Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jesus se geboorte—Hoe en waarom dit gebeur het

Jesus se geboorte—Hoe en waarom dit gebeur het

Jesus se geboorte—Hoe en waarom dit gebeur het

“ONMOONTLIK!” Baie wat nie Christene is nie, sal so reageer as hulle die verhaal oor die geboorte van Jesus hoor. Hulle meen dat dit onwetenskaplik is om te glo dat ’n maagd swanger kon raak en geboorte kon gee aan ’n seun sonder dat ’n menslike vader betrokke was. Wat dink jy?

In 1984 het The Times van Londen ’n brief gepubliseer waarin daar soos volg hieroor geredeneer is: “Dit is nie logies om die wetenskap as ’n argument teen wonderwerke te gebruik nie. Om te glo dat wonderwerke nie kan plaasvind nie, is net soseer ’n daad van geloof as om te glo dat hulle wel kan plaasvind.” Die brief is onderteken deur 14 wetenskapprofessors aan Britse universiteite. Hulle het gesê: “Ons aanvaar geredelik die maagdelike geboorte, die wonderwerke van die Evangelies en die opstanding van Christus as geskiedkundige gebeurtenisse.”

’n Mens kan nogtans verstaan dat iemand ietwat verward sal wees wanneer hy die verhaal van Jesus se maagdelike geboorte die eerste keer hoor. Selfs Jesus se eie maagdelike moeder was verward toe God se engel gesê het: “Kyk! jy sal in jou moederskoot ontvang en aan ’n seun geboorte gee, en jy moet hom Jesus noem.” In reaksie hierop het Maria gevra: “Hoe sal dit gebeur, aangesien ek geen gemeenskap met ’n man het nie?” Die engel het toe verduidelik dat God hierdie wonderwerk deur middel van Sy heilige gees sou verrig en bygevoeg: “By God sal geen verklaring ’n onmoontlikheid wees nie” (Lukas 1:31, 34-37). Die Een wat die ongelooflike proses van menslike voortplanting geskep het, kon tog sekerlik ook bewerkstellig dat ’n kuis maagd swanger raak en geboorte gee aan Jesus. As God die heelal en die fyn ingestelde wette daarvan geskep het, kon hy ook ’n eiersel van Maria gebruik om ’n volmaakte menseseun voort te bring.

Waarom dit nodig was

Die godvresende man Josef was verloof aan Maria toe sy swanger geraak het. In ’n droom het God se engel aan Josef die wonderlike rede verduidelik waarom sy verloofde, ’n maagd, swanger was. Die engel het gesê: “Moenie bang wees om jou vrou Maria huis toe te neem nie, want wat in haar verwek is, is deur heilige gees. Sy sal geboorte gee aan ’n seun, en jy moet hom Jesus noem, want hy sal sy volk van hulle sondes red” (Matteus 1:20, 21). Die naam Jesus beteken in Hebreeus “Jehovah is redding”. Dit herinner ons aan die feit dat redding van sonde en die dood nodig is, sowel as aan Jehovah God se voorsiening vir hierdie redding deur Jesus.

Omdat die eerste man, Adam, gesondig het, is al sy nakomelinge onvolmaak gebore, met ’n neiging om God se wette te verbreek (Romeine 5:12). Hoe kon Adam se nageslag van sonde gered word en volmaaktheid bereik? ’n Ander volmaakte menselewe, met dieselfde waarde as dié van Adam, moes betaal word om die skaal van geregtigheid te balanseer. Daarom het God die wonderdadige geboorte van die volmaakte man, Jesus, teweeggebring, en daarom het Jesus toegelaat dat sy vyande hom doodmaak (Johannes 10:17, 18; 1 Timoteus 2:5, 6). Ná Jesus se opstanding en hemelvaart kon hy met vertroue sê: “Ek het doodgegaan, maar kyk! ek lewe vir ewig en altyd, en ek het die sleutels van die dood en van Hades [die mensdom se gemeenskaplike graf].”—Openbaring 1:18.

Met die figuurlike sleutels van die dood en van Hades open Jesus die weg vir sondige mense om terug te kry wat Adam verloor het. Jesus het verduidelik: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy; en elkeen wat lewe en geloof in my beoefen, sal nóóit sterf nie” (Johannes 11:25, 26). Wat ’n wonderlike belofte! En tog is daar selfs ’n belangriker rede vir Jesus se geboorte.

Die belangrikste rede

Jesus se lewe het nie begin toe Maria met hom swanger geraak het nie. “Ek het uit die hemel neergedaal”, het hy duidelik gesê (Johannes 6:38). Jesus het van die begin van die skepping af saam met sy hemelse Vader in die geesteryk gelewe. Trouens, die Bybel beskryf hom as “die begin van die skepping deur God” (Openbaring 3:14). Jesus het vanuit die hemel die opstand van ’n goddelose engel aanskou wat die eerste mense teen God se heerskappy laat draai het. Dit het aanleiding gegee tot die belangrikste rede waarom Jesus bereid was om as ’n volmaakte menseseun van God gebore te word. Wat was daardie rede?

Dit was om te bewys dat sy hemelse Vader die reg het om oor die heelal te regeer. Deur van sy geboorte tot sy dood op aarde getrou te bly, het Jesus sy gewilligheid getoon om hom te onderwerp aan die manier waarop Jehovah oor Sy skepsele regeer. Voordat hy deur God se vyande om die lewe gebring is, het Jesus duidelik gesê waarom hy bereid is om ’n offerdood te sterf. Hy het gesê dit is sodat die wêreld kan weet dat hy die Vader liefhet (Johannes 14:31). As die eerste twee mense, Adam en Eva, sulke liefde ontwikkel het, kon hulle getrou gebly het onder hulle veel makliker toets.—Genesis 2:15-17.

Jesus se getrouheid het ook die goddelose engel, Satan, as ’n leuenaar aan die kaak gestel. Satan het teen God en die mens gelaster deur voor die engele in die hemel te sê: “Alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe” (Job 2:1, 4, Die Bybel, 1953). Satan het valslik beweer dat alle mense aan God ongehoorsaam sou wees om hulle lewe te red.

Die voorgaande geskille het die regverdigheid en regmatigheid van God se heerskappy in twyfel getrek. Om dit te besleg, was Jesus bereid om as ’n mens gebore te word en tot die dood getrou te bly.

Soos Jesus dus self gesê het, was die vernaamste rede vir sy geboorte op aarde “om van die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). Hy het dit gedoen deur in woord en daad te toon dat God se heerskappy volkome regverdig is en dat onderworpenheid daaraan tot blywende geluk lei. Jesus het ook verduidelik dat hy in die wêreld gekom het om sy menselewe te gee as “’n losprys in ruil vir baie”, sodat sondige mense volmaaktheid en die ewige lewe kan ontvang (Markus 10:45). Om dit vir die mensdom moontlik te maak om hierdie lewensbelangrike kwessies te begryp, was ’n verslag van Jesus se geboorte nodig. Verder bevat gebeure wat met Jesus se geboorte verband hou, ander belangrike lesse, soos die volgende artikel sal toon.

[Prente op bladsy 4]

Hoe kon Adam se nakomelinge van sonde gered word?