Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vra verskoning—Herstel só die vrede

Vra verskoning—Herstel só die vrede

Vra verskoning—Herstel só die vrede

“OM VERSKONING te vra, het ’n kragtige uitwerking. Dit los geskille op sonder geweld, ruim onenigheid tussen nasies uit die weg, maak dit vir regerings makliker om te erken dat hulle burgers ly en herstel die balans in persoonlike verhoudings.” Dit is wat Deborah Tannen geskryf het, ’n gewilde skrywer en sosiolinguis aan die Universiteit van Georgetown in Washington, DC.

Die Bybel bevestig dat ’n vertroebelde verhouding dikwels herstel kan word as ’n mens opreg verskoning vra. In Jesus se gelykenis van die verlore seun was die vader byvoorbeeld heeltemal bereid om sy seun wat teruggekeer en opreg verskoning gevra het, terug in die gesin te verwelkom (Lukas 15:17-24). Ja, ’n mens moet nederig genoeg wees om jou trots te sluk, verskoning te vra en vergifnis te probeer verkry. Vir mense wat waarlik nederig is, is dit natuurlik nie so moeilik om verskoning te vra nie.

Die krag van ’n verskoning

Abigail, ’n verstandige vrou in eertydse Israel, voorsien ’n voorbeeld van hoe kragtig ’n verskoning kan wees, hoewel sy verskoning gevra het vir ’n onreg wat haar man gepleeg het. Terwyl Dawid, wat later die koning van Israel geword het, in die wildernis gelewe het, het hy en sy manne die vee beskerm wat aan Abigail se man, Nabal, behoort het. Maar toe Dawid se jong manne Nabal vir brood en water gaan vra het, was hy baie beledigend en het hy hulle met leë hande weggestuur. Dawid was woedend en het met ongeveer 400 man teen Nabal en sy huishouding opgetrek. Abigail het hiervan gehoor en Dawid tegemoetgegaan. Toe sy hom sien, het sy op haar gesig voor sy voete neergeval. Daarna het sy gesê: “Op my, o my heer, is die oortreding; en laat u slavin asseblief voor u ore spreek, en luister na die woorde van u slavin.” Abigail het toe die situasie verduidelik en Dawid ’n geskenk van kos en drinkgoed gegee. Daarop het hy gesê: “Gaan in vrede op na jou huis. Kyk, ek het na jou stem geluister sodat ek jou in aanmerking sal neem.”—1 Samuel 25:2-35.

Abigail se nederige gesindheid tesame met die feit dat sy vir haar man se slegte gedrag verskoning gevra het, het die mense in haar huishouding van die dood gered. Dawid het haar selfs bedank dat sy hom daarvan weerhou het om bloedskuldig te word. Hoewel dit nie Abigail was wat Dawid en sy manne sleg behandel het nie, het sy die skuld van haar gesin op haar geneem en die vrede met Dawid herstel.

Nog ’n voorbeeld van iemand wat geweet het wanneer om verskoning te vra, is die apostel Paulus. Hy moes hom eenkeer voor die Sanhedrin, die Joodse hoër hof, verdedig. Verontwaardig oor Paulus se eerlike woorde het die hoëpriester Ananias dié wat by Paulus gestaan het, beveel om hom op die mond te slaan. Daarop het Paulus vir hom gesê: “God gaan jou slaan, jou gewitte muur. Sit jy om my ooreenkomstig die Wet te oordeel en beveel jy terselfdertyd, in oortreding van die Wet, dat ek geslaan moet word?” Toe die omstanders Paulus daarvan beskuldig dat hy sleg praat van die hoëpriester, het die apostel onmiddellik sy fout erken en gesê: “Broers, ek het nie geweet dat hy hoëpriester is nie. Want daar staan geskrywe: ‘Jy mag nie kwaadspreek van ’n heerser van jou volk nie.’”—Handelinge 23:1-5.

Paulus se woorde—dat die een wat as regter aangestel is, hom nie tot geweld mag wend nie—was geldig. Nietemin het hy verskoning gevra omdat hy onwetend met die hoëpriester gepraat het op ’n manier wat as oneerbiedig beskou kon word. a Omdat Paulus verskoning gevra het, was die Sanhedrin bereid om te luister na wat hy te sê gehad het. Paulus was bewus van die geskil wat onder die lede van die hof bestaan het, en daarom het hy vir hulle gesê dat hy verhoor word vir sy geloof in die opstanding. Gevolglik het daar groot onenigheid ontstaan, en die Fariseërs het hulle aan Paulus se kant geskaar.—Handelinge 23:6-10.

Wat kan ons uit hierdie twee Bybelvoorbeelde leer? In beide gevalle is opregte spyt uitgespreek, en dit het verdere kommunikasie moontlik gemaak. Om verskoning te vra, kan ons dus help om die vrede te herstel. Ja, as ons ons foute erken en verskoning vra vir enige leed wat ons veroorsaak het, kan dit die geleentheid skep om die saak uit te praat.

‘Maar ek het niks verkeerds gedoen nie’

Wanneer ons uitvind dat ons iemand aanstoot gegee het deur iets wat ons gesê of gedoen het, voel ons dalk dat so iemand onredelik of oorgevoelig is. Maar Jesus Christus het sy dissipels vermaan: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe.”—Matteus 5:23, 24.

Gestel ’n broer voel dat jy teen hom gesondig het. Jesus sê dat jy in so ’n situasie moet gaan en ‘vrede met jou broer moet maak’, of jy nou dink dat jy hom ’n onreg aangedoen het of nie. Volgens die Griekse teks dui die woord wat Jesus hier gebruik het, ‘op wedersydse toegewing ná wedersydse gegriefdheid’ (Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words). Ja, wanneer twee mense nie met mekaar oor die weg kom nie, kan daar ’n mate van skuld aan albei kante wees, aangesien albei onvolmaak is en geneig is om foute te maak. Gewoonlik beteken dit dat wedersydse toegewings nodig sal wees.

Dit gaan nie soseer oor wie reg en wie verkeerd is nie, maar wie die inisiatief sal neem om die vrede te herstel. Toe die apostel Paulus opgemerk het dat die Christene in Korinte ander knegte van God voor wêreldse howe gedaag het oor persoonlike probleme soos finansiële geskille, het hy hulle tereggewys: “Waarom laat julle julle nie liewer veronreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?” (1 Korintiërs 6:7). Hoewel Paulus dit gesê het om mede-Christene af te raai om hulle persoonlike geskille na wêreldse howe te neem, is die beginsel duidelik: Vrede onder medegelowiges is belangriker as om te bewys wie reg en wie verkeerd is. As ons hierdie beginsel in gedagte hou, maak dit dit makliker om verskoning te vra vir ’n onreg wat iemand dink ons teen hom of haar gepleeg het.

Opregtheid is nodig

Die woorde waarmee verskoning gevra word, word egter te algemeen deur party mense gebruik. In Japan word die woord soemimasen, ’n algemene uitdrukking waarmee verskoning gevra word, byvoorbeeld duisende kere gehoor. Dit kan selfs gebruik word om dankbaarheid uit te spreek en dit impliseer dat ’n mens ongemaklik voel omdat jy nie kan vergoed vir die guns wat aan jou bewys is nie. Omdat dit ’n verskeidenheid betekenisse het, kan party mense voel dat die woord te dikwels gebruik word en kan hulle wonder of dié wat dit wel gebruik, waarlik opreg is. Selfs in ander kulture lyk dit miskien of woorde waarmee verskoning gevra word, te algemeen gebruik word.

In enige taal is dit belangrik om opreg te wees wanneer ’n mens verskoning vra. Jou woorde en stemtoon moet toon dat jy werklik jammer is. Jesus Christus het sy dissipels in die Bergpredikasie geleer: “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee; want wat meer as dit is, is uit die bose” (Matteus 5:37). As jy verskoning vra, moet jy dit bedoel! Ter toeligting: ’n Man wat by ’n lughawe in ’n ry by ’n vertrektoonbank gestaan het, het verskoning gevra toe hy met sy bagasie teen die vrou agter hom gestamp het. ’n Paar minute later, toe die ry beweeg het, het die tas weer aan die vrou geraak. Weer eens het die man hoflik verskoning gevra. Toe dit weer gebeur, het die vrou se reisgenoot vir hom gesê dat hy, as hy werklik jammer is, seker sal maak dat die bagasie nie weer teen die vrou stamp nie. Ja, as ’n mens opreg jammer is, behoort jy vasbeslote te wees om nie weer dieselfde fout te maak nie.

As ons opreg is wanneer ons verskoning vra, sal ons erken as ons ’n fout gemaak het, vergifnis probeer verkry en ’n poging aanwend om die skade sover moontlik ongedaan te maak. Die persoon wat veronreg is, moet op sy beurt die berouvolle oortreder geredelik vergewe (Matteus 18:21, 22; Markus 11:25; Efesiërs 4:32; Kolossense 3:13). Aangesien albei partye onvolmaak is, sal pogings om die vrede te herstel, nie altyd glad verloop nie. Nogtans het woorde van berou groot krag om die vrede te help herstel.

Wanneer dit ongepas is om verskoning te vra

Al het die woorde waarmee spyt en berou uitgespreek word, ’n strelende uitwerking en dra dit tot vrede by, sal ’n verstandige persoon nie hierdie uitdrukkings gebruik wanneer dit ongepas is nie. Gestel byvoorbeeld onkreukbaarheid teenoor God is betrokke by die geskil. Toe Jesus Christus op die aarde was, “het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal” (Filippense 2:8). Hy het egter nie verskoning gemaak vir sy oortuigings in ’n poging om sy lyding te verlig nie. En Jesus het ook nie verskoning gevra toe die hoëpriester die volgende van hom geëis het nie: “Ek stel jou onder eed by die lewende God om vir ons te sê of jy die Christus, die Seun van God, is!” Jesus het nie verleë verskoning gevra nie, maar eerder moedig geantwoord: “U het dit self gesê. Maar ek sê vir julle: Van nou af sal julle die Seun van die mens aan die regterhand van krag sien sit en op die wolke van die hemel sien kom” (Matteus 26:63, 64). Om die vrede te bewaar met die hoëpriester ten koste van sy onkreukbaarheid teenoor sy Vader, Jehovah God, het nooit eens by Jesus opgekom nie.

Christene respekteer en eer mense in gesagsposisies. Maar hulle hoef nie verskoning te maak vir hulle gehoorsaamheid aan God en hulle liefde vir hulle broers nie.—Matteus 28:19, 20; Romeine 13:5-7.

Niks sal die vrede versteur nie

Vandag maak ons foute omdat ons onvolmaaktheid en sonde van ons voorvader Adam geërf het (Romeine 5:12; 1 Johannes 1:10). Adam se sondige toestand was ’n gevolg van sy opstand teen die Skepper. Aanvanklik was Adam en Eva egter volmaak en sondeloos, en God het beloof om dit weer vir mense moontlik te maak om volmaaktheid te bereik. Hy sal sonde en al die gevolge daarvan verwyder.—1 Korintiërs 15:56, 57.

Dink net wat dit sal beteken! In sy raad oor die gebruik van die tong het Jesus se halfbroer Jakobus gesê: “As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou” (Jakobus 3:2). ’n Volmaakte man kan sy tong beheer sodat dit nie nodig sal wees om verskoning te vra omdat hy dit verkeerd gebruik het nie. Hy ‘kan sy hele liggaam in toom hou’. Hoe wonderlik sal dit tog wees wanneer ons volmaaktheid bereik! Dan sal daar nie meer dinge wees wat die vrede tussen persone versteur nie. Maar intussen sal dit baie help om die vrede te herstel as ons, wanneer gepas, opreg verskoning vra as ons iets verkeerds gedoen het.

[Voetnoot]

a Dit was heel moontlik weens Paulus se swak oë dat hy nie die hoëpriester herken het nie.

[Prent op bladsy 5]

Wat kan ons uit Paulus se voorbeeld leer?

[Prent op bladsy 7]

Wanneer almal volmaak is, sal niks die vrede versteur nie