorvloed woorde hê nie.

Die een wat sy lippe in toom hou, vermy nie net valsheid nie, maar tree verstandig op. Hy dink voor hy praat. Gemotiveer deur liefde vir Jehovah se weë en ’n opregte begeerte om sy medemens te help, oorweeg hy die uitwerking van sy woorde op ander. Wat hy sê, is liefdevol en vriendelik. Hy dink na oor hoe hy sy woorde aangenaam en nuttig kan maak. Sy woorde is soos “goue appels op versierde silwerborde”—altyd goed gekies en smaakvol.—Spreuke 25:11.

“Voed en lei talle deurentyd”

“Die tong van die regverdige is uitgesoekte silwer”, sê Salomo verder, “die hart van die goddelose is min werd” (Spreuke 10:20, NW). Wat die regverdige sê, is suiwer—soos uitgesoekte, gelouterde silwer, sonder enige onsuiwerhede. Dit is beslis die geval met Jehovah se knegte terwyl hulle die lewensreddende kennis van God se Woord aan ander oordra. Hulle Grootse Onderrigter, Jehovah God, het hulle geleer en ‘hulle ’n geoefende tong gegee, dat hulle kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde’ (Jesaja 30:20, NW; 50:4). Hulle tong is inderdaad soos uitgesoekte silwer wanneer dit oor Bybelwaarheid praat. Hoe oneindig waardevoller is hulle woorde vir opregtes van hart as die bedoelings van die goddelose! Laat ons gretig wees om oor God se Koninkryk en die wonderlike werke van God te praat.

Die regverdige is ’n seën vir diegene om hom. “Die lippe van die regverdige voed en lei talle deurentyd”, sê Salomo voorts, “maar omdat die dwase nie ’n verstandige hart het nie, sterf hulle steeds.”Spreuke 10:21NW.

Hoe ‘voed en lei die regverdige talle deurentyd’? Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, dra die idee van herderswerk oor (Spreuke 10:21, voetnoot in naslaanuitgawe). Dit bevat die gedagte van leiding sowel as voeding, baie soos ’n herder van die ou tyd vir sy skape gesorg het (1 Samuel 16:11; Psalm 23:1-3; Hooglied 1:7). Die regverdige rig of lei ander na die weg van regverdigheid en sy spraak voed sy luisteraars. Gevolglik lei hulle gelukkiger, bevredigender lewens en kan hulle selfs die ewige lewe ontvang.

Maar wat van die dwase? Omdat hy nie ’n verstandige hart het nie, het hy nie ’n goeie beweegrede of is hy nie bekommerd oor die gevolge van sy weg nie. So iemand doen net wat hy wil, onbewus van die gevolge. Daarom ontvang hy die straf vir sy optrede. Terwyl die regverdige help om ander aan die lewe te hou, kan die persoon wat nie ’n verstandige hart het nie, homself nie eers aan die lewe hou nie.

Verwerp losbandigheid

Iemand se persoonlikheid word dikwels geopenbaar deur die dinge waarvan hy hou en nie hou nie. Die koning van Israel het op hierdie feit gewys en gesê: “Vir die sot is dit soos vermaak om losbandig te wees, maar wysheid is vir die man met onderskeidingsvermoë.”Spreuke 10:23NW.

Party beskou losbandigheid as vermaak, of ’n speletjie, en neem net vir die “pret” daaraan deel. Sulke mense ignoreer God as die een aan wie almal rekenskap moet gee, en hulle bly blind vir die verkeerdheid van hulle weg (Romeine 14:12). Hulle redenasies raak so verdorwe dat hulle dink God sien nie hulle verkeerde dade nie. Deur hulle dade sê hulle in werklikheid: “Daar is geen God nie” (Psalm 14:1-3; Jesaja 29:15, 16). Hoe dwaas tog!

’n Man van onderskeidingsvermoë besef aan die ander kant dat losbandigheid nie vermaak is nie. Hy weet dat dit God mishaag en dat dit ’n mens se verhouding met hom kan vernietig. Sulke gedrag is dwaas omdat dit mense hulle selfrespek ontneem, huwelike vernietig, die verstand en liggaam beskadig en tot ’n verlies aan geestelikheid lei. Ons is verstandig as ons losbandigheid verwerp en ’n liefde aankweek vir wysheid soos vir ’n geliefde suster.—Spreuke 7:4.

Bou op die regte fondament

Salomo wys daarop hoe waardevol dit is om jou lewe op ’n behoorlike fondament te bou en sê: “Wat vir die goddelose skrikwekkend is—dit sal oor hom kom; maar die begeerte van die regverdiges sal toegestaan word. Soos wanneer die stormwind verbygaan, so is die goddelose nie meer nie; maar die regverdige is ’n fondament tot onbepaalde tyd.”Spreuke 10:24, 25NW.

Die goddelose kan ander baie bang maak. Maar dit wat hy gevrees het, oorval hom op die ou end. Omdat hy nie ’n fondasie in regverdige beginsels het nie, is hy soos ’n onstabiele gebou wat in ’n woeste storm ineenstort. Hy knak onder druk. Aan die ander kant is die regverdige soos ’n man wat in ooreenstemming met Jesus se woorde optree. Hy is “’n verstandige man, wat sy huis op die rots gebou het”. “En”, het Jesus gesê, “die reën het neergestort en die vloedwaters het gekom en die winde het gewaai en aan daardie huis geruk, maar dit het nie ingestort nie, want dit was op die rots gegrondves” (Matteus 7:24, 25). So iemand is standvastig—sy denke en dade is stewig op Goddelike beginsels gegrond.

Voordat die wyse koning voortgaan om die goddelose en die regverdige te vergelyk, gee hy ’n kort maar belangrike waarskuwing. Hy sê: “Soos asyn vir die tande en soos rook vir die oë, so is die luiaard vir dié wat hom uitstuur” (Spreuke 10:26, NW). Asyn is iets onaangenaams vir die tande. Die asynsuur daarin veroorsaak ’n suur smaak in die mond en kan ’n mens se tande sensitief laat voel. Rook laat die oë brand en pyn. Net so sal dit vir iemand wat ’n lui persoon huur of hom as ’n verteenwoordiger gebruik, ’n ergernis wees en skade veroorsaak.

“Die weg van Jehovah is ’n vesting”

Die koning van Israel sê voorts: “Die vrees van Jehovah sal dae byvoeg, maar die jare van die goddeloses sal verkort word. Die verwagting van die regverdiges is ’n vreugde, maar die hoop van die goddeloses sal vergaan.”Spreuke 10:27, 28NW.

Die regverdige word gelei deur godvrugtige vrees en probeer Jehovah deur sy gedagtes, woorde en dade behaag. God sorg vir hom en verwesenlik sy regverdige verwagtinge. Maar die goddelose lei ’n lewe sonder God. Sy hoop kan met tye lyk of dit verwesenlik word, maar dis net tydelik, want sy dae word dikwels verkort deur geweld of ’n siekte wat die gevolg van sy lewenswyse is. Die dag wanneer hy sterf, lê alles waarop hy gehoop het aan skerwe.—Spreuke 11:7.

“Die weg van Jehovah is ’n vesting vir die onberispelike”, sê Salomo, “maar ondergang is vir dié wat skadelike dinge beoefen” (Spreuke 10:29, NW). Die weg van Jehovah verwys hier nie na die weg van die lewe waarop ons moet wandel nie, maar na die manier waarop God met die mensdom handel. “Die Rots, volmaak is sy werk”, het Moses gesê, “want al sy weë is geregtigheid” (Deuteronomium 32:4, NW). God se regverdige weë beteken veiligheid vir die regverdige en vernietiging vir die goddelose.

Wat ’n vesting is Jehovah tog vir sy volk! “Wat die regverdige betref, tot onbepaalde tyd sal niks hom laat wankel nie; maar wat die goddeloses betref, hulle sal nie op die aarde bly woon nie. Die mond van die regverdige—dit dra die vrug van wysheid, maar die verdorwe tong sal uitgeroei word. Die lippe van die regverdige—hulle leer welwillendheid ken, maar die mond van die goddeloses is verdorwenheid.”Spreuke 10:30-32NW.

Die regverdige vaar beslis goed en word geseën omdat hy op die pad van regskapenheid wandel. Trouens, “die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie” (Spreuke 10:22, NW). Laat ons dus altyd seker maak dat ons in ooreenstemming met Goddelike beginsels optree. Laat ons ook ons lippe in toom hou en ons tong gebruik om ander op te bou met die lewensreddende waarheid van God se Woord en hulle rig na die weg van regverdigheid.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 15 Julie 2001, bladsye 24-7, vir ’n breedvoerige bespreking van Spreuke 10:1-14.

[Prent op bladsy 26]

Die tong kan soos “uitgesoekte silwer” wees