Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Hy sal nader aan julle kom”

“Hy sal nader aan julle kom”

“Hy sal nader aan julle kom”

“[God is] nie ver van elkeen van ons af . . . nie.”—HANDELINGE 17:27.

1, 2. (a) Watter vraag vra ons dalk oor die Skepper wanneer ons na die sterrehemel kyk? (b) Hoe verseker die Bybel ons dat mense beslis nie onbeduidend in Jehovah se oë is nie?

 HET dit jou al ooit met verwondering vervul om op ’n helder aand na die sterrehemel te kyk? Die ongelooflike hoeveelheid sterre en die uitgestrektheid van die hemelruim is ontsagwekkend. In hierdie ontsaglike heelal is die aarde maar net ’n spikkeltjie. Beteken dit dat die Skepper, “die Allerhoogste oor die hele aarde”, te verhewe is om besorg te wees oor mense of dat hy te ver en ondeurgrondelik is vir hulle om hom te leer ken?—Psalm 83:18.

2 Die Bybel verseker ons dat mense beslis nie onbeduidend in Jehovah se oë is nie. Trouens, God se Woord spoor ons aan om hom te soek, en sê: “Hy [is] nie ver van elkeen van ons af . . . nie” (Handelinge 17:27; 1 Kronieke 28:9). Ja, as ons stappe doen om nader aan God te kom, sal hy op ons pogings reageer. Hoe? Die woorde van ons jaarteks vir 2003 gee hierdie bemoedigende antwoord: “Hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Kom ons bespreek van die wonderlike seëninge wat Jehovah uitstort op diegene wat na aan hom is.

’n Persoonlike gawe van Jehovah af

3. Watter gawe gee Jehovah aan diegene wat nader aan hom kom?

3 Eerstens het Jehovah se knegte ’n kosbare gawe wat hy aan sy volk gee. Al die mag, rykdom en geleerdheid wat hierdie stelsel van dinge bied, kan ’n mens nie van hierdie gawe verseker nie. Dit is ’n persoonlike gawe, wat Jehovah net gee aan diegene wat na aan hom is. Wat is dit? God se Woord antwoord: “As jy . . . na onderskeidingsvermoë jou stem verhef, as jy daarna bly soek soos na silwer en dit bly naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van Jehovah verstaan, en jy sal die kennis van God vind. Want Jehovah gee wysheid” (Spreuke 2:3-6). Dink net daaraan dat onvolmaakte mense “die kennis van God” kan vind! Hierdie gawe—die kennis wat in God se Woord gevind word—word met “verborge skatte” vergelyk. Waarom?

4, 5. Waarom kan “die kennis van God” met “verborge skatte” vergelyk word? Lig toe.

4 Om maar een ding te noem, die kennis van God het groot waarde. Een van die kosbaarste seëninge wat dit meebring, is die vooruitsig op die ewige lewe (Johannes 17:3). Maar daardie kennis verryk selfs nou al ons lewe. Ons het byvoorbeeld deur ons deeglike studie van God se Woord die antwoorde gekry op belangrike vrae soos: Wat is God se naam? (Psalm 83:18). In watter toestand verkeer die dooies werklik? (Prediker 9:5, 10). Wat is God se voorneme met die aarde en die mensdom? (Jesaja 45:18). Ons het ook geleer dat die toepassing van die Bybel se wyse raad die beste lewenswyse tot gevolg het (Jesaja 30:20, 21; 48:17, 18). Ons het dus betroubare leiding wat ons help om die sorge van die lewe die hoof te bied en ’n weg te volg wat ware geluk en tevredenheid in die hand werk. Bowenal het ons studie van God se Woord ons gehelp om Jehovah se wonderlike eienskappe te leer ken en nader aan hom te kom. Wat kan waardevoller wees as ’n intieme verhouding met Jehovah wat op “die kennis van God” gegrond is?

5 Daar is nog ’n rede waarom die kennis van God met “verborge skatte” vergelyk kan word. Dit is ook, soos met baie skatte die geval is, redelik skaars in hierdie wêreld. Van die aarde se sesmiljard inwoners het sowat sesmiljoen aanbidders van Jehovah, of net omtrent 1 uit 1 000, “die kennis van God” gevind. Om toe te lig wat ’n besondere voorreg dit is om die waarheid van God se Woord te ken, dink aan net een Bybelvraag: Wat gebeur met mense wanneer hulle sterf? Ons weet uit die Skrif dat die siel sterf en dat die dooies van niks bewus is nie (Esegiël 18:4). Nogtans word die valse opvatting dat daar iets in mense is wat ná die dood voortleef, deur die meeste van die wêreld se godsdienste aanvaar. Dit is ’n vername leerstelling van die godsdienste van die Christendom. Dit is ook algemeen in Boeddhisme, Hindoeïsme, Islam, Djainisme, Judaïsme, Sjintoïsme, Sikhisme en Taoïsme. Dink net—miljarde mense word deur hierdie een valse leerstelling mislei!

6, 7. (a) Slegs wie kan “die kennis van God” vind? (b) Watter voorbeeld toon dat Jehovah ons geseën het met insig wat talle “wyse en intellektuele mense” nie het nie?

6 Waarom het meer mense nie “die kennis van God” gevind nie? Omdat ’n mens die betekenis van God se Woord nie ten volle kan verstaan sonder Sy hulp nie. Onthou, hierdie kennis is ’n gawe. Jehovah gee dit net aan diegene wat bereid is om sy Woord met eerlikheid en nederigheid te ondersoek. Sulke mense is dalk nie “in vleeslike sin wys” nie (1 Korintiërs 1:26). Baie van hulle kan volgens die wêreld se standaarde selfs as “ongeleerde en gewone mense” beskou word (Handelinge 4:13). Maar dit maak nie saak nie. Jehovah beloon ons met “die kennis van God” weens die eienskappe wat hy in ons hart vind.

7 Beskou hierdie voorbeeld. Talle geleerdes in die Christendom het al uitvoerige kommentare oor die Bybel geskryf. Hierdie naslaanwerke verduidelik moontlik die geskiedkundige agtergrond, die betekenis van Hebreeuse en Griekse woorde, ensovoorts. Het hierdie geleerdes, met al hulle wysheid, werklik “die kennis van God” gevind? Wel, het hulle ’n duidelike begrip van die tema van die Bybel—die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit deur middel van sy hemelse Koninkryk? Weet hulle dat Jehovah God nie deel van ’n Drie-eenheid is nie? Ons het wel ’n juiste begrip van hierdie dinge. Waarom? Jehovah het ons geseën met insig in geestelike waarhede wat baie “wyse en intellektuele mense” nie het nie (Matteus 11:25). Hoe seën Jehovah tog nie diegene wat na aan hom is nie!

“Jehovah bewaar almal wat hom liefhet”

8, 9. (a) Hoe het Dawid nog ’n seën beskryf wat diegene geniet wat na aan Jehovah is? (b) Waarom het ware Christene Goddelike beskerming nodig?

8 Diegene wat na aan Jehovah is, geniet nog ’n seën—Goddelike beskerming. Die psalmis Dawid, wat self baie teëspoed ondervind het, het geskryf: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep, almal wat hom in waaragtigheid aanroep. Aan die begeerte van dié wat hom vrees, sal hy voldoen, en hulle hulpgeroep sal hy hoor, en hy sal hulle red. Jehovah bewaar almal wat hom liefhet” (Psalm 145:18-20). Ja, Jehovah is naby diegene wat hom liefhet en kan derhalwe vinnig op hulle hulpgeroep reageer.

9 Waarom het ons Goddelike beskerming nodig? Ware Christene ervaar nie net die gevolge daarvan om in hierdie “kritieke tye” te lewe “wat moeilik is om deur te kom” nie, maar hulle is ook ’n spesiale teiken van Jehovah se vernaamste Teenstander, Satan die Duiwel (2 Timoteus 3:1). Daardie listige vyand is daarop uit om ons “te verslind” (1 Petrus 5:8). Satan vervolg ons, oefen druk op ons uit en versoek ons. Hy is ook op die uitkyk na gesindhede in die verstand en hart wat hy kan uitbuit. Hy het een doel voor oë: om ons geloof te verswak en ons geestelik te vernietig (Openbaring 12:12, 17). Aangesien ons teen so ’n magtige vyand moet stry, is dit dan nie bemoedigend om te weet dat ‘Jehovah almal bewaar wat hom liefhet’ nie?

10. (a) Hoe bewaar Jehovah sy volk? (b) Wat is die belangrikste soort beskerming, en waarom?

10 Maar hoe bewaar Jehovah sy volk? Sy belofte van beskerming waarborg nie dat ons ’n probleemvrye lewe in hierdie stelsel sal hê nie; dit beteken ook nie dat hy verplig is om wonderwerke vir ons te doen nie. Jehovah voorsien nietemin fisiese beskerming aan sy volk as ’n groep. Hy sal immers nooit toelaat dat die Duiwel ware aanbidders van die aarde af uitwis nie! (2 Petrus 2:9). Jehovah beskerm ons bowenal geestelik. Hy rus ons toe met wat ons nodig het om beproewinge te verduur en ons verhouding met hom te bewaar. Op die ou end is geestelike beskerming die belangrikste soort beskerming. Waarom? Solank ons ons verhouding met Jehovah het, kan niks—nie eens die dood—ons blywende skade berokken nie.—Matteus 10:28.

11. Watter voorsienings het Jehovah gemaak om sy volk geestelik te beskerm?

11 Jehovah het oorvloedige voorsienings gemaak om diegene wat na aan hom is, geestelik te beskerm. Deur sy Woord, die Bybel, gee hy ons wysheid om allerhande beproewinge die hoof te bied (Jakobus 1:2-5). Dit maak ’n verskil as ons die praktiese raad in die Skrif toepas. Verder gee Jehovah “heilige gees . . . aan dié wat hom vra” (Lukas 11:13). Daardie gees is die sterkste krag in die heelal, en daarom kan dit ons beslis help om enige beproewing of versoeking op ons weg met welslae die hoof te bied. Deur Christus voorsien Jehovah “gawes in die vorm van mense” (Efesiërs 4:8). Hierdie geestelik bekwame manne probeer Jehovah se innige medelye weerspieël wanneer hulle medeaanbidders help.—Jakobus 5:14, 15.

12, 13. (a) Hoe voorsien Jehovah ons van geestelike voedsel op die regte tyd? (b) Hoe voel jy oor Jehovah se voorsienings vir ons geestelike welsyn?

12 Jehovah voorsien ook iets anders om ons te beskerm: geestelike voedsel op die regte tyd (Matteus 24:45). Deur middel van gedrukte publikasies, waaronder Die Wagtoring en Ontwaak!, sowel as vergaderinge en byeenkomste verskaf Jehovah wat ons nodig het wanneer ons dit nodig het. Kan jy aan ’n geval dink toe jy iets by ’n Christelike vergadering of by ’n byeenkoms gehoor het wat jou hart geraak en jou versterk of vertroos het? Het jy al ’n artikel in een van die bogenoemde tydskrifte gelees en gevoel dat dit net vir jou geskryf is?

13 Een van Satan se doeltreffendste wapens is ontmoediging, en ons is nie immuun daarteen nie. Hy weet goed dat langdurige moedeloosheid ons van ons krag kan beroof en ons selfs kwesbaar kan maak (Spreuke 24:10). Omdat Satan negatiewe gevoelens probeer uitbuit, het ons hulp nodig. Die Wagtoring en Ontwaak! bevat van tyd tot tyd artikels wat ons help om ontmoediging die hoof te bied. ’n Christensuster het oor so ’n artikel geskryf: “Ek lees die artikel feitlik elke dag en kry nog steeds trane in my oë. Ek hou dit langs my bed sodat ek dit byderhand kan hê wanneer ek ook al bedruk voel. Deur middel van sulke artikels is dit asof ek Jehovah se beskermende arms om my kan voel.” a Is ons nie dankbaar dat Jehovah ons van tydige geestelike voedsel voorsien nie? Onthou, sy voorsienings vir ons geestelike welsyn bewys dat hy na aan ons is en ons onder sy beskermende sorg geplaas het.

Toegang tot die “Hoorder van die gebed”

14, 15. (a) Watter persoonlike seën gee Jehovah aan diegene wat na aan hom is? (b) Waarom is vrye toegang tot Jehovah in gebed ’n besondere voorreg?

14 Het jy al ooit opgemerk dat mense dikwels minder genaakbaar word namate hulle groter mag en gesag verkry? Maar wat van Jehovah God? Is hy te ver verwyderd om belang te stel in wat nietige mense vir hom sê? Inteendeel! Die gawe van gebed is nog ’n seën wat Jehovah gee aan diegene wat na aan hom is. Vrye toegang tot die “Hoorder van die gebed” is waarlik ’n besondere voorreg (Psalm 65:2). Waarom?

15 Ter toeligting: Die bestuurshoof van ’n groot maatskappy het baie verantwoordelikhede. Hy besluit watter sake hy persoonlik sal hanteer en watter hy aan ander sal toewys. Net so ook kan die Soewereine Heerser van die heelal besluit watter sake hy self sal behartig en watter hy aan ander sal toewys. Dink net aan alles wat Jehovah aan sy geliefde Seun, Jesus, gegee het om te doen. Die Seun is “gesag gegee om te oordeel” (Johannes 5:27). Die engele “is aan hom onderwerp” (1 Petrus 3:22). Jehovah se kragtige heilige gees is tot Jesus se beskikking gestel om hom te help om sy dissipels op aarde te lei (Johannes 15:26; 16:7). Jesus kon derhalwe sê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee” (Matteus 28:18). Maar wanneer dit by ons gebede kom, verkies Jehovah om self daarna te luister. Daarom sê die Bybel dat ons ons gebede net tot Jehovah moet rig en dit in Jesus se naam moet doen.—Psalm 69:13; Johannes 14:6, 13.

16. Waarom kan ons vol vertroue wees dat Jehovah werklik na ons gebede luister?

16 Luister Jehovah werklik na ons gebede? As hy onverskillig of onbesorg was, sou hy ons nooit aangespoor het om ‘vol te hou met gebed’ of om ons laste en sorge op hom te werp nie (Romeine 12:12; Psalm 55:22; 1 Petrus 5:7). Getroue knegte in Bybeltye het volkome vertroue gehad dat Jehovah na gebede luister (1 Johannes 5:14). Daarom het die psalmis Dawid gesê: “[Jehovah] hoor my stem” (Psalm 55:17). Ons het ook alle rede om vol vertroue te wees dat Jehovah naby is, gereed om te luister na al ons gedagtes en bekommernisse.

Jehovah beloon sy knegte

17, 18. (a) Hoe voel Jehovah oor die getroue diens van sy intelligente skepsele? (b) Verduidelik hoe Spreuke 19:17 toon dat ons barmhartige dade nie ongemerk by Jehovah verbygaan nie.

17 Jehovah se posisie as die Universele Soewerein word glad nie geraak deur wat nietige mense dalk doen of weier om te doen nie. Nogtans is Jehovah ’n God wat waardering toon. Hy waardeer die getroue diens van sy intelligente skepsele—ja, dit is vir hom kosbaar (Psalm 147:11). Dit bring ons by nog ’n voordeel wat diegene geniet wat na aan Jehovah is: Hy beloon sy knegte.—Hebreërs 11:6.

18 Die Bybel toon duidelik dat Jehovah waardeer wat sy aanbidders doen. Ons lees byvoorbeeld: “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah, en Hy sal hom vir sy handelswyse beloon” (Spreuke 19:17). Jehovah se barmhartigheid teenoor die geringes is in die Mosaïese Wet weerspieël (Levitikus 14:21; 19:15). Hoe voel Jehovah wanneer ons sy barmhartigheid navolg in ons handelinge met geringes? Wanneer ons aan die geringe gee en niks terugverwag nie, is dit vir Jehovah asof ons aan Hom leen. Jehovah beloof om daardie skuld met guns en seëninge terug te betaal (Spreuke 10:22; Matteus 6:3, 4; Lukas 14:12-14). Ja, wanneer ons medelye betoon met ’n behoeftige medeaanbidder, raak dit Jehovah se hart. Hoe dankbaar is ons tog om te weet dat ons barmhartige dade nie ongemerk by ons hemelse Vader verbygaan nie!—Matteus 5:7.

19. (a) Waarom kan ons daarvan seker wees dat Jehovah waardeer wat ons in die predikings- en dissipelmaakwerk doen? (b) Hoe beloon Jehovah dade wat ter ondersteuning van sy Koninkryk verrig word?

19 Jehovah waardeer veral wat ons ter bevordering van sy Koninkryk doen. Wanneer ons nader aan Jehovah kom, is dit net natuurlik dat ons ons tyd, energie en middele sal wil gebruik om soveel as moontlik in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk te doen (Matteus 28:19, 20). Soms voel ons moontlik dat ons nie veel bereik nie. Ons onvolmaakte hart kan ons selfs laat wonder of Jehovah tevrede is met ons pogings (1 Johannes 3:19, 20). Maar elke gawe—ongeag hoe klein—is kosbaar in Jehovah se oë as dit gegee word uit ’n hart wat deur liefde beweeg is (Markus 12:41-44). Die Bybel verseker ons: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie” (Hebreërs 6:10). Ja, Jehovah onthou en beloon selfs die kleinste daad wat ons ter ondersteuning van sy Koninkryk verrig. Ons geniet nie net nóú ryk geestelike seëninge nie, maar ons kan ook uitsien na die vreugdevolle lewe in die komende nuwe wêreld, waar Jehovah sy hand vrygewig sal oopmaak en die regverdige begeertes sal bevredig van almal wat na aan hom is!—Psalm 145:16; 2 Petrus 3:13.

20. Hoe kan ons regdeur die jaar 2003 die woorde van ons jaarteks in gedagte hou, en met watter gevolg?

20 Laat ons ons dan regdeur die jaar 2003 afvra of ons ons voortdurend daarop toelê om nader aan ons hemelse Vader te kom. As ons dit wel doen, kan ons seker wees dat hy sal doen wat hy beloof het. Trouens, ‘God kan nie lieg nie’ (Titus 1:2). As jy nader aan hom kom, sal hy nader aan jou kom (Jakobus 4:8). En met watter gevolg? Ryk seëninge nou en die vooruitsig om al hoe nader aan Jehovah te kom, tot in alle ewigheid!

[Voetnoot]

a ’n Brief in reaksie op die artikel “Jehovah is groter as ons hart”, in Die Wagtoring van 1 Mei 2000, bladsye 28-31.

Onthou jy?

• Watter gawe gee Jehovah aan diegene wat nader aan hom kom?

• Watter voorsienings maak Jehovah om sy volk geestelik te beskerm?

• Waarom is vrye toegang tot Jehovah in gebed ’n besondere voorreg?

• Hoe toon die Bybel dat Jehovah die getroue diens van sy intelligente skepsele waardeer?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Jehovah het ons geseën met insig in geestelike waarhede

[Prente op bladsy 16, 17]

Jehovah voorsien geestelike beskerming

[Prent op bladsy 18]

Jehovah is naby ons, gereed om na al ons gebede te luister